Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

        April 2024

Woord deur die Voorsitter - Dink nuut oor Vryheidsdag


 Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad

 

In April is daar twee dae wat gedenk word - Eerste is die datum van 6 April wat verwys na Van Riebeeckdag of Stigtingsdag en dan tweedens 27 April wat as Vryheidsdag gedenk of herdenk word.

 

Die geskiedenis van Stigtingsdag of Van Riebeeckdag is al vantevore treffend in die nuusbrief uitgelig. Die middag om 14:30 van 5 April 1652 word Tafelbaai gewaar deur die opperstuurman van die Drommedaris, een van die drie skepe waarmee kommandeur Jan van Riebeeck op 6 April 1652 aan Tafelbaai land om 'n verversingspos vir die VOC te stig. Die ander twee skepe was die Goede Hoop en die Reijger, wat hulle om vieruur die oggend by die Drommedaris aan die Kaapse kus aangesluit het. Die skepe het op 6 April naby die kus bly lê, terwyl Adam Hulster, die boekhouer, en die onderstuurman, Aernt van Leveren, per sloep vertrek het om Tafelbaai te verken. Twee uur voor sononder het hulle berig dat daar geen skepe in die baai is nie en kon die Drommedaris en die Goede Hoop die baai binnevaar en by die "versse" –rivier anker gooi. Twee weke lank sou almal slegs bedags aan land gaan en saans op die skepe slaap. Hoewel Jan van Riebeeck en sy geselskap dus nie lyflik op 6 April 1652 aan die Kaap voet aan wal gesit het nie, het hy self hierdie dag as die verjaardag van die nedersetting beskou.

 

Van Riebeeck moes 'n verversingspos aan die Kaap vir die skepe van die VOC stig, waar hulle op hulle lang reis van Europa na die Ooste in Tafelbaai vars voedsel kon inneem. Die oogmerke van die VOC was bloot prakties en ekonomies van aard, en die gedagte aan 'n volksplanting word nie by hulle aangetref nie. Tog sou hierdie daad oorgaan tot die vestiging van 'n nuwe volk aan die suidpunt van Afrika: 'n volk met 'n eie taal, beginsels, lewensbeskouing, filosofie en lewenswyse. Die immigrante moes hulle aanpas by gans ander omstandighede as dié waaraan hulle gewoond was. 

 

Dan lees ons in 2024 die verkorte weergawe van Van Riebeeck se gebed:

Barmhartige, genadige God en hemelse Vader, volgens u goddelike wil is ons geroep om die sake van die Verenigde Nederlands Geoktrooieerde Oos- Indiese Kompanjie hier aan die Kaap die Goeie Hoop te bestuur. Met hierdie doel voor oë is ons met ons Raad in u heilige Naam vergader om met die Raad se advies sodanige besluite te neem waarmee ons die Kompanjie se belange die beste kan bevorder. Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer. Hiertoe is ons sonder u genadige hulp allermins in staat. Daarom bid ons U, allerhoogste Vader , dat U met u vaderlike wysheid by ons sal bly. Ons bid dat U self leiding in ons vergadering sal gee en ons harte so verlig dat alle verkeerde hartstogte, tweedrag en ander dergelike gebreke van ons geweer sal word sodat ons harte van alle menslike hartstogte skoon sal wees. Laat ons gemoedere so ingestem wees dat ons in ons beraadslaging niks anders beplan of besluit nie as dit wat mag strek tot grootmaking en lof van u allerheiligste Naam en tot diens van die wat oor ons regeer. Laat ons nie in watter mate ook al op eie voordeel of winsbejag let nie, maar net op die uitvoering van ons opdragte en dit wat vir ons saligheid nodig is. Ons bid en vra dit in die Naam van u geliefde Seun, ons Heiland en Saligmaker, Jesus Christus ... wat ons leer bid het: Ons Vader wat in die hemel is, ... Amen

 

Vanuit die ontwikkelde Nederland het hulle gekom na 'n onontwikkelde, ongetemde land. Met die instelling van Vryburgers in 1657 is die volksplanting bevestig en het die nuwe volk sy eie tuiste gevind. Van Riebeeck en sy mense was die draers van sekere beginsels en 'n eiesoortige kultuur. Met die latere binnekoms veral van Duitse en Franse immigrante sou die volksaard vervorm word tot wat later die Afrikaner geword het. Omdat hy die draer van 'n kultuur was, was Van Riebeeck ook die oorplanter van 'n kultuur. Van Riebeeck se koms sou in die geskiedenis van Afrika 'n nuwe wending bring. As draer van die Westerse beskawing, het hy die Protestants-Christelike lewensbeskouing met hom saamgebring. Sy koms het aan die Christelike kerk 'n stewige vastrapplek op die vasteland van Afrika gegee. Hy het die tegnieke, geloof en lewenswyse van die Westerling na Suid-Afrika gebring.

 

Ons herbevestig vandag nog op ʼn wyse ons diepe afhanklikheid aan God en is Afrikaners sedert 372 jaar gelede en toe ons volkstigting simbolies plaasgevind het nog steeds diep afhanklik van God in alles wat ons beplan en doen.

 

Vir ons is dit ʼn belangrike datum om te gedenk en te herdenk., Vir die ANC en baie swartmense is die datum egter ʼn datum wat hulle graag oproep as die datum vir die begin van al ons probleme. Talle stryde en oorloë en sterftes en die gryp van grond en die ontneming van die inheemse mense se politieke en ekonomiese mag.  Die aankoms van Van Riebeeck “het Suid-Afrika se maatskaplike samehorigheid ontwrig, mense onderdruk en oorloë veroorsaak.

 

In die aanbieding van die geskiedenis word die land dan voorgehou as een van liefde en vrede, vreedsame naasbestaan en konflikvry. Een sonder maatskaplike probleme en hongersnood en een sonder oorlog of onderdrukking. Van Riebeeck het die utopiese handel en wandel kom versteur. Vergete is die droewige swart geskiedenis. Die konflik waarmee die Mfekane Suid-Afrika geteister het was by verre die ergste - die oorloë en ampere uitwissing van die San, die konflik wat onder leiding van Koning Shaka ontketen is. Die oorloë het die verwoesting en ontvolking van groot dele van die land en migrasies na plekke so ver weg as Malawi en Zimbabwe tot gevolg gehad. Soveel as ’n miljoen mense het moontlik gesterf.

 

Suid-Afrika kom uit diep konflik en het kolonialisering diep letsels gelaat op wit en swart en so het apartheid ook op sy beurt weer diep letsels gelaat op swartmense. Ons moet egter handel met die lig tot ons beskikking en met die beste intensies. Daarom kon onderhandelinge plaasvind, kon ʼn nuwe demokratiese bestel gevestig word en ervaar ons op 29 Mei 2024 weer eens die resultaat van demokrasie wanneer ons die sewende algemene verkiesing sedert 1994 in Suid-Afrika gaan hou.

 

Daarom herdenk ons op 27 April ook Vryheidsdag wat gesien moet word teen die agtergrond van ‘n minderheid en meerderheid wat mekaar, vanuit ‘n posisie van konflik, kon vind rondom ‘n onderhandelingstafel. Uit hierdie onderhandelinge is ‘n nasionale akkoord bereik wat neerslag gevind het en geformaliseer is in ‘n oorgangsgrondwet en die finale grondwet van 1996. Alhoewel nie volmaak nie, bied die grondwet voldoende ruimte aan enige regering vir wye besluitneming en word burgerlike regte voldoende beskerm. Tydens die onderhandelinge is daar ooreenkoms bereik volgens FW De Klerk oor versoening en om kragtige stappe te doen om nasionale eenheid te bevorder. Die onderhandelaars het aanvaar dat die benadering gebaseer moet wees op die verlede, op:

  • 'n behoefte aan begrip – maar nie vir wraak nie;
  • 'n behoefte aan herstel - maar nie vir vergelding nie; en
  • 'n behoefte aan Ubuntu – maar nie vir viktimisering nie.

 

Die eerste generasie mense wat die onderhandelde skikking beleef en meegemaak het word minder. Hulle het die ideale van ʼn Suid-Afrika raakgesien en wou uitvoering gee daaraan deur die grondwet wat onderhandel is. Na 30 jaar van demokrasie, bring ‘n bestekopname van die huidige toedrag van sake egter die donker sy van meerderheidsoorheersing na vore. Dit het duidelik geword dat die regerende party se beleidsuitvoering en uitsprake deur sommige individue die bepalings en ideale van die SA grondwet systap en soms ondermyn.

 

In 2024 kan ons dalk met oortuiging sê dat die ideale van ons onderhandelaars nie gerealiseer het nie. Waar die SA grondwet baie duidelik is oor die nie-rassige aard van die SA samelewing, word Suid-Afrika al hoe meer ‘n samelewing wat deur rassegrense en rasbepalings gedefinieer word. Hiervan is regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, kwotas en vele meer, alles in die naam van transformasie, maar net simptomaties.

 

Waar die SA grondwet baie duidelik is oor demokratiese waardes, sosiale geregtigheid en fundamentele menseregte word dié demokratiese waardes daagliks ondermyn deur strydende faksies in die regerende party wat staatstrukture en staatsinstellings misbruik om interne geskille dienstig te wees. Ook fundamentele regte, soos eiendomsreg, word ondermyn deur onverantwoordelike eise tot nasionalisering van grond, myne en banke.

 

Waar die SA grondwet baie duidelik is oor ‘n verenigde Suid-Afrika, met erkenning van diversiteit, word die diversiteit soms geminag en in baie gevalle selfs verdag gemaak. Hiervan is die voortdurende naamsveranderinge van dorpe en strate en die minagting van die grondwet se taalreëlings in onderwys en in staatsinstellings maar net enkele voorbeelde.

 

Na 30 jaar van demokrasie word Vryheidsdag gevier, maar is dit egter met ‘n mate van beklemming en ongerus. Ons moet egter ook vir mekaar sê dat die grondwet en sy gebrek die ruimte skep vir ʼn ANC wat uit ʼn bepaalde ideologiese beskouing kom om die grondwet te systap en sy Freedom Charter en Nasionale Demokratiese Revolusie te bevorder. Dit is die wesenlike bedreiging wat ons moet teenstaan, nie die grondwet nie.

 

 Eers as die ideale van die SA grondwet algemeen aanvaar en uitgeleef word, kan Vryheidsdag ware betekenis kry. Met die verkiesing op hande gaan ons hopelik opnuut ʼn nuwe fokus plaas op die sake wat vir Suid-Afrikaners van belang is en veral ook wat vir Afrikaners belangrik is. Met die nodige dringendheid kan Vryheidsdag in 2025 reeds weer nuwe betekenis en inhoud hê. Dit verg egter die nodige politieke wil.

 

Ons beleef te dikwels die twee wêrelde van Suid-Afrika en sy mense - die een land is die een op X (Twitter) en sosiale media en verkiesingsaamtrekke waar haat en beskuldigings heen en weer vlieg. Die tweede land is die land waar die meerderheid mense woon en werk en goeie verhoudinge gehandhaaf word.   Die uitsprake oor ras , transformasie en beleidsraamwerke hieromheen, gaan in die aanloop tot die verkiesing nog vir lank die basis wees van baie standpunte en opswepende retoriek. Dit is duidelik dat die raskaart gespeel word in ʼn poging om tekortkominge en mislukkings te verdoesel. 

 

Vryheidsdag gaan kom en gaan en die verkiesing gaan kom en gaan – Dit is gewone Suid-Afrikaners wat weer die brokstukke moet optel. As ons saam in die Suid-Afrikaanse dam wil oorleef sal ons ons moet skaar aan die kant van diegene wat net soos ons besef dat ons mede-afhanklik is van mekaar. Bygesê in ʼn bedeling waarin daar ruimte is vir elkeen en waarin elkeen homself kan uitleef met erkenning van menswaardigheid. As diegene wat die sluise wil ooptrek, of beur teen die walle deur aggressie en alles te koppel aan apartheid of ander kapstokke hulle sin kry, gaan ons almal meegesleur word in ʼn vernietigende en onkeerbare vloed. Afrikaner, Afrikaanssprekende, Xhosa, Sotho, wit, swart, bruin – Ons het mekaar nodig.

 

Afrikaners is al vir dekades besonder goed georganiseerd in verskeie gemeenskapsinstellings en in die kultuurhuishouding. Afrikanerbelange word tans bewustelik en onbewustelik losweg deur ‘n verskeidenheid organisasies en individue op verskillende fronte bedryf. Tot ‘n groot mate word hierdie verskillende Afrikanerbelangegroepe gelei deur die motiewe van die beskerming van Afrikaners se regte en vryhede; die strewe na ‘n vorm van selfbeskikking of outonomie, die sosio-ekonomiese- en kulturele ontwikkeling van Afrikaners sowel as voedselsekuriteit en die fisiese beskerming van hulle lewe en eiendom. Een leemte was ʼn gemeenskaplike benadering, onder andere ook om gesamentlike gesprekke met die regering van die dag te kon voer en met een stem ons eiesoortige standpunte te kan stel. Terselfdertyd het ons egter al meer die afsydigheid en vyandigheid van ‘n onvriendelike regering begin ervaar.

 

As Afrikaners is ons baie duidelik oor wie en wat ons is en identifiseer ons onsself baie duidelik binne Suid-Afrika. Mag die Afrikaner verklaring wat die maand geteken word en waarvan ʼn konsep reeds na ons lede versprei is ons koers aandui en ons baken wees vir die maande en jare wat voorlê:   As Afrikaners vanuit ʼn breë Afrikanergemeenskap wil onsself nie isoleer in die land en sy mense nie. As Afrikaners is dit ons strewe om te werk aan ʼn land wat funksioneer vir ons en ander Suid-Afrikaners. Ons werk elke dag hard aan:

  • die skepping van ’n vrye en regverdige samelewing waarin mense vir mekaar omgee;
  • ʼn omgewing waarin alle burgers van die staat se vrede en veiligheid verseker is;
  • ʼn land waarin die gemeenskap só georden is dat elke individu en elke gemeenskap sy volle potensiaal kan bereik; en
  • ʼn land waarin die algemene welsyn van die gemeenskappe, bevorder word.

 

Dit is in die gees waarin Afrikaners na 372 jaar se teenwoordigheid in die land onsself beleef en is dit die land wat ons met die viering van Vryheidsdag sien.


Naskrif:

  • Hoogtepunte in April gaan die viering van 6 April wees
  • Bekendstelling voor 27 April van die Afrikaner Verklaring deur beduidende Afrikaner Organisasies. Kyk asseblief uit vir hierdie Kragtige en Belangrike aksie.
  • Viering van Vryheidsdag op 27 April
  • Terugvoer op ons Administratiewe Nuusbrief en veranderinge is sover uiters positief.
  • Daar is tog ouer lede wat bekommerd is dat hul nie hul finansiële verpligtinge sal kan nakom nie. Vir diegene wil die NR graag sê dat diegenes netso moet motiveer en dan moet die afdeling en Gebiedsbesture hanteer en indien daar nie oplossings is nie sal die NR hierdie gevalle met groot deernis hanteer en moontlike vrystelling gee. Ons is Broers en staan saam teen die uitdagings.
  • Die NR vertrou dat u ‘n geseënde Paasfeestyd beleef het.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: