Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Maart 2022

Woord deur die Voorsitter - Ons kan kies hoe ons wil reageer


Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad


Ek skryf hierdie gedagtes met die besprekinge van die Nasionale Raad wat op 24 en 25 Februarie 2022 by Die Eike in Randburg ontmoet het, vars in my geheue. Dit was die eerste keer in twee jaar dat ons die geleentheid gehad het om fisies te ontmoet na die uitmergelende impak wat Covid-19 op ons, die land en die wêreld gehad het. Ons kon darem gereeld virtueel ontmoet maar daar is ʼn paar dinge wat uitgestaan het na die twee dae gesprek.

  • Daar is ʼn nuwe energie wat ons kon ervaar by die Nasionale Raad. Ywer en entoesiasme ontbreek beslis nie.
  • Ons kon aangaan soos altyd omdat ons die basis van virtuele vergaderings gehad het en dus nooit momentum verloor het nie.
  • Daar is ten spyte van Covid-19 en die beperkinge soveel dinge in stilte gedoen en waarby ons betrokke was en waaroor nou gerapporteer is, maar wat ons besiel en hoop gee.
  • Soos soveel ander gesprekke waaraan almal van ons blootgestel is in Afrikaner geledere is daar nie ʼn negatiewe magteloosheid en klaagkoor nie. Inteendeel. Ons sien net geleenthede.

 

Ons kan negatief reageer op die negatiewe gebeure in ons land en ook die wêreld of ons kan kies om dan deur ander lense te kyk, en dan op ʼn manier ʼn invloed uit te oefen op die omgewing waarbinne ons Afrikaners se belange kan bevorder en ook die omgewing ten goede te verander. Ons is en was nooit prakties ingestel nie. Daarvoor is ander organisasies reeds geposisioneer om ʼn verskil te maak en hulle doen dit beslis deur burgerregte, onderwys, ekonomie, landbou en vele ander terreine. Ons gaan beslis nie die wiel van vooraf ontwerp nie, maar ons gee ondersteuning waar nodig en gee leiding of neem inisiatief waar nodig om rolspelers bymekaar te bring wat oplossingsgerig help soek na die waarheid.   Anders gestel, ons boks vêr bo ons getalle!

 

Ons het die twee dae vergadering van die Nasionale Raad gebruik om werklik tot die kern van die Afrikanerbond se bestaan en werkswyse uit te kom en is daar ʼn paar begrippe wat dit definieer.

  • Ons lede en strukture moet weer ʼn gesonde basis en kern vorm waaruit ons kan werk.
  • Ons Christelike-demokratiese begronding is herbevestig.
  • Ons werk deurgaans met die goue formule van eie en nasionale belang.
  • Die Afrikanerbond se lede is almal deel van ʼn netwerk en so vorm ons ʼn netwerk van netwerke. 
  • Die Afrikanerbond is ‘n fasiliteerder en brugbouer en doen dit deur die netwerke van ons lede vir Afrikaners, vir die Afrikaanse taalgemeenskap en ook vir Suid-Afrikaners.

 

In al ons aksies en betrokkenheid in gesprekke kon ons duidelik die toepassing vind van die eie belang langs die nasionale belang. Hieroor is daar legio voorbeelde.  Die Afrikanerbond se aanpasbaarheid en die gevolglike aanvaarbaarheid in hierdie rol, word by die dag belangriker en is daar geen ander organisasie strategies so goed geplaas om tans bymekaar te bring wat bymekaar hoort nie – ook oor kultuur, politiek en rasgrense heen. Ons moet dit egter deurtrek na die plaaslike vlak waar elke lid ʼn rol kan speel.

 

Wat vir my duidelik geword het, is dat die Afrikanerbond ingestel is daarop om ‘n Afrikaner- belange organisasie te wees wat duidelik is oor sy identiteit, sy plek in die land en sy plek in die samelewing. Die Afrikanerbond het gevolglik ‘n veel ingewikkelder rol te speel. As brugbouer en fasiliteerder kan ons mense bymekaar bring. Dit is oor en oor gedemonstreer en dit moet ook toepassing vind in dorpe, gemeenskappe en provinsies. Oor die werkswyse sal ons in die komende maande duidelikheid gee maar dit sal beslis ook die agenda bepaal vir ons Bondsraad wat tentatief vasgemaak is vir 15/16 September 2022 in Gauteng. Ons kommunikeer binnekort die finale reëlings in die verband.

 

Ek het weer tot die diep besef gekom van die besondere rol wat die Afrikanerbond oor dekades gespeel het. Ons het deur ons werk en deur beïnvloeding gehelp om Afrikaners te bemagtig deur onderwys, daarna ekonomies te bemagtig en daarna het politieke bemagtiging gevolg. Dit het die Afrikaners se karakter en sy besondere vermoë tot oplossingsgerigtheid geskep. Hiermee kon ons na 1994 aanpassings maak en was ons vir ʼn ruk lank slegs op oorlewing ingestel. Dit is kenmerkend maar nie verbasend nie, dat die Afrikaners nou weer betrek word in gesprekke oor die politieke toekoms van die land, en dat ons sonder om twee keer te dink by sulke gesprekke betrokke raak. Nie om die regering ter wille te wees nie, inteendeel ons heil is nie in die behoud van die regime nie, maar oor ons verbintenis tot die land, die grond en sy mense. Dit is daarom nie vreemd dat ons hulp gevra word in Afrika en ons voetspoor in die kontinent groter word, maar meer ook, ons kinders en kleinkinders wat in ander wêrelddele sukses op sukses behaal nie.

 

Dit is met hierdie ingesteldheid waarop ons toekoms gebou moet word. Ons is deel van ʼn samelewing wat oornag nuwe vereistes gestel het en wat ons gedwing het om vinnig en kreatief te kon reageer op die uitdagings van die tyd.

 

Reeds by ʼn Bondsraad in 1993 verwys prof Pieter de Lange na die normalisering wat nodig is en noem hy die volgende knellende aspekte.

  • Die herstel van die gesinslewe op die platteland en in die stad.
  • Die groei van die ekonomie.
  • Politieke stabiliteit.
  • Relevante en goeie onderwys
  • Veiligheid vir die individu en die groep
  • Beskermende groepsidentiteit
  • Uitbou van gemeenskaplike waardes en ervarings.

 

Ons kan vandag 29 jaar later dalk anders kyk na die kwessies wat toe by die Bondsraad ter sprake was maar die uitdagings is elkeen nog net so, indien nie meer geldig nie. Ek het eers na afloop van die vergadering van die bostaande verwysing van die 1993 Bondsraad bewus geraak, maar is dit dalk nie toevallig dat ons juis weer na al die kwessies in mindere of meerdere mate tydens ons pasafgelope vergadering van die Nasionale Raad verwys het of intens bespreek het nie. Dit bly immers sake wat elke Afrikaner direk raak of dit nou in 1993 was of vandag in 2022.

 

Indien ons opgee op een of meer van die sake, kan dit katastrofies wees vir die land en sy mense, maar veral ook vir Afrikaners. Dan word die volgende woorde uit die 1993 Bondsraad net so belangrik: “Die Afrikaner is hier om te bly. Die Afrikaner gaan met genade van Bo bly saak maak. Hy gaan 'n positiewe, kundige mede-skepper van ons almal se toekoms wees. Hy gaan dié taak as gelowige in gehoorsaamheid aan die Woord van Bo onderneem.”

Wees Sterk!   

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: