Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Februarie 2024

Wêreldmoedertaaldag - 21 Februarie


Wêreldmoedertaaldag is ’n dag wat jaarliks wêreldwyd op 21 Februarie gevier word om die bewustheid van taalkundige en kulturele verskeidenheid en veeltaligheid te bevorder.

 

Die tema van die VN se 2023 Internasionale Moedertaaldag, is “Meertalige onderwys – ’n noodsaaklikheid om onderwys te transformeer” wat strook met aanbevelings wat tydens die Transforming Education Summit gemaak is, waar die klem ook op inheemse mense se opvoeding en tale geplaas is.

 

Die ANC met die BELAB wetgewing verstaan nie die noodsaak van moedertaal nie. In sy 2023 viering van Internasionale Moedertaaldag sê die VN: “Veeltalige onderrig gebaseer op moedertaal vergemaklik die toegang tot en insluiting in onderrig vir bevolkingsgroepe wat nie-dominante tale praat of tale van minderheidsgroepe en inheemse tale.”  Vir die ANC beteken die transformasie slegs eentalig Engels. 

 

Internasionale Moedertaaldag is in November 1999 deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) geproklameer. Die idee om Internasionale Moedertaaldag te vier was die inisiatief van Bangladesj. Die VN se Algemene Vergadering het die proklamasie van die dag in sy resolusie van 2002 verwelkom.

 

Op 16 Mei 2007 het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies in sy resolusie A/RES/61/266 'n beroep op lidlande gedoen "om die bewaring en beskerming van alle tale wat deur mense van die wêreld gebruik word, te bevorder". Deur dieselfde resolusie het die Algemene Vergadering 2008 as die Internasionale Jaar van Tale geproklameer, om eenheid in diversiteit en internasionale begrip te bevorder, deur veeltaligheid en multikulturalisme en het die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie aangewys om as die hoofagentskap vir die Jaar te dien. .

 

Vandag is daar volgens die VN ʼn internasionaal groeiende bewustheid dat tale 'n belangrike rol speel in ontwikkeling, in die versekering van kulturele diversiteit en interkulturele dialoog. Dit bevorder ook in die versterking van samewerking en die verkryging van kwaliteit onderwys vir almal, in die bou van inklusiewe kennissamelewings en die bewaring van kulturele erfenis.

 

Volgens Afrikaans.com is daar die volgende voordele van moedertaal.

 

‘n Wêreldperspektief

UNESCO (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) ondersteun moedertaalonderrig, want:

  • Deur moedertaalonderrig word die gehalte van onderrig verbeter omdat voortgebou word op bestaande kennis en ondervinding wat uiteindelik lei tot akademiese sukses.
  • Lande wat moedertaalonderrig bevorder, is oor die algemeen meer welvarend.
  • ’n Veeltalige nasie baat by die diversiteit, omdat elke taal bydra tot ’n gedeelde toekoms.
  • Studeer jy in jou moedertaal, is die kanse dat jy verder gaan leer en sukses gaan behaal, soveel groter.
  • UNESCO (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) ondersteun byvoorbeeld moedertaalonderrig as metode waarop die gehalte van onderrig verbeter kan word deur voort te bou op die kennis en ondervinding van leerders en onderwysers – om die rede ondersteun UNESCO ook dat moedertaalonderrig vir so lank as moontlik voortgesit moet word ter bevordering van leerders se akademiese loopbane.
  • Lande wat moedertaalonderrig bevorder is oor die algemeen meer welvarend. Die rede hiervoor is dat leerders wat moedertaalonderrig geniet, gewoonlik meer sukses behaal. Dit bevorder dus die ekonomiese potensiaal van ʼn land se arbeidsmag en so word die ekonomie bevorder.
  • Elke taal, insluitend Afrikaans, beskik oor die vermoë om kennis en insig wat oor generasies verwerf is, oor te dra. ʼn Nasie wat uit verskillende moedertaalsprekende gemeenskappe bestaan, baat as geheel by die diversiteit, omdat elke moedertaal eie insigte, standpunte en idees kan bydra tot die nasionale debat oor die skep van ʼn gedeelde toekoms. Dr. John Waiko, minister van onderwys in Papoea-Nieu-Guinee, het in dié verband gesê: “Our greatest national resource is the diversity of cultures in our country. Diversity means more viewpoints to clarify, more ways of solving problems, more creative ideas, a greater ability to deal with change … Where diversity is crushed … the nation becomes weak and divided.”
  • Mense wat in hulle moedertaal studeer, hou gewoonlik langer aan studeer en behaal meer sukses met hulle studies as leerders wat in ʼn tweede taal studeer. http://www.peace-ed-campaign.org/17-ways-education-influences-the-un-sustainable-development-goals/


Identiteit

  • Moedertaal bevorder leerders se identiteitsvorming en -besef.
  • Moedertaal bevorder ’n positiewe selfbeeld en gesonde selfvertroue.
  • Moedertaal is ’n integrale deel van die individu se persoonlike, sosiale en kulturele identiteit. Individue se gewoontes, optrede, waardes, deugde, gebruike en oortuigings word daardeur beïnvloed. Moedertaalonderrig bevorder dus leerders se identiteitsvorming en -besef.
  • Deur moedertaalonderrig leer die jeug om hulle kultuur en erfenis te waardeer, wat bydra tot ʼn positiewe selfbeeld en gesonde selfvertroue. Laasgenoemde het weer beter klasdeelname tot gevolg.

 

In die werksplek

  • Meertaligheid dra by tot sukses in die werksplek en hoër intellektuele ontwikkelingsvlak.
  • Afrikaanse leerders is gewoonlik ook vaardig op hoëfunksievlak in Engels wat hulle ‘n mededingende voordeel gee – ook internasionaal.
  • Moedertaalonderrig bevorder sosiale en professionele kontak met ander moedertaalsprekers.
  • Hoe langer mense ononderbroke in hulle moedertaal studeer, hoe hoër is hulle intellektuele ontwikkelingsvlak.
  • Omdat moedertaalonderrig leerders se luister- en begripsvaardighede verbeter, versterk dit ook hulle linguistieke ontwikkeling, redenasie- en probleemoplossingsvaardighede.
  • In die werksplek is meertaligheid ’n meer gesogte vaardigheid as vlotheid in slegs een taal, byvoorbeeld Engels. Afrikaanse leerders is gewoonlik ook vaardig op hoëfunksievlak in Engels, terwyl leerders wat slegs in Engels studeer, soms wel vaardig in Afrikaans is, maar meer op sosiale vlak as op hoëfunksievlak. Dit gee aan die moedertaalleerder ʼn kompeterende voordeel – ook in die internasionale werksveld.

 

Veeltaligheid

  • Dis makliker vir leerders om kennis wat hulle in moedertaal verwerf het, na tweede, derde en meer tale oor te dra, as andersom.
  • Abstrakte konsepte in moedertaal is makliker verstaanbaar en oordraagbaar na ander tale omdat kognitiewe ontwikkeling met moedertaal verhoog word.
  • Moedertaalonderrig versterk ook verder leerders se vermoë om nuwe woordeskat aan te leer – nie net in die moedertaal nie, maar ook in alle ander tale wat mettertyd bygeleer word. Dit is vir leerders makliker om kennis wat in hulle moedertaal verwerf is, na tweede, derde en meer tale oor te dra as wat dit is om kennis van ’n tweede taal na die moedertaal oor te dra.
  • Leerders se kognitiewe ontwikkeling verhoog met moedertaalonderrig. Abstrakte konsepte word verder die maklikste in moedertaal verstaan – wanneer leerders konsepte in hulle moedertaal leer verstaan, is dit nie nodig om dit van voor af in ander tale te leer nie: die begrippe word outomaties na ander tale oorgedra.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: