Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

        Maart 2024

Woord deur die voorsitter: Die land smag na leiding

 

Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad

 

Ons lewe inderdaad in interessante tye, soos wat ʼn Chinese seënwens lui. President Ramaphosa het op 21 Februarie 2024 die verkiesing aangekondig wat op 29 Mei 2024 sal plaasvind. Politieke partye is reeds uit die blokke en manifeste word vrygestel. Peilings wys dat die ANC nog swakker gaan vaar as vorige algemene verkiesings. Verskeie kommentators is dit egter eens dat die land nie nog vyf jaar onder ʼn ANC-regering gaan oorleef nie.

 

Ons het in die laaste twee weke ook die konsep Afrikaner-verklaring aan ons lede gestuur wat tans intern gesirkuleer word by alle organisasies. Die kommentaar wat ons tot dusver ontvang het, is uiters bemoedigend en positief oor die aard en doel van die verklaring. 

 

In die laaste klompie dae kry kaderontplooiing al meer aandag en word soms onregverdig vergelyk met die werkswyse van die Broederbond. Ons les hierin te leer is dat daar geweldige afguns bestaan dat Afrikaners die land so suksesvol kon opbou – enige positiewe verwysing hierna word egter gesien as hunkering na apartheid.  Apartheid mag nie in enige positiewe konteks genoem word nie en dit skep ruimte vir vandag se vergrype, korrupsie en gebrekkige dienslewering – In 30 jaar is afgebreek en nie gebou nie.

 

Ons moet daarom ophou handewringend staan oor die verlede en ophou om beskuldigings te aanvaar.

 

Ons Nasionale Raad het op 1 en 2 Maart 2024 by Die Eike in Randburg ontmoet. As deel van die voorreg wat ek het om ons NR lede uit al die uithoeke van die land te verwelkom het ek ook verwys na die onlangse staatsrede. Vir my was dit niks anders as oëverblindery nie. Dit is duidelik dat die ANC en veral President Ramaphosa nie meer antwoorde het nie en ook nie die nodige leiding verskaf wat nodig is nie. Ons het met goeie bedoelinge die president genooi om op 7 Junie 2018 ons Bondsraad te open. Ons, net soos baie ander, is teleurgestel.

 

As ons vandag moet evalueer dan was die Ramaphosa-ampstermyn ʼn fiasko - Dit is veral die regering se taak om verantwoordelikheid en aanspreeklikheid te aanvaar. Iets wat die staatsrede verbloem en eerder deur mooipraatjies weggepraat is.

 

Soos soveel kere in die verlede is apartheid ook blameer vir vandag se probleme. Dan is dit soms nuttig om ʼn vars benadering hieroor te hoor.  Die grootste bedreiging en uitdaging vir Suid-Afrika is nie meer apartheid nie. In die woorde van prof. Somadoda Fikeni, kommissaris van die Staatsdienskommissie is korrupsie die grootste hedendaagse uitdaging. Prof Fikeni het in sy voordrag by die Internasionale Teen-korrupsiedag op 8 Desember 2023 in Pretoria gepraat en in sy verwysings na die leiers van die verlede het hy na Ramaphosa se voorgangers verwys en gesê:

“The struggle and the mission of their time was apartheid. That was the biggest challenge of their time. But today, after all the revelations to the Zondo Commission, we realise that the biggest challenge we face is corruption.” 

 

“Apartheid was the rule of law that took from the majority and gave to the minority. And corruption is the minority rule that takes from the majority and gives to the minority.”

 

Ek het vir die Nasionale Raad gevra hoekom praat ons oor die staatsrede en die teleurstelling? Hoekom bemoei ons ons daarmee? Hoekom sê ek dit – In ons Credo, wat ons dalk te min aanhoor, stel die AB sy roeping en taak baie duidelik uit.

Omdat ons glo en vas oortuig is dat ons eie belange en dié van ons mede-Afrikaners onlosmaaklik verbind is aan dié van elke ander Suid-Afrikaner en elke ander volksgroep in Suid-Afrika, en dat die belang van elke ander Suid-Afrikaner daarom ook óns belang is;

 

Daarom sal ons die fundamentele regte van elke indiwidu en elke groep in hierdie land met vasberadenheid verdedig; ons beywer vir die uitskakeling van diskriminasie op elke terrein waar dit voorkom; die belange van die mense uit wie se ideale ons gegroei het en steeds geïnspireer word, noulettend beskerm en uitbou;

ons beywer vir die handhawing en uitbouing van alle inheemse tale, met besondere klem op Afrikaans; die aard en wese van 'n ware demokratiese staatsbestel beskerm en bevorder en enige ondemokratiese aspekte en neigings met mening bestry; en

alles in ons vermoë doen om geregtigheid, billikheid en die hoogste etiese en morele waardes in Suid-Afrika te bevorder.

 

As ons dus ons Credo en selfopgelegde taak in 2024 in oënskou neem dan is ons Afrikaner-Verklaring en die Afrikanerbond se siening dat ons nie langer die ANC regering slegs deur lojaliteit kan ondersteun nie - Lojaal aan die land altyd – lojaliteit aan die regering – slegs as dit verdien word (Mark Twain).  

 

Dit bring my opnuut terug by die Afrikanerbond se Credo. Lees dit gerus by die volgende skakel by die AB webwerf. Volg skakel   

In hierdie proses sal ons waar nodig en toepaslik, saamwerk met die Owerheid en Staatsinstellings op alle vlakke en met alle patriotiese organisasies in die Burgerlike Samelewing om die gemeenskaplike doelwitte te bereik. 

Dalk is dit nodig om te besin hoe haalbaar dit nog is om met owerheid saam te werk? Die regering en die ANC kan voortgaan om die verlede te blameer maar dit sal futiel bly. Die vraag is veel eerder wat word in die hede gedoen om die visie en die belofte van die grondwet in die 30e jaar van demokrasie te verwesenlik. 

 

Ek dink die Afrikaner-verklaring spreek boekdele van ons gemeenskap se antwoord en die Afrikanerbond se gesprek oor sy werksaamhede in die quo vadis gesprek is ook deel daarvan. Dit maak my opgewonde om deel van die inisiatiewe te wees en oplossingsgerig die toekoms in te gaan.

 

Toe ons begin het met die aanvanklike gedagtes oor die Afrikaner-verklaring het die Afrikanerbond ook insette gelewer. Vir ons was dit belangrik en het ons die noodsaak uitgewys vir aansluitende samewerking in Afrikanergeledere. Dit was daarom ons uitgangspunt om die grootste gemene deler in die geledere van beduidende Afrikaners te mobiliseer of aanvaarding te kry :

  • Om die fokus te plaas op die gemeenskaplikhede van en tussen Afrikaners en daardeur die verskille te oorbrug.
  • Om Afrikanerbelange doelgerig en met die grootste mate van konsensus te bevorder;
  • Om ʼn gemeenskaplike Afrikaner ideaal te bevorder;
  • Om Afrikanerskap te koppel aan ʼn gedeelde herkoms en geskiedenis;
  • Voortdurende soeke na aansluitende samewerking
  • Om Afrikaners in staat te wees om volledig Afrikaner te wees, sodat hulle dan ook volledig Suid-Afrikaner kan wees en daarom ook volledig ʼn bydrae op die kontinent te kan lewer.

 

Moontlik kon die samewerking soos vergestalt in die konsep Afrikaner-verklaring wat gesirkuleer is dat ons dit nie op ‘n beter tyd kon doen nie. Die land smag na leiding. Afrikaners wil betrokke raak en ons kan dit nie met blinde lojaliteit aan die regering doen nie. Daarvoor het ons hierdie land te lief. Dit is die twee kontraste vir my. Aan die een kant ʼn regering wat die mense van die land jammerlik faal, en aan die ander kant ʼn gemeenskap wat opstaan en sê volg ons – daar is planne en oplossings. 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: