Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Oktober 2022

Woord deur die Voorsitter:


Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad

 

In die gewyde grootsheid van die Voortrekkermonument se senotaafsaal het die Afrikanerbond op 15 September 2022 ontmoet om die Bondsraad met die tema: Afrikaners – brugbouers na die toekoms te open. Vroeër die dag het die Nasionale Raad ontmoet in die historiese Transvaal Kamer en besin oor die aktiwiteite van die jaar.

 

Die doel is nie om verslag te doen oor die Bondsraad nie. Dit word gedoen in die AB Nuusbrief en u is ook welkom om na die opnames te kyk.

 

Ek wil werklik net hiermee bevestig hoe trots ek is om in die tyd as voorsitter van die Nasionale Raad te kan optree en ampshalwe ook dan as voorsitter van die Bondsraad en daarom wil ek net graag enkele gewaarwordinge deel.

 

Binne ons tema Afrikaners – brugbouers na die toekoms het ons beslag gegee aan ons ideaal om brugbouers en fasiliteerders te wees. Dit was die AB in sy verlede sdert sy stigting in 1918 en dit is die AB met mening in 2022. Vasgeanker in ons Christelik-Demokratiese begronding kan ons die brûe bou na Afrikaners, Suid-Afrikaners en soveel gemeenskappe met wie ons die eie en nasionale belang deel. 

 

Met die oorhandiging van die oorkondes en die voorlees van die Commendatio’s vir die ontvangers het ek net weer opnuut onder die indruk gekom van die bekwame kundigheid en ingesteldheid van ons lede. Br Willem Rossouw wat op 82-jarige leeftyd nog dien by 22 instellings en organisasies, die stille krag en gawes van Sampie Pienaar as voorsitter van die Christiaan de Wet Fonds sowel as prof. Christo Viljoen en Pieter van der Westhuizen wat elkeen diep spore in hulle onderskeie kundigheidsvelde getrap het en die Solidariteitsbeweging wat nie vir ander wag nie en op hulle eie groot baanbrekerswerk doen.

 

Ons is daarna om ʼn begeleide toer van die marmerfriese geneem en wil ek lede aanmoedig om na dr. Danie Langner te luister in die besondere aanbieding van die simboliek van die marmerfriese wat treffend en kundig en voorgehou is. Kyk na die opname hier.  

 

Ons Bondsraad self het verskeie hoogtepunte gehad en het ons interne kwessies hanteer in die verskillende sessies. Op eksterne vlak het Connie Mulder van die Solidariteitsbeweging ʼn deeglike demografiese perspektief gegee en kon ons luister na die leierskap van opposisiepartye in die kundige aanbied van hulle siening oor koalisiepolitiek. Beide mev. Helen Zille van die DA en dr. Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus het waarde toegevoeg tot ons besprekinge. met hulle sieninge oor koalisiepolitiek. In my afsluitingswoorde het ek gesê dat die herskikking van die Suid-Afrikaanse politieke toneel in die vorming van koalisies geleë is en ons sal help met gesprekke in die burgerlike samelewing om die herskikking momentum te gee. Ek wil voorstel dat u by die volgende afdelingsvergadering die koalisiegesprek (volg om opname te kyk) en inhoud bespreek en help om sinvol inhoud te gee aan die verwagtinge en waardes waarop toekomstige koalisies gebou kan word en hoe u as afdelings en individue hierdie uiters belangrike inisiatief kan ondersteun en bevorder. Ons versprei ook eersdaags die besprekingsdokumente wat tydens die Bondsraad bekend gestel is naamlik: 

- Koalisiepolitiek in Suid-Afrika – die kuns van die (on)moontlike? Deur prof André Duvenhage en;

- Ekonomiese Kwelpunte deur prof. Jannie Rossouw       

 

Die Voortrekkermonument se direksie en bestuur het ons behoorlik verwelkom en tuis laat voel. Tydens die twee dae is geen moeite ontsien nie en na ds. Cassie Aucamp (Voorsitter van die VTM Direksie) se verwelkoming kon ons die gasvryheid ervaar. Ons is inderdaad geseënd dat ons erfenisse in die knap en bekwame hande is.


Ons Bondsraad besprekinge was van hoogstaande gehalte en ons lede het in-persoon en aanlyn ingeskakel wat vir ons ʼn eerste was maar waarskynlik in die toekoms al meer op die wyse sal plaasvind. Hiermee het die Afrikanerbond ʼn reusesprong in die virtuele wêreld gegee en dit met sukses gedoen.

 

Wat lê nou voor: Die uitdagings is groot maar die Afrikanerbond het die aktualiteite en werkswyse tydens die Bondsraad afgebaken en sal dit nou aandurf. Dit kan egter nie net die taak van die Nasionale Raad of die personeel van Die Eike wees nie. Die uitdaging is dat elke lid homself behoorlik vergewis van die inhoud van die besprekinge en die dokumente wat tydens die Bondsraad bespreek is en dan uitvoering gee daaraan.

 

Langs die weg ook my dank aan die dagbestuur van die Nasionale Raad wat die Bondsraad saam met my voorgesit en leiding gegee het, maar dan veral groot dank aan ons personeel, by name ons hoofsekretaris Jan Bosman en mev. Merene Beer op wie se skouers die Bondsraad met al sy reëlings, logistiek, dokumentasie, voorbereiding en skakeling gerus het. Julle is staatmakers.

 

Waar ons nou in Oktober inbeweeg begin die jaar ook weer ander momentum kry. Ons prioriteite verander en ons hanteer die uitdagings op ons paaie ook anders. Waar 10 Oktober ook in die verlede as heldedag of Krugerdag gevier is wil ek u herinner daaraan want die onbesonge helde is tussen ons. Dit is hulle wat onder uiters moeilike omstandighede dienste lewer, ons beskerm en elke dag net hulle dagtaak verrig. Met die herinnering aan die aanhoor van ons Erekode tydens die Bondsraad is my gedagtes met hulle want dit is hulle wat dien, nie gedien word nie en dit is hulle wat gee, nie ontvang nie. Wees Sterk! 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: