Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Desember 2022

Woord deur die Voorsitter  - Sekerheid midde in onsekerheid


Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad


Toe mnr Cyril Ramaphosa in 2018 president van Suid-Afrika geword het, was ons soos baie ander in ʼn gees van optimisme vasgevang. Die dekade voorafgaande was rampspoedig vir Suid-Afrika op vele wyses. Onder mnr Zuma se leierskap het die toepassing van onder andere ekonomiese beleid gelei tot groter armoede, werksverliese, sosiale afhanklikheid, landelike en grondverval, outokratiese en eensydige manipulasie van eens trotse staatsinstellings en bowenal enorme staatskorrupsie. Die belangrikste maatstaf waaraan die Afrikanerbond die era kon meet was die blatante vertrapping van die grondwetlike regte van kulture en minderhede, waarvan taal seker die belangrikste is. Talle kere is waarskuwings hieroor as alarmisties en rassisme afgemaak.

 

Ons het werklik gehoop dat mnr Ramaphosa weer nuwe hoop aan alle Suid-Afrikaners sal bring wat betref grondwetlike drome, hoop en verwagtinge. Ons weet dat Suid-Afrika soveel meer potensiaal en belofte het as die gehawende en geplunderde land onder die Zuma bewind.  

 

Mnr Rampahosa het alles gehad wat nuwe leierskap in enige land nodig het. Hy het ondersteuning uit ʼn wye spektrum in die burgerlike samelewing en besigheid ontvang. Daar was ʼn gees van vertroue en respek vir mekaar se standpunte. Bowenal was daar ʼn wil om mekaar tegemoet te kom en mekaar te probeer vind tussen die probleme en uitdagings van die tyd. Ons het vertrou dat mnr Ramaphosa die man is wat die talente en vaardighede van alle Suid-Afrikaners sal erken, respekteer en bevorder.

 

Telkens het mnr Ramaphosa egter teleurgestel en die welwillendheid wat hy aan die begin ontvang het met sy presidentskap vervreem. Mnr Ramaphosa en sy raadgewers kon duidelik nie die gemoed en die tekens van die tye lees soos wat ʼn staatsman dit behoort te doen nie.

 

Die President se aanhoudende ongeërgdheid en afwysende standpunte oor plaasmoorde het die weg begin baan vir vervreemding. Op 16 Desember 2019 verwys die President na Afrikaners se voorsate as indringers. Die optrede en uitsprake op Versoeningsdag waartydens Afrikaners ook Geloftedag vier, was ongevraagd. Goedbedoelde advies na sy kantoor is geïgnoreer.

 

Met die ontvangs van die Zondo verslag in Junie 2022 het die Afrikanerbond in ʼn ope skrywe gesê dat die president moet kies tussen die disfunksionele ANC-alliansie en onbekostigbare party-eenheid aan die een kant, en 'n suksesvolle en welvarende Suid-Afrika aan die ander kant. Wanneer dit kom by die redding van hetsy die ANC-alliansie of die land, kan die president nie albei doen nie. Daardie keuse is egter gemaak want tot dusver was daar geen sprake van enige daadwerklike aksie teen enige ANC ampsdraer nie.

 

By ons Bondsraad in September 2022 het ek reeds frustrasie te kenne gegee met President Ramaphosa en het ek gesê dat sy leierskap tot dusver teleurstellend was. ʼn Goeie fondasie is gelê met sy teenwoordigheid by ons Eeufees. Ons goeie bedoelinge is aan hom oorgedra. Ten spyte van mooi woorde en beloftes in 2018 het die president nie sy ondernemings gestand gedoen nie. Ek het tydens die 2022 Bondsraad gesê dat Suid-Afrika na my mening op ʼn veel slegter plek is as in 2018 en het die President deur sy eie optredes en verdelende uitsprake eintlik die enorme potensiaal afgebreek en gemeenskappe gepolariseer het.

 

Ons waarskuwing in Junie 2022 is opnuut geïgnoreer. Suid-Afrika is op ʼn verwoestende mallemeule wipwarit die laaste paar dae. Mnr Ramaphosa is immers Suid-Afrika se president maar hy hou die Suid-Afrikaanse publiek in die duister. Die enigste kommunikasie tot dusver was van die ANC se leierskap. Dit is duidelik dat mnr Ramaphosa nie dink aan die gevolge van Phala Phala vir die land nie maar slegs oor sy status in die ANC. ʼn Duidelike keuse is dus gemaak ten gunste van die ANC. ʼn Vinnige internet soektog na die kwaliteite van ʼn staatsman soos beskryf deur verskillende internasionale bronne en soos geneem uit eeue se ervaring dui op vaste beginsels` waaronder eerlikheid en integriteit, ʼn morele kompas, ʼn duidelike visie en die vermoë om ʼn algemene konsensus te bou ter bereiking van die visie. Waar ons vandag staan voldoen mnr Ramaphosa se presidentskap maar skraps aan elkeen van die vereistes.

 

Ander kommentators beskryf ook die presidentskap as ʼn teleurstelling en beskryf dit dan dat President Ramaphosa se leierskap minder is as wat die land benodig, maar waarskynlik die beste is wat die ANC het om aan te bied. Dr Lindie Koorts skryf op 5 Desember in Beeld “Ramaphosa het ons nooit in sy vertroue geneem nie, wat dit onmoontlik maak om sy eerbaarheid te peil. Ons kan net aannames maak en probeer om die ‘mins ergste’ opsie uit ʼn stel korruptes kies.”  In soortgelyke trant is Die Burger en Beeld se redaksionele kommentaar op 5 Desember dat Ramaphosa se “enigste geloofwaardige keuse om vir eens die land en sy grondwetlike instellings in sy vertroue te neem oor die feite. Anders is dit net ʼn kwessie van tyd voor die oorwig van werklikhede hom gaan dwing om te bedank.”

 

Dit is die mees verstommendste waarneming in enige gesprek deesdae. Ons is teleurgesteld met mnr Ramaphosa en dink hy is nie eerlik oor die hantering van die Phala Phala kwessie nie. Telkens kom die vraag egter “maar wie anders?” Op die vraag is daar verskillende moontlikhede maar elkeen is gevul met ‘n nog erger scenario. Tydens ons laaste vergadering van die Nasionale Raad het ek gepraat oor die bedenklike situasie in die land. Ons sit in ʼn ondenkbare situasie waarin Suid-Afrika homself bevind. Ons wil nie daaroor dink of praat nie. Maar in die evaluering van die makro omgewing het die ondenkbare reeds in die land gebeur.

  • Ons is tov moraliteit bankrot. Ons praat nie meer van ʼn falende regering nie, maar ʼn falende land.
  • Noem maar op, die Landbank, Krygkor, die Poskantoor, SAL, ESKOM. As mens al die skuld op die balansstate van die Staatsondersteunde entiteite in ag neem, is die land tegnies finansieel bankrot.
  • Ons weet mos ook as  ons die land operasioneel moet evalueer dan is ons in die opsig ook bankrot. Lees hierin Eskom, Prasa, SAL, Poskantoor ens.  Dienslewering stort  totaal in duie. Die land werk eenvoudig nie meer nie  

 

Maar dit is ook so dat krisis in ʼn land geleenthede bring. Daarom moet ons standpunte inneem en help. Ons kan deur uitlewing van Afrikanerskap ook andere weer inspireer.  Ons is oplossingsgerig besig om te soek na antwoorde., ook op staatkundige vlak. In Afrikaner geledere het ons die reg om met mekaar te verskil maar dan het ons ook die verantwoordelikheid om oplossings te soek.

 

Verlede week was ek en die hoofsekretaris in ʼn gesprek met ander Afrikanerleiers. Ons hoop om in die komende vier maande meer te kan sê oor die aansluitende samewerking waarmee verskillende Afrikaner organisasies, individue en netwerke besig is en saamwerk aan ʼn gemeenskaplike visie vir Afrikaners, ‘n Afrikaner Manifes! Die gesprek het vir my egter weer hoop gegee dat Afrikaners mekaar wel kan vind en dat ons bymekaar aansluiting kan vind in ʼn gees van respek vir gemeenskaplike ruimtes en individuele aksies en programme as antwoorde op die baie uitdagings. Ons lede hoef nie meer in onsekerheid te wees oor ons bestaansreg of waarmee ons dan besig is nie. Ons het by die 2022 Bondsraad duidelikheid verkry oor die Afrikanerbond wat optree as ‘n Afrikaner belange organisasie. Ons het ook duidelikheid daaroor dat ons Christen-demokraties begrond is en daarom kan werk in eie en nasionale belang. Daarom kan die Afrikanerbond deur sy netwerke ‘n brugbouer en fasiliteerder in gemeenskappe wees. Ons sien uit na die toekoms waarin Afrikaners met ʼn gemeenskaplike visie saam ʼn verskil kan maak.

 

Dankie aan die lede van die Nasionale Raad wat waarlik vanjaar ‘n leierskapsrol vervul het, ons Christiaan de Wet Fonds se direksie asook lede en ons FINKOM wat ons finansies so gesond bestuur. Laastens aan ons Hoofsekretaris en Finansiele/admin beampte wat hul ook weereens uitstekend van hul taak gekwyt het ‘n groot dankie. Saam met ons personeellede het almal die jaar weer groot persoonlike opofferings gemaak vir ʼn saak waarin ons onvoorwaardelik glo. Aan elke lid van die AB wat die AB uitleef deur die onderskeie netwerke ons opregte dank. Dit is die AB in aksie.

 

Ook aan al ons diensverskaffers en medewerkers baie dankie.

Laastens kan ons ons visiere met groot opgewondenheid in 2023 stel op eksplisiete Afrikaner Leierskaps Eenheid deur middel van ‘n Afrikaner Manifes, ‘n werkbare Meesterplan vir Afrikaners en ‘n Verteenwoordigende Afrikanerliggaam wat ons strewes en drome eensgesind en gefokus bevorder en najaag! Alles binne die AB se goue formule van Eie maar ook Nasionale Belang.

 

 

Dit is dan nou ʼn besondere voorreg om u elkeen namens die Nasionale Raad van die Afrikanerbond, myself en my eggenote Charlotte ʼn geseënde Kersfees toe te wens. Mag hierdie Christusfees opnuut vir elkeen van u en u familie gevul wees met vrede, liefde en seën. Dit is hiermee ook ons opregte wens dat 2023 voorspoedig sal wees vir ons land en sy mense.

 

Aan Hom wat ons beskerm en bewaar het kom al die lof en eer toe

 

Geseënde Christusfees!

 

Wees Sterk 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: