Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Junie 2022

Gooi ankers uit…

Deur dr. Jan Botha

 

Daar is tye in ons lewe wanneer ons weer ons ankers moet gebruik. Somtyds moet hul uitgegooi word sodat ons weer met passie, vreugde, blydskap en spoed kan lewe. By geleentheid moet ons egter weer ons ankers uitgooi en dan voorraad opname hou, rustig raak, en na binne keer.

 

In Jesaja 63 is daar ‘n klaaglied opgeteken wat iets van die bogenoemde paradoks weerspieël en in woorde omsit. Die lied dateer uit die tyd na die afbreek van Salomo se tempel in 586 VC en die herbou van die Tweede tempel in 515 VC. Die lied fokus op ‘n tyd van ‘anker uitgooi’, voorraad opname hou, en stil-word in die Here se troue liefde. Vers 7 sê: Ek sal die troue liefde van die Here prys, die roemryke dade van die Here vermeld.

 

Dit gaan hier om God se ‘gesed’ (Hebreeuse woord vir trou), Sy lojale goedheid wat sy goedertierenheid insluit. Met ander woorde sy sagte genade, omgee en medelye met sy mense.

Sy troue liefde en lojale goedheid syfer deur na sy mense. Hy is naby aan sy mense en verbind hom ook weer opnuut aan hulle. Dit gaan nie hier oor die Judeërs en hul eie voortreflikheid nie, maar juis oor God se goedheid en lojaliteit.

 

Dus, om ons anker uit te gooi laat ons weer fokus. In die geval word daar veral op twee wesenssake gefokus: ‘n blik op die verlede en die teenwoordigheid van die Here. ‘n Blik op die verlede verwys na die onthou wat God gedoen het in hul verlede. Word rustig, bedaar en beleef die wonderdade van die verlede. Verse 8 en 9 gee vir ons ‘n samevattende historiese blik op sy lojale goedheid en liefdevolle trou. Hy herinner hul net weer aan die tye asook gebeure van lank terug: die redding by die Rietsee, die woestyntyd, asook die wonderlike inname van die beloofde land.

 

So, vir ons vir vandag: fokus weer op jou eie verlede, God se wonderdade en teenwoordigheid ten spyte van soveel seer, trauma en gebrokenheid. Hy was daar!!! Die Here se lojale goedheid, sy sagte genade, omgee en medelye is vanoggend ook weer beskikbaar vir ons elkeen in ons eie unieke situasie.

 

Ons moet ook weer in die tweede plek fokus op die teenwoordigheid van die Here. Dit kan weer beleef en geleef word in ons daaglikse lewe. Die Here was, is en sal ook in die toekoms daar wees. Om ons anker uit te gooi; te vertoef; tot rus te kom; in verwondering oor sy lojale goedheid, sagte genade, omgee en medelye met ons te leef, bring weer hoop en ‘n nuwe loflied!

Barend Vos skryf so mooi in sy eie parafrase van Psalm 100:

 “Juig voor die Heer!

Kom staan voor Hom met ’n lyf vol lag –

ingehoue lekkerte én uitbundige skatering.

Hý is die Here!

Die vrolike God is óns God;

sy vreugde is ons behoud,

sy blydskap ons alibi vir die lewe.

Ronduit erken ons Hom

as ons maker, ons eienaar.

Hy was uit die staanspoor bly oor ons.

Toe Hy ons sien, die vrug

van sy arbeid, het Hy gesê:

“Hulle is na mý beeld gemaak!”

En dit was goed.

 

Nadat ons anker uitgegooi is, ons weer herfokus het, kan ons weer as Geesvervulde gestuurdes gaan lewe op die oop see van ons daaglikse lewe. En só beweeg ons singend op die dek van ons eie skip in die teenwoordigheid van ons Here. Ons bevind ons lag-lag op die beste plek waarop ons ooit kon hoop.

 

Hierdie Goddelike trou kom geslagte lank al aan – ons het die stories om dit te bewys.

 

·       Dr Jan Botha is betrokke by Alfa Pastorale Opleiding, Berading en Gemeenskap Sentrum (Gestig 1987) en is deeltydse Predikant: NG Gemeente Mootvallei, Pretoria

 


Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: