Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Februarie 2024

Woord deur die Voorsitter: Verkiesing in die 30e jaar van demokrasie

 

Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad

 

Op 27 April 2024 sal dit 30 jaar wees sedert Suid-Afrikaners die geleentheid gekry het om te stem in die eerste verkiesing van die demokratiese bedeling. Afrikaners en diegene wat standpunt inneem teen die huidige bedeling sal deur politieke opportunisme telkens herinner word aan apartheid en gaan die perd weer holrug gery word. Ons het reeds in die laaste maande ʼn voorsmakie gehad van wat gaan kom met president Ramaphosa wat in feitelik elke verklaring, nuusbrief of toespraak verwys na die nalatenskap van apartheid.

 

Dat Afrikaners en witmense deel gehad het in die aftakeling van apartheid word verswyg. Die referendum van 1992 wat deur mnr FW De Klerk uitgeroep is was die Rubicon vir Afrikaners. Die referendum het gevolg op die Februarie 1990 toespraak van President FW De Klerk wat Suid-Afrika onherroeplik op ‘n ander roete geplaas het. In die toespraak het hy gesê: "Die agenda is oop en die oorkoepelende doelwitte wat ons moet nastreef moet aanvaarbaar wees vir alle Suid-Afrikaners. Onder andere moet hierdie doelwitte insluit 'n nuwe, demokratiese grondwet; universele stemreg; geen oorheersing; gelykheid voor 'n onafhanklike regbank; die beskerming van minderhede, asook van individuele regte; vryheid van godsdiens; 'n gesonde ekonomie gebaseer op bewese ekonomiese beginsels en private onderneming; dinamiese programme wat gerig is op beter onderwys, gesondheidsdienste, behuising en maatskaplike toestande vir almal."

 

Die onderhandelinge het uiteindelik beslag gekry in die – oorgang in 1994 en die 1996 Suid-Afrikaanse grondwet wat bepaal dat Suid-Afrika een soewereine demokratiese staat is, gebaseer op die volgende waardes:

menswaardigheid; die bereiking van gelykheid; die bevordering van menseregte en -vryhede; nie-rassisme en nie-seksisme; die oppergesag van die Grondwet en die heerskappy van die reg; ʼn veelpartystelsel van demokratiese regering; (om verantwoordpligtigheid, ʼn responsiewe ingesteldheid en openheid te verseker)

 

Dit wat in 1990 begin is en kon lei tot die 1994 demokratiese bedeling het ʼn duur verpligting op ons maar veral die regering geplaas om te normaliseer. Dit was beslis nie ʼn blanko tjek vir rewolusionêre gedagtes of die kruipende ontneming van regte wat sedertdien so lomp deur die ANC-regering toegepas is nie.

 

Normalisering gaan egter nie plaasvind solank die fokus steeds op ons en hulle gaan wees nie, asof dit teenoor mekaar staan in plaas van aanvullend en uitbreidend van mekaar. Die ervaring die afgelope 30 jaar het hierdie kloof van wantroue en selfgeldenheid egter eerder verdiep/verbreed as vernou/kleiner gemaak. Die status quo sal drasties moet verander staatkundig asook ideologies op individuele en gemeenskapsvlak. Indien dit nie gaan gebeur nie gaan die Afrikanerdryf na kulturele vryheid al sterker raak.

 

Visionêre geloofwaardigheid leierskap/staatsmanskap is nodig om ons landscredo van Eenheid in Verskeidenheid/ Diversiteit tot verwesenliking te lei. Wie ookal hierdie credo verwoord het verstaan die geheim van SA.

 

Die assimilering van hierdie verskeidenheid na ‘n allesoorheersende meerderheid sal en het die land verswak in terme van innovering en uitnemendheid. Ek dink die aanvanklike ANC leuse in 1994 van ‘n “beter lewe vir almal” baie edel en versoenend was, maar dat dit allermins die bedoeling gebly het.

 

Toe dr Mahatir Mohamad, die vierde eerste Minister van Maleisië, sy land se Visie 2020 bekendgestel het, het hy die uitdagings tot nasiebou geïdentifiseer en nege strategiese uitdagings daargestel – dit kan dien as voorbeeld:

  • Die stigting van 'n verenigde nasie met 'n gevoel van gemeenskaplike en gedeelde lotsbestemming. Dit moet 'n land wees wat vrede met homself is, territoriaal en etnies geïntegreer, in harmonie saambly met ʼn volledige en eerlike vennootskap.
  • Die uitdaging van die skep van 'n sielkundig bevryde, veilige en ontwikkelde samelewing met geloof en selfvertroue, met reg trots op wat dit is en self bereik het, wat dit vermag het, en wat sterk genoeg is om teenspoed te kan hanteer. Hierdie samelewing moet gekenmerk word deur die nastrewing van uitnemendheid, ten volle bewus van al sy potensiaal, sielkundig ondergeskik aan niemand, en gerespekteer deur die mense van ander nasies.
  • Die derde uitdaging is die bevordering en ontwikkeling van 'n volwasse demokratiese samelewing, met ʼn gevestigde, wedersyds instemmende, gemeenskaps-georiënteerde demokrasie wat 'n model vir baie ontwikkelende lande kan wees.
  • Vierdens is die vestiging van 'n ten volle morele en etiese gemeenskap, wie se burgers godsdienstige en geestelike waardes met die hoogste standaarde uitleef.
  • Die vyfde uitdaging is die vestiging van 'n volwasse, liberale en verdraagsame samelewing waarin alle groepe en gelowe vry is om hul gewoontes, kulture en godsdienstige oortuigings te kan uitleef en beoefen, maar met die wete dat hulle aan een nasie behoort.
  • Die sesde is die uitdaging van die vestiging van 'n gevorderde en progressiewe samelewing, 'n samelewing wat innoverend en toekomsgerig is, een wat nie net 'n verbruiker van tegnologie is nie, maar ook bydra tot die wetenskaplike en tegnologiese beskawing van die toekoms.
  • Die sewende uitdaging is die vestiging van 'n gemeenskap en kultuur wat omgee, met ʼn maatskaplike samelewing wat voor die eie selfsug gestel word, waarin die welsyn van die mense nie sal wentel om die staat of die individu nie, maar om 'n gesonde en veerkragtige familie stelsel.
  • Die agtste is die uitdaging om 'n ekonomies regverdige samelewing te verseker waarin daar 'n billike en regverdige verdeling van die rykdom van die nasie is met 'n volledige vennootskap in ekonomiese vooruitgang.
  • Die negende uitdaging is die vestiging van 'n voorspoedige samelewing, met 'n ekonomie wat ten volle mededingend dinamies en kragtig is.

 

Ons kan na 30 jaar soveel anders gewees het. Geleenthede is verspeel. Ons kan opnuut ʼn lang lys saamstel van foute en mislukkings van die ANC . Ons kan die korrupsie, toenemende misdaad en gebrekkige dienslewering tot vervelens toe uitwys. Ons ongekende beurtkrag en staatsondersteunde entiteite wat tot stilstand kom. Dit is telkens gedoen en die politieke omgewing tot en met verkiesing gaan dit al meer uitwys. Feit is dat Suid-Afrika tans ʼn diep verdeelde samelewing is.

 

Edmund Burke het gesê: Die enigste ding wat nodig vir boosheid om te triomfeer, is as goeie mense niks doen nie. Ons ervaring is dat die goeie mense van Suid-Afrika nou besef het dat ons by ʼn kruispad is. Ons betrokkenheid by verskeie inisiatiewe die laaste maande wys dat daar nuwe lewe gekom het in die burgerlike samelewing. Convergence4SA wat in die verkiesing fokus op bemagtiging, registrasie en monitering betrek rolspelers van regoor die Suid-Afrikaanse samelewing. Die groepering het in Desember 2023 in Stellenbosch ontmoet. Sien ook die verklaring in die nuusbrief. Ons kan net hoop dat waardes sodoende gevestig sal word wat kiesers moet beïnvloed in hulle keuse vir ʼn party.

 

Op Woensdag 17 Januarie 2024 het ʼn aantal Afrikaanse organisasies en regskundiges wat sommige organisasies help met regsadvies, ontmoet by die Trust vir Afrikaanse Onderwys (Dagbreektrust) te Pretoria. Die onderwerp van bespreking was die Konsepwet B2-2022 (“Basic Education Laws Amendment Bill”) of BELAB. Die BELAB is met bepaalde wysigings op 26 Oktober 2023 deur die NV aanvaar, waarna die konsepwet aan die NRP ingevolge artikel 76 van die Grondwet voorgelê word. Die Afrikanerbond se kommentaar is op 31 Januarie 2024 ingedien – nadat die Nasionale Raad van provinsies die aanvanklike datum uitgestel het. Ons is verheug dat van die groter organisasies en rolspelers in onderwys reeds regsaksie oorweeg sou die wet amptelik deur President Ramaphosa onderteken word. Dit is nie onwaarskynlik dat die Afrikanerbond kan toetree as ʼn Vriend van die Hof nie. Daar sal egter gekoördineer word om nie regsaksie te dupliseer nie en juis verskillende invalshoeke en gesigspunte in litigasie anders te hanteer.

 

Ons deelname in die Afrikaner leiersgroep bring ons nader aan ons doelwitte van ons 2022 Bondsraad om groter samewerking in Afrikaner geledere te bewerkstellig. Op 30 Januarie 2024 by die Voortrekkermonument het prominente organisasies, leiers en individue opnuut erns gemaak van ʼn gesamentlike verklaring oor belangrike en gemeenskaplike kwessies wat aandag moet kry. Ons hoop om die konsep verklaring binnekort aan ons lede te kan versend vir kommentaar.

 

Ek het tydens die vele gesprekke wat ons in Afrikaner geledere in die leiersgroep gevoer het besef dat Afrikaners Suid-Afrika volledig omhels het. Ons het nie ʼn ander heenkome nie. Ons kan weggewens word, ons kan deur beleid tot tweedeklas burgers gereduseer word ons kan deur kwetsende optredes seergemaak word. Maar weet dit, Afrikaners is al vantevore hierdeur en ons kom elke keer deur hierdie krisisse. Die Afrikaners was groter as die Nasionale Party, ons is veel groter as die ANC, ons is Suid-Afrikaners, mense van Afrika en ons is hier om ʼn verskil te maak. 

 

Dit is in die lig van bogenoemde dat ons die wekroep rig tot die burgerlike gemeenskap van Suid-Afrika om die diversiteit van Suid-Afrika te vier en te eerbiedig. Die ANC moet weet dat die burgerlike gemeenskap nie goedsmoeds net sal toelaat dat sy regte vertrap en eensydig ontneem sal word nie. Die ANC moet weet dat die burgerlike gemeenskap sal help in die soeke na oplossings, maar nie ten koste van die grondwet en die waardes daarin vervat nie. Die ANC moet weet dat die nastrewing van die Nasionale Demokratiese Revolusie en sy rasgedrewe beleide nie bygedra het tot ʼn suksesvolle Suid-Afrika nie, inteendeel dit bly ‘n resep vir konflik en rampspoedig vir die heil van Suid-Afrika en al sy mense. Daarom is die ANC nie goed vir Suid-Afrika nie.

 

Ons is tans in ʼn wêreld wat politieke verwarring beleef. Ons sien daagliks die effek van die konflik in Gasa, die Amerikaners is oppad stembus toe, ons ekonomie verlangsaam al meer en die ANC se interne konflik en onsekere beleidsraamwerke maak mense moedeloos. In die onseker tyd is daar een sekerheid en dit omskryf dr Jan Botha so netjies in die oordenking - . Hy skryf: “Einstein het gesê: “Daar is twee maniere van lewe: die eerste manier is om te lewe asof niks ‘n wonder is nie en die tweede manier is om te lewe asof alles ‘n wonder is”. Ons word uitgedaag om in 2024 in verwondering te leef!” En dan skryf hy dat” Hulle leef in verwondering omdat Hy hulle Here was, is en vir ewig sal wees!”

 

Maar dit is ook nodig dat elkeen besef die onrus rus op hom en haar – niemand is te hoog of te laag om nie ’n bydrae te kan lewer nie.    Suid-Afrika kan soveel meer wees, en ons kan die Suid-Afrikaanse droom herleef, maar ons kan dit slegs bereik met 'n duidelike en gemeenskaplike visie, opregte vennootskappe in die burgerlike samelewing, maar bo alles met verbintenisse deur en toewyding deur politici en politieke partye.  Die 2024 verkiesing kan ʼn begin wees.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: