Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Mei 2022

Woord deur die voorsitter  

                     -  Ras en transformasie - Is die gety in Suid-Afrika besig om te draai?

 

Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad van die Afrikanerbond


Met Vryheidsdag en Werkersdag nou agter die rug is dit nodig om dalk weer die kwessie van rasgebaseerde beleide te bespreek want dit is duidelik dat daar meer mislukking is as sukses rondom ras in die werkplek. Die kwessie het nou weer prominensie gekry volgens ‘n Netwerk24 berig toe mnr Enoch Godongwana, minister van finansies, op Dinsdag 26 April tydens ʼn toespraak by die Black Management Forum (BMF) gevra het “oor hoekom swart bestuurders met “mislukking en onbekwaamheid” geassosieer word. Hy het ook erken dat transformasie in Suid-Afrika voor verskeie struikelblokke te staan gekom het met net 15% van die topbestuursposte in Suid-Afrika se private sektor wat deur swart mense beklee word.

 

Dit is veral in plaaslike regering waar swart bestuur se prestasie bevraagteken word. Volgens die berig vra hy “hoekom daar in munisipaliteite waar bykans alle topbestuursposte deur swart mense beklee word, die prestasie so absoluut haglik is? Ses uit elke tien munisipaliteite in die land is in finansiële nood, die bestuur is swak en daar is ‘n gebrek aan professionele en oordeelkundige leiding.” Dit is volgens Godongwane “grootliks munisipaliteite wat deur swart bestuurders onder ‘n swart politieke leierskap gelei word.” Godongwana het egter beklemtoon dat transformasie ‘n hoofdoelwit van die ANC-regering bly, maar dat dit altyd met meritokrasie verbind moet bly. Dit is waar die ANC se tweeslagtige probleem begin.

 

Transformasie lê aan die kern van die probleem in Suid-Afrika.  Hoe absurd dit geword het word netjies deur Helen Zille beskryf in haar boek #StayWoke go broke waarin sy verwys na ʼn Financial Mail onderhoud rondom 2008 met Eskom se destydse Menslike Hulpbronbestuurder, me Mpho Letlape. Sy beskryf 'n ambisieuse werwingsveldtog vir indiensneming by Eskom wat twee nuwe personeellede elke dag vir vyf jaar genoodsaak het. Om haar regstellende aksie-teikens te kon bereik, het sy gesê, moes een uit elke 2 nuwe personeellede 'n swart vrou wees.

 

Om verder aan Eskom se kwotas te voldoen, het me Letlape glo enorme bedrae geld spandeer om meer as 300 swart Amerikaners gedurende 2006/2007 te werf. 'n Groep van hierdie rekrute (wat deur 'n Nigeriese maatskappy in New York verkry is) het beweer dat hulle in Eskom se boeke as Suid-Afrikaners geregistreer is, soos vereis deur die kwotabeleid. Nie lank daarna nie het sleg 68 van die 300 in Eskom se diens gebly.

 

Afgesien van die R60 miljoen se reiskoste en plasingsfooie wat gedurende daardie jaar aan die Nigeriese konsultasiemaatskappy betaal is, het me Letlape se 2008-salaris R2,1 miljoen (basies) en 'n verdere R2,6 miljoen (prestasiebonusaandele) ingesluit. Dit was ook die jaar wat die begin van die tweede ronde van deurlopende beurtkrag gekenmerk het.

 

In ʼn Ope brief aan die President op 22 April 2022 skryf dr Dirk Hermann van Solidariteit ook oor regstellende aksie by Eskom en die gevolge van beurtkrag. Hy skryf “ras sit ons ligte af. Eskom was al in die 1990’s aangewys as een van die drie top regstellendeaksiemaatskappye en hulle was trots daarop. In 2000 het Eskom sy rasprogram versnel en is daar sogenaamde plekmaakstrategieë vir werkers aangebied. R1,8 miljard, in vandag se terme, is uitbetaal om van wit mense ontslae te raak Vanaf 1994 tot 2002 het meer as 10 000 wit mense Eskom verlaat. Nog so onlangs soos 2017 wou Eskom van nog 1 308 wit kundiges ontslae raak. Die bestuursvermoë en operasionele kennis van Eskom het ingeplof.”  Dit is transformasie op sy ergste en sy mees absurdste. 

 

Reeds op 2 Junie 2011 waarsku die Afrikanerbond in ʼn omsendskrywe dat die ANC se toepassing van die NDR ideologie en transformasie net nog verder gaan toeneem, en dat  dit in konflik staan met die grondwet; en voorspel dit niks goeds vir Suid-Afrika nie. Ons het toe alarm gemaak oor die volgende:  

  • Regstellende aksie gaan verskerp word om kader-ontplooiing ter wille te wees. Dit beteken dat wit, bruin en Indiër verteenwoordiging, veral in die staatsdiens gaan afneem;
  • Swart Ekonomiese Bemagtiging gaan toeneem om swart ANC gesinde sakelui nog verder ter wille te wees;
  • Sekere ekonomiese hoekstene soos eiendomsreg gaan toenemend onder druk kom. Die ANC jeugliga se aandrang tot nasionalisering van myne en banke skep reeds binnelandse en buitelandse onsekerheid.
  • Suid-Afrika se voedselsekuriteit gaan in gedrang kom met die onvermoë van die staat om grondhervorming redelik en billik toe te pas en uit te voer en gevestigde belange te beskerm.
  • Ons onderwys gaan al hoe meer verswak met die toenemende houvas en mag van onderwysvakbonde en die onwilligheid van die regering om die hele onderwyskrisis te bestuur.
  • Dienslewering sal toenemend verswak aangesien die kundigheid en ervaring veral in die tegniese areas wat betref dienslewering ontbreek.
  • Die belastinglas gaan al hoe swaarder lê by alle belastingbetalers – dit moet gesien word teen die agtergrond van die al hoe groter wordende maatskaplike veiligheidsnet wat toelaes en gratis behuising, medies en onderwys insluit.
  • Misdaad neem in felheid toe en is die regering se harde uitsprake oor misdaad ongelukkig nie te bespeur in die harde realiteit wat elke dag deur alle Suid-Afrikaners ervaar word nie.

 

Ons kritiek is ietwat alarmisties afgemaak en sien ons vandag dat transformasie wat in sy eenvoudige verduideliking beteken - om wit met swart op alle lewensterreine en sektore te vervang ongeag die gevolge of die koste. 

 

Na die inhuldiging van President Ramaphosa in Mei 2019 het ons aan hom geskryf en gesê “Vele jonger generasies wit, bruin en Indiër-kundiges word gestuit om deel van sy visie te wees omdat hulle teruggehou word deur regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en die toepassing van kwotas.” Ons het toe reeds gesê: “U visie sal slegs gerealiseer word mits die regering en die regerende party afstand doen van die diskriminerende maatreëls” en ook bevestig “dat daar baie kundige Suid-Afrikaners is wat gereed staan om te help.” Net soos soveel skrywe aan mnr Jacob Zuma verkies ook mnr Ramaphosa om ons skrywes met goedbedoelde advies te ignoreer. Hy doen dit egter tot nadeel van die land en sy mense en die implikasies hiervan bly enorm,  

 

Die wiel draai egter baie stadig en kom daar al vanuit die regerende party sedert Julie 2007 al geluide wat maan teen rasbeleide. In 2007 sê Minister Alec Erwin in Londen dat regstellende aksie in Suid-Afrika dood is as gevolg van die land se vaardigheidstekort; In Augustus 2008 tydens ʼn byeenkoms met sake en landbouers in Stellenbosch en op ʼn vraag deur die Afrikanerbond oor ʼn sonsondergang klousule oor regstellende aksie bevestig mnr Kgalema Motlanthe dat dit dalk tyd geword het vir ʼn wetenskaplike ondersoek na regstellende aksie.

 

In 2022 vra die minister van finansies Enoch Godongwana “oor hoekom swart bestuurders met “mislukking en onbekwaamheid” geassosieer word maar bevestig dat transformasie ‘n hoofdoelwit van die ANC-regering bly. Hy het die probleem duidelik geïdentifiseer en dit sal altyd die probleem van die ANC wees. Transformasie word onbeskaamd bevorder en dit ten koste van die gelyke en nie-rassige samelewing wat na 1994 in die vooruitsig gestel is. Die huidige konteks waarin transformasie toegepas word skep die teëlaarde vir middelmatigheid, nepotisme, kader-ontplooiing en gevolglike korrupsie. Die gevolg van die huidige toepassing van transformasie is dat mense in posisies aangestel word waartoe hulle nie die bevoegdheid, ervaring of kundigheid het nie.

 

Die voortdurende toepassing van tansformasie is gedoem tot mislukking. In die proses moet een persoon vir ʼn ander plek maak (die gevolge van regstellende aksie) en skep dit ʼn samelewing wat meriete afskeep en wat met reg bedreig voel. Dit skep ʼn samelewing waarin mense koppe tel op grond van ras en nie op grond van bewese kundigheid of ervaring nie.

 

ʼn Swaeltjie maak nie ʼn somer nie en alhoewel daar individue in die ANC is wat oor tyd hulself uitgespreek het teen die diskriminerende maatreëls en deeglik bewus is van die gevolge word die beleid nog steeds met groot entoesiasme bevorder en toegepas. Dit gaan nie oornag verander nie maar die indruk is tog dat die gety dalk besig is om te draai. Iemand soos Moeletsi Mbeki is al telkens op rekord waar hy Swart Ekonomiese Bemagtiging en regstellende aksie verwyt as die hoofdrywers van korrupsie in Suid-Afrika.

Daarom raak dit nou krities noodsaaklik dat transformasie en diskriminasie in die werkplek uitgefaseer word ten einde ALLE Suid-Afrikaners se vaardighede, kennis en kundigheid te erken te respekteer en tot volle voordeel van Suid-Afrika aan te wend.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: