Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Augustus 2022

Woord deur die Voorsitter

Deur Dries Wiese (Voorsitter van die Nasionale Raad)

 

Dit is inderdaad interessante en uitdagende tye waarin ons leef. Pas het die president, na sy gebruiklike verskoning dat die swak kragsituasie te wyte is aan kolonialisme en apartheid,  nuwe planne aangekondig om Suid-Afrika se energiekrisis die hoof te bied. Dit na meer as ʼn maand van beurtkrag wat verdere skade aan ʼn reeds brose ekonomie tot gevolg het. Alhoewel ons hoop dat die planne geïmplementeer kan word en dat die positiewe reaksie tot Solidariteit se hulp met die beskikbaarstelling van kundigheid vrugte sal afwerp is regeringsbeleid nog sodanig dat dit ernstige kommer wek.

 

Helen Zille skryf in haar boek #StayWoke oor die ernstige gevolge van regstellende aksie by Eskom wat in die vroeë jare 2000 by Eskom gebeur het in die toepassing van transformasie. Sy haal ʼn Financial Mail onderhoud met Mev Mpho Letlape aan wat op daardie stadium Eskom se Menslike Hulpronbestuurder was. Haar werk het ondermeer behels om twee persone per dag vir die volgende vyf jaar aan te stel waarvan die gestelde teiken was dat een van die twee ʼn swart vrou moes wees. Daar word dan verder melding gemaak van die dringende behoefte by Eskom om 45 ingenieurs, 24 tegnici, 20 bourekenaars en 25 aankopers aan te stel. Aangesien die poste nie gevul kon word want aansoekers het nie aan transformasieteikens voldoen nie is 300 swart Amerikaners in 2006/07 aangestel en geregistreer as Suid-Afrikaners in Eskom se boekhouding. Dit is maar een voorbeeld van die ernstige gevolge van beleidsraamwerke en die impak op Eskom.

 

Te gereeld word die verlede ook blameer vir die kragprobleme van vandag. Prof Christo Viljoen afgetrede professionele ingenieur en ’n voormalige lid van die Elektrisiteitsraad (tans Eskom-raad) en die Elektrisiteitsbeheerraad (tans Nersa) skryf soos volg in Februarie 2015 in die AB Nuusbrief:  “Aan die einde van die apartheidsera in 1994 was Eskom se opwekvermoë 37,6 GW. Indien daardie opwekvermoë behou is en vandag beskikbaar was, sou ons nie die huidige kragonderbrekings ondervind het nie. Reeds in 1998 het die Witskrif op Energie 'n elektrisiteitstekort teen 2007 voorspel. Eskom se eie ingenieurs het bereken dat die netwerk teen 1,2 GW per jaar (die ekwivalent van een nuwe Koeberg-kernkragsentrale elke 18 maande, of een nuwe Kriel-grootte steenkoolkragsentrale elke 3 jaar) uitgebrei sal moet word. Die ANC-kabinet (met Penuell Maduna as minister van minerale en energie) se reaksie was om ‘n moratorium op Eskom te plaas om nuwe kragsentrales te bou (in die vergeefse hoop dat die privaat sektor dit sal doen, wat toe nooit gebeur het nie); die moratorium is eers ses jaar later opgehef. Gedurende hierdie sesjaartydperk was daar geen langtermynbeplanning nie en die meeste van Eskom se beplanningsingenieurs het bedank en geëmigreer.” 

 

Die president het op 25 Julie 2022 ʼn Nasionale Energie Krisis Komitee saamgestel wat vanuit die presidensie al die departemente en entiteite saamvoeg wat elektrisiteit moet voorsien. Dit is niks nuut nie en herinner sterk aan ʼn soortgelyke taakspan van 2008 waarop ons soos volg gereageer het.

Reeds veertien jaar gelede op 30 Januarie 2008 en tydens die vorige kragkrisis in Suid-Afrika het voormalige AB voorsitter, prof Piérre Theron die volgende brief aan voormalige President Thabo Mbeki gestuur in reaksie op die aankondiging van die regering se nood-taakspan:  

 

"Hierdie nasionale krisis (2008) verg egter buitengewone stappe. Ons is nie oortuig daarvan dat die regering al die vaardighede en kundigheid in eie geledere het om hierdie krisis aan te spreek nie. Aangesien die Afrikanerbond die belange van ons land sowel as die mense van Suid-Afrika voorop stel is ons voorstel dat u dringend ‘n Buitengewone Nasionale Elektrisiteit Nood Taakspan saamstel om spoedeisend te kan handel met die krisis.

 

Alhoewel die regering teenwoordig moet wees op die Buitengewone Taakspan is daar mense buite die regering wat meer as gereed staan om met die nodige kundigheid en ervaring die krisis te help aanspreek. In die kundigheidspoel wat vir Suid-Afrika beskikbaar is, is daar afgetrede Eskom ingenieurs, voormalige senior bestuurders by Eskom, afgetrede elektrisiteitsopwekking en kragnetwerk verspreiding kundiges, kernkrag spesialiste en uiters knap en kundige spesialiste in verwante bedrywe wat opgeroep kan word om in so ‘n Buitengewone Taakspan te dien. Hierdie mense het ‘n kollektiewe poel van talent, kundigheid en ervaring wat wag om gemobiliseer te word tot voordeel van Suid-Afrika.

 

Die verwysingsraamwerk vir die samestelling van so ‘n Buitengewone Taakspan kan insluit:

  • Hersien, evalueer en dui rigting aan vir beleid oor die hantering van die Nasionale Energie Krisis;
  • Ondersteun Eskom om medium na langtermyn projekte te identifiseer;
  • Steun op internasionale en plaaslike ervarings om die krisis op te los;
  • Identifiseer die vaardighede wat nodig is in die medium tot langtermyn en maniere om hierdie vaardighede na Eskom te lok;
  • Ondersteun die regering om innoverende wyses te ondersoek waarop die krisis die hoof gebied kan word;
  • Oorweeg die gebruik van toepaslike en volhoubare tegnologieë;
  • Verskaf advies oor die optimale benutting van Suid-Afrikaanse opleiding instellings om die nodige onderbou te verskaf met menslike hulpbron ontwikkeling (met voor sowel as nagraadse vakke en kortkursusse) en toepaslike tegnologiese navorsing.

 

Indien u bereid is om so ‘n voorstel te oorweeg sal die Afrikanerbond behulpsaam wil wees met die voorsiening van name van individue wat na ons oordeel oor hierdie vaardighede beskik. Hierdie name sal aan u gestuur word vir oorweging.”

 

Op hierdie skrywe het die regering nie gereageer nie en is goedbedoelde advies en hulp in die wind geslaan. As ons dus skepties staan is dit as gevolg van vorige ervaring.

 

Daar is nuwe winde wat waai in Suid-Afrika rondom die politieke omgewing en in aanloop tot die 2024 verkiesing. Koalisiepolitiek is veral meer op die voorgrond en ook hiervan kan ons nie ontsnap nie. Inteendeel as ʼn Afrikanerbelange organisasie moet ons betrokke raak in die kwessies wat Afrikaners se belange direk raak. Al meer word ‘n toekoms voorsien van ‘n groepering wat bymekaar kom van diegene wat werklik goed bedoel met ons land en sy mense. Dit moet gaan oor kultuurgroepe heen, dit moet gaan oor rassegroepe heen en dit moet oor meer gaan as gevestigde belange.   Ons sal ook aandag moet gee hieraan en is ons reeds proaktief besig met verskeie aksies. Hierop is ons reeds ook besig met herposisionering en hoop ons om ons lede se betrokkenheid en deelname te kry.

 

Die verslapping van wetgewing en voorwaardes om hernude energie te ontwikkel en aan Eskom te lewer skep wonderlike sake-geleenthede deur innovasie en ontwikkeling en behoort deeglik deur ons AB-lede ondersoek te word. Daar moet ook kennis van geneem te  word dat alle munisipaliteite wie van Eskom elektrisiteit  aankoop en versprei onder druk gaan kom soos wat huis en besigheidseienaars hul eie krag ontwikkel. ‘n Belangrike bron van inkomste vir daardie munisipaliteite gaan verdwyn en die gevolge kan nie anders as om verdere verswakking in dienslewering tot gevolg te hê nie. Broers moet die tendens dophou en vroegtydig pro-aktief planne maak en optree.

 

In Augustus 2022 staan ons aan die vooraand van ons Bondsraad wat 15-16 September 2022 by die Voortrekkermonument gehou sal word. Al ons lede het reeds inligting ontvang en stuur ons eersdaags meer besonderhede.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: