Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Februarie 2022

Woord deur die Voorsitter  -  Skep 'n jaar van Hoop


Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad

 Die eerste maand van 2022 is reeds weer verby en kan ons nie praat van ʼn stil Januarie nie. Ons het vroeg in die jaar die brand by die Parlement gehad en ook die eerste van drie verslae deur Adjunk Hoofregter Zondo se bevindinge oor staatskaping. Daagliks word nuwe korrupsie ontbloot en ten einde politieke punte aan te teken word die Afrikaner-Broederbond se werkswyse by die huidige kaderontplooiing ingesleep. Die reaksie uit Die Eike het die feite uitgewys en ongekende en positiewe reaksie uitgelok.

 

Wat wag vir ons in 2022?  ʼn Honderd jaar gelede was omstandighede droewig. Ons lees in Prof Ernst Stals se boek oor die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond oor die groot en betekenisvolle staking van Randse mynwerkers vanaf Januarie tot Maart 1922, waartydens byna 5000 mense (hoofsaaklik Afrikaners) in hegtenis geneem en ’n aantal ter dood veroordeel is, en duisende hulle werk verloor het. Midde in dit alles het die Afrikaner-Broederbond egter hoop vir Afrikaners gebied en gewerk aan die ekonomiese bemagtiging van Afrikaners. Alhoewel dit eers etlike jare later sou volg was die heil van die Afrikaner en die groei van die organisasie in die tyd ʼn prioriteit 

 

Ons moet hoop hou al is dinge hoe negatief in ons land. Afrikaners neem elke dag leiding en bou en fasiliteer en skep en gaan kreatief om met die uitdagings van die tyd. Dit sien ons op alle lewensterreine en dit stuur ʼn positiewe boodskap uit. Dan is dit geen wonder dat ons geskiedenis telkens deur politieke opportuniste aangehaal word en verdag gemaak word. Dit is opmerklik dat die weerstand hierteen al hoe groter word. Wat meer verbasend is, is dat hoe meer dinge in Suid-Afrika skeefloop en daar nie aanspreeklikheid is nie, hoe meer word die verlede betrek. So al asof regverdiging gesoek word vir vandag se vergrype.

 

 Afrikaners staan vandag aan die ontvangkant van soveel dinge wat skeefloop midde in die ANC se inploffing. Die land word gyselaar gehou en lamgelê deur faksies en die interne ANC dinamika en prosesse. Die leierskap veg vir oorlewing en dit speel uit in elke sfeer van die samelewing. Dan is daar nog die oorblyfsels van die uitgediende ideologie.  Regstellende Aksie, kwotas, rasgebaseerde onteiening, Swart ekonomiese bemagtiging, ontwapening, verwerping van Afrikaans as ‘n akademiese en regstaal asook selfs nou as inheemse taal en midde in dit alles word die verlede steeds as kapstok gebruik. Hoe meer ons met die teerkwas bygekom word hoe sterkter word ons in ons identiteit en hoe duideliker word die durf en die vasberadenheid. Is dit nie ironies nie?   

 

Ek het toe ek in Februarie 2020 voorsitter geword het gepleit dat ons die virtuele wêreld al meer moet betree. Ons kategorie van lede wat die meeste groei is nie meer by Afdelings of gebiede ingeskakel nie maar in ons buitelede. Ons virtuele lid afdeling wat elkeen op hulle eie ʼn verskil maak, maar virtueel ingeskakel is by die AB. Dit is waarin ons toekoms al meer gaan uitkristaliseer. Ons moet nou met die besondere werklikheid ook meer kreatief omgaan. Terwyl ons op afdelingsvlak verminder  is daar weekliks aanlyn en e-pos aansoeke om lidmaatskap. Op afdelingsvlak moet ons asseblief weer mooi en deeglik na waarskynlike applikante kyk. Dit kan mos nie wees dat die huidige AB lede, die enigste Afrikaners is wat vir lidmaatskap kwalifiseer nie! Ons moet en is tans besig onder leiding van Br Louis du Plessis om weer na ons werwing en waardepakket kyk wat die AB aan nuwe en ook bestaande lede bied.  Die kwessie van lidmaatskap en werwing sal ons ook in die September Bondsraad deeglik moet bespreek want die AB is immers ʼn netwerk lede-organisasie. U organisasie!

 

Daar was reeds in die verlede gepraat van kundigheidselle in die Afrikanerbond en is die netwerk van netwerke ook al geopper. Beide hierdie gedagtes moet verder ondersoek en geplooi word. Kan u dink aan die potensiaal van ʼn virtuele netwerk van Afrikaners rondom ekonomiese ontwikkeling en die kommersiële voordele hieraan verbonde?  Is so ʼn netwerk nie die oplossing waarin vaardighede, sakegeleenthede asook behoeftes met mekaar gedeel kan word nie? Kan u dink aan die potensiaal van ‘n geskikte nuttigheidsvoertuig waarin lede ook kan deel deur middel van die uitreik van aandele wat uiteindelik ook ‘n nuwe kontantstroom vir die AB kan skep? Dalk as begin so ‘n nuwe Afrikaner Volksbeleggings maatskappy stig waar lede met mekaar kan skakel en die AB ontvang self ‘n suksesfooi uit transaksies gesluit. Vertroulikheid kan steeds deur ‘n verhandelingskamer in die Eike geskied met slegs u lidnommer as verwysing alternatiewelik ‘n registrasie nommer soos by die kitskos uitlate.   

 

Die idee van 'n besigheidsnetwerk is niks nuut nie en is reeds vantevore in die AB bespreek. ʼn Besigheidnetwerk onder 'n kultuurgroep van mense is nie nuut nie. Die Jode, Grieke, Chinese en Italianers doen dit reeds met groot sukses, veral waar hulle in vreemde lande woon. Die verskil is net dat ons in ons eie land as vreemdes geag word. So ʼn netwerk kan die voordeel inhou dat in die netwerk vasgestel kan word of dienste, vaardighede, produkte ensovoorts in eie geledere beskikbaar is. Ek wil u nooi om te praat en te besin oor die moontlikhede hiervan. Die potensiaal is enorm. Gee asseblief aan die Eike u verdere gedagtes of kommentaar deur. Die tyd het aangebreek dat ons ons Netwerk ook produktief in die markplek kan en moet benut.

 

Verskeie munisipaliteite het na die plaaslike regering begin werk in koalisies. Dit is waarin ons die oplossing moet soek vir ons eie situasie in die land. Ons hoop is in die breë burgerlike samelewing en begrond in die Christen-Demokratiese beginsels wat ons in 2018 by die Bondsraad aanvaar het. Afrikaners moet opnuut die geleentheid van dialoog aangryp want ons kan en ons moet mede-Afrikaners kan inspireer,  kan saamwerk met mede Afrikane en ook met mede-taalgenote en  mede-geloofsgenote tot voordeel van ons land. Afrikaners is die brugbouers van ons land. Dit het ons geskiedenis ons oor en oor bewys.

 

My ervaring die laaste paar jaar is dat die Afrikanerbond se openbare beeld al meer verbeter. Die lede van die AB moet wys deur woord en daad dat ons niks het om oor skaam of verleë te wees nie. Staan op vir die waarheid en wees trots Afrikaner. Kom ons skud die juk af wat deur andere in hulle eie verleentheid om ons gehang word en wees die dinamiese Afrikaners en Suid-Afrikaners wat ons is en kan wees.

 

Persoonlik sien ek in 2022 uit na ‘n Afrikanerbond waar ons lede, op verskillende vertroulike wyses, hul bydraes met integriteit in elke afdeling, elke dorp en elke gemeenskap kan lewer. So leef ons Afrikanerskap uit en speel ʼn positiewe rol in Suid-Afrika. Kom ons stap verby die negatiewe dinge wat Suid-Afrika op soveel wyses beïnvloed. Dit kan ons doen deur eerlik en openhartig met mekaar te praat, te dink en dan die oplossings in ons handel en wandel uit te leef.

 

Die Woord stel dit dat Geloof Hoop en ‘n ewige  vrede gee. Daarom as gelowiges het ons Hoop in 2022.

Wees Sterk!

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: