Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Augustus 2022

Vakbonde staan tussen SA en 'n beter toekoms

Deur dr Theuns Eloff

 

Ons het by die punt gekom waar vakbonde die land in die rigting van anargie dwing, skryf Theuns Eloff op 19 Julie 2022 in Netwerk24. Met die vergunning van Dr Eloff en met erkenning aan Netwerk24 plaas ons graag die volle artikel.  

 

Eskom het begin vandeesmaand vir die eerste keer in  ‘n lang tyd weer fase 6-beurtkrag ingestel, met groot verliese in byna alle sektore van die ekonomie. Dié kragreus het dit ten minste gedeeltelik toegeskryf aan  ‘n onwettige staking van lede van die NUM en Numsa, asook intimidasie van werkers wat wou werk, sabotasie by van die kragstasies en die gevolglike gebrek aan noodsaaklike instandhouding.

 

Nie te lank gelede nie het swaarvoertuigbestuurders ‘n hele aantal nasionale paaie geblokkeer om hul griewe te lug. En verlede week dreig die 23 vakbonde van die privaat-sekerheidsbedryf (hulle is nie deel van Cosatu nie) om ook te staak as die loondispuut wat na die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie (KBVA) verwys is, nie in hul guns beslis word nie.

 

Miljoene gewone Suid-Afrikaners het nou vir die eerste maal aan hul spreekwoordelike basse gevoel wat die uitwerking is van  ‘n onwettige staking by Eskom: donkerte, gebrek aan toegang tot dienste, besighede wat nie kan funksioneer nie, ensovoorts. Die vraag is: Moet Eskom en die energiesektor nie tot  ‘n noodsaaklike diens verklaar word waar werkers nie mag staak nie?

 

Maar raai wat? Die opwekking, transmissie en verspreiding van elektrisiteit is reeds  ‘n paar jaar gelede tot  ‘n noodsaaklike diens verklaar  - en ten spyte daarvan het die werkers van die twee vakbonde nie net begin staak nie, maar veel verder gegaan.

 

Die vakbondbase haal hul skouers op en sê: Ons kan niks daaraan doen as ons lede uit frustrasie met Eskom staak nie. Ons het hulle nie opdrag gegee om te staak nie.

 

Stakings is uit

Die Noodsaaklike Dienste-komitee is ingevolge artikel 70 van die Wet op Arbeidsverhoudinge ingestel en val onder die KBVA. Die komitee bestaan uit verskeie verteenwoordigers uit die regerings-, arbeids- en sakesektor. Dit is hierdie komitee se plig om te bepaal watter dienste as “noodsaaklik” beskou word.

 

‘n Noodsaaklike diens is een waar, ingevolge art 213 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, jy kan aantoon dat  ‘n onderbreking van  ‘n sekere diens die lewe, persoonlike veiligheid of gesondheid van die hele of dele van die bevolking in gevaar kan stel  - of dat daar  ‘n duidelike en onmiddellike bedreiging van lewe, persoonlike veiligheid of gesondheid bestaan.

 

Mense wat hierdie dienste lewer (hetsy in die openbare of privaat sektor) mag nie staak nie, in elk geval nie wettig nie. Dit beteken nie dat hierdie werkers aan hul eie lot oorgelaat word en deur hul werkgewers uitgebuit kan word nie. Enige arbeidsdispute moet na die Noodsaaklike Dienste-komitee verwys word, wat dit deur arbitrasie moet oplos.

 

Maar stakings is uit. Hierdie noodsaaklike dienste sluit ook die Suid-Afrikaanse Polisiediens, gesondheidsinstellings en sekerheidsdienste by ‘n hele aantal instellings (openbaar en privaat) in.

 

Geen sigbare gevolge nie

‘n Ander belangrike perspektief is dat die vakbonde in die openbare sektor (onder die sambreel van Cosatu) lid van die sogenaamde drieparty-alliansie is, wat ook die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) insluit. Tradisioneel was die ANC-regering huiwerig om sy alliansievennoot deur sterk optrede te vervreem.

 

Wat in Eskom se geval gebeur het, is dat NUM en Numsa (wat deel is van Cosatu), die twee grootste vakbonde by Eskom, toegelaat en toegekyk het terwyl hul lede basies ekonomiese sabotasie pleeg deur onwettig te begin staak. Hulle het ook ander werkers wat wou werk (veral lede van die kleiner maar invloedryke vakbond Solidariteit) geïntimideer en verhoed dat hulle kragstasies binnegaan. Party is in kragstasies as gyselaars aangehou en ander is met sambokke aangeval.

 

Volgens die uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, is motors aan die brand gesteek en petrolbomme na die huise van Eskom-bestuurders gegooi. Daar word selfs beweer dat van hulle masjiene en instrumente in die kragstasies met opset beskadig het.

 

Dit het alles gebeur sonder dat daar enige sigbare gevolge vir hierdie misdadigers was. Benewens die feit dat dit ‘n noodsaaklike diens is, is Eskom deel van ons sleutelpuntwetgewing, waar sterk magte aan die owerheid gegee word om op te tree. Die feit dat dit nooit gebruik is nie, spreek boekdele.

 

‘n Spesiale soort selfsug

Die vakbondlede het selfs, blykbaar deur die bemiddeling van pres. Cyril Ramaphosa,  ‘n 7%-verhoging gekry, wat hoër as die huidige inflasiekoers is. Dit lyk nie asof daar enige tugstappe begin is teen enige van die onwettige stakers nie, waarskynlik vanweë druk uit regeringskringe. Eskom beskou die saak as afgehandel.

 

Hierdie werkers se gedrag sou in enige omstandighede onaanvaarbaar gewees het, maar dit word strafregtelik en ekonomiese sabotasie in die omstandighede waar dit deels gelei het tot die instel van fase 6- en fase 4-beurtkrag en die gevolglike skade aan die ekonomie.

 

Die meeste vakbonde wend hulle toenemend tot strafregtelike optrede of optrede wat aan misdaad grens, om werkgewers in onrealistiese en onvolhoubare salarisverhogings in te dwing. Met dié dreigproses steur hulle hulle nie aan die bestaan van noodsaaklike dienste nie. Trouens, een vakbondleier van die Kommunikasiewerkers-vakbond, Aubrey Shabalala, het in 2019 die Noodsaaklike Dienste-komitee daarvan beskuldig dat dit die “regte van werknemers versmoor” deur sekere soorte werk tot noodsaaklike dienste te verklaar. Shabalala het ook gesê dat sommige noodsaaklike dienste nie genoeg mense in diens het nie en dat dit “moeilike omstandighede” vir die werkers sou skep.

 

Teen die salarisvlakke wat vakbondlede in die meeste bedrywe betaal word, is hulle lankal nie meer die ekonomies verdruktes en armes nie, maar deel van die middelklas. Hierdie soort houding oor noodsaaklike dienste weerspieël  ‘n spesiale soort selfsugtigheid en toe-eiening. En in die proses word dit duidelik dat vakbondleiers óf nie beheer oor hulle lede het nie óf toelaat dat hul lede onwettig staak óf albei.

 

Waar is Maggie?

 Dit is ook toenemend duidelik dat, selfs waar stakings wettig is, dit nie meer sonder intimidasie en geweld plaasvind nie. Kollektiewe bedinging (een van die grondslae van Suid-Afrika se arbeidswetgewing) het ook gedwonge kollektiewe stakings, intimidasie en soms geweld geword.

 

Ons het by  ‘n punt gekom waar die vakbonde en hul optrede tussen Suid-Afrika en  ‘n beter toekoms staan, en selfs die land in die rigting van anargie dwing. Dit is in lyn met die optrede van hul alliansievennoot, die ANC. Veral Cosatu, maar ook ander militante vakbonde, moet weet dat as die ANC in 2024 (of op die laatste in 2029) sy regeermag verloor, hulle terselfdertyd hul mag om af te dreig kan verloor. Werkers wat onwettig staak, kan dan gewoon afgedank word en ander wat meer gewillig is om te werk, kan aangestel word.

 

Suid-Afrika het nie  ‘n tekort aan gewillige werkers nie. Daar is ook te veel vakbondlede (met die uitsondering van lede van Solidariteit) wat nie wil werk nie en sal afdreig, geweld pleeg en saboteer om hul sin te kry.

 

Suid-Afrika het dalk nie  ‘n Margaret Thatcher wat die wurggreep van die vakbonde op die ekonomie soos in die sewentigerjare in Brittanje kan breek nie, maar vakbondlede se eie misdadige optrede en die verval van hul alliansievennoot gaan dieselfde uitwerking hê.

 

‘n Naskrif oor Eskom 2.0

Die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, het onlangs voorgestel dat die staat  ‘n tweede “Eskom” moet begin om met die huidige Eskom mee te ding. Miskien moet  ‘n mens dankbaar wees dat die sosialistiese vakbondminister weet wat mededinging is. Maar eintlik kan jy net lag of huil  - of albei.

 

Mantashe wil hê dat Suid-Afrika China se voorbeeld moet volg waar daar vyf nutsmaatskappye is wat inderwaarheid met mekaar meeding. Maar om China in hierdie opsig as voorbeeld te gebruik, grens aan die irrasionele. Dié land het  ‘n twintigjaarplan gehad om dit te doen en die Chinese het  ‘n werksetiek en produktiwiteit waaroor Suid-Afrika net kan droom. China is ook  ‘n totalitêre staat waar geen vakbonde toegelaat word nie en geen werkersregte bestaan nie en dit is (letterlik) lewensgevaarlik om korrup te wees, te steel of sabotasie te pleeg.

 

In China sou  ‘n onwettige staking en sabotasie soos deur die Eskom-werkers hulle hul lewe gekos het. En dit is wat Mantashe voorstel? Daarby het die staat buitendien nie die geld om eens die planne vir Eskom 2.0 op te trek nie.

 

Wat selfs ontstellender is, is dat Ramaphosa hierdie week tydens die SAKP-kongres hierdie voorstel as  ‘n briljante idee geloof het. Hy het wel tydens sy besoek aan Eskom later die week ietwat teruggekrabbel en Eskom steeds as eerste prioriteit beskryf, maar soos gewoonlik was die skade reeds gedoen.

 

In  ‘n onderhoud het Mantashe se sosialistiese onderrok vér uitgehang. Hierdie Eskom 2.0, het hy gesê, is nodig om die staat beheer te laat behou oor elektrisiteitsvoorsiening (die ou anti-privatiseringsgesindheid) en om vir werkers werk te skep (die ou werkskeppingsburo-ingesteldheid). Dit is veelseggende woorde en wys die ware motief agter hierdie voorstel.

 

Nie die land nie, maar die staat en die vakbonde moet die begunstigdes wees. Eskom het reeds 48 000 mense in diens  - en Eskom 2.0 sal nog 50 000 kamerade kan help.

 

Einstein se definisie van waansin is om dieselfde ding oor en oor te doen en verskillende resultate te verwag.

 

*Theuns Eloff is  ‘n onafhanklike kommentator.

 

Lees die artikel aanlyn by Netwerk24 

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/theuns-eloff-vakbonde-staan-tussen-sa-en-n-beter-toekoms-20220718 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: