Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Februarie 2024

Die Afrikanerbond: Kommentaar op die Konsepwysigingswet op Basiese Onderwys (B2-2022) (“BELAB”)


 Die Afrikanerbond het in 2022 omvattend gereageer op Konsepwet B2-2022 (“Basic Education Laws Amendment Bill”). Ons het ernstige kommer registreer oor die Konsepwetsontwerp wat belangrike wysigingsvoorstelle inhou met verreikende gevolge vir belange soos moedertaalonderrig en die relatiewe vryheid wat beheerliggame tans geniet om te kan beskik oor toelatings- en taalbeleid. (Sien die skakel na die volledige 2022 kommentaar)

 

Die Nasionale Raad van Provinsies het die Konsep wetsontwerp wat met wysigings gepubliseer is, gepubliseer vir kommentaar teen 31 Januarie 2024. Die Afrikanerbond se volgende en deeglike kommentaar is ingedien en is 'n outomatiese Engelse ontvangserkenning deur die komitee versend. - "Hierdie e-pos dien om te bevestig dat u voorlegging ontvang is. Die Gekose Komitee vir Onderwys en Tegnologie, Sport, Kuns en Kultuur wil u baie bedank vir u deelname."  Lees onder:

 

Ons volstaan met ons kommentaar dat om magte oor die taalbeleid by ʼn skool  by ʼn beheerliggaam weg te neem en te sentraliseer deur dit aan ʼn departement te gee wat reeds hulle agenda duidelik gedemonstreer het, is om vir wolf skaapwagter te maak.

 

Die Afrikanerbond sal saam met ander organisasies en gemeenskappe werk wat die onsinnige, ondeurdagte en onwerkbare voorstelle van die departement van onderwys sal stuit. Taalimperialisme, sentralisering en verengelsing is NIE die antwoord nie, veral nie in ʼn land met grondwetlike regte wat verleen word aan taal-kultuur- en geloofsgroepe nie. Sommige organisasies wat met skole werk oorweeg reeds litigasie. Op Woensdag 17 Januarie 2024 het ʼn aantal Afrikaanse organisasies en regskundiges wat sommige organisasies help met regsadvies ontmoet by die Trust vir Afrikaanse Onderwys (Dagbreektrust) te Pretoria.  Ons kon standpunte uitruil en mekaar op hoogte bring van die verskillende sienings oor die wetgewing. Veral is die oog nou op die openbare verhore wat gehou gaan word in verskillende provinsies. Lede word versoek om bedag te wees hierop en die media dop te hou.

 

Ons hanteer in ons voorlegging ook die wanopvatting deur lede van die ANC wat op Vrydag 24 November 2023 in die Nasionale Vergadering uitgespreek is. Toe 'n mosie ter tafel gelê is oor die reg van kulturele gemeenskappe om deel te neem aan die bestuur en ontwikkeling van private en openbare skole en instellings van hoër onderwys, het 'n ANC-lid die mening uitgespreek dat hierdie regte op bemagtiging gefokus moet wees, "en nie gefokus moet wees oor die "behoud van Afrikanerkultuur" nie. Die woorde is volgens Netwerk geuiter deur Nompendulo Mkhatshwa, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir hoër onderwys, wetenskap en innovering, tydens n debat van die Nasionale Vergadering (NV). Daar moet veral gewaak word teen die ideologiese uitgangspunte en agtergrond wat gebruik word om gemeenskappe verdag te maak.  

 

In ons formele kommentaar na die Nasionale Raad van Provinsies die volgende: Vanuit ‘n grondwetlike regsoogmerk, mag dit so wees dat openbare skole nie alleen op artikel 31-verwante kultuurbehoud of taalbewaring toegespits moet wees nie, en veral nie van slegs een groep nie. Daarom behoort prosedures in plek te wees wat ‘n gesamentlike begrip van verbandhoudende grondwetlike regsbelange daarstel, met inbegrip van gelykheid, die “beste belang van die kind” en taal– en kultuurgemeenskapsregte.

 

Dit kan nie gesê word dat Afrikaansmedium openbare skole, met dubbelmedium skole ingereken, noodwendig slegs een kulturele ingesteldheid het nie. ‘n Taal soos Afrikaans word byvoorbeeld nie slegs deur Afrikaners in die onderrig omgewing aangewend nie. Boonop behoort ‘n enkelmedium onderrig omgewing, afhangende van die konteks, toegelaat te word in ‘n diverse land. Enkelmedium skole bestaan meer as dikwels reeds ingebed in diverse gemeenskappe, en het nie opsigself ‘n “isolerende” effek nie. Dit sal nie billik en regverdig wees om skole met ‘n bepaalde taalmedium vir onderrig effektief alle verantwoordelikheid te laat dra vir die daarstelling van geïntegreerde, oop en demokratiese gemeenskappe nie.

 

Groter inisiatiewe om skakeling tussen uiteenlopende gemeenskapslede in die samelewing te bevorder, en ‘n meervlakkige benadering tot identiteit (as Suid-Afrikaner, as Afrikaan, en lid van ‘n taal– of kultuurgroep) is ‘n akkurater, belangriker en gesonder benadering as een wat ‘n taal se toepassing in onderrig stigmatiseer, en die negatiewe gevolge vir daardie onderrigtaal buite rekening laat. Die voorafgaande meervlakkige benadering poog om die verwesenliking en gelyke genieting van verskeie verbandhoudende regte te bereik.

 

Onbillike en verreikende negatiewe gevolge kan vorendag kom wanneer ‘n taal gestigmatiseer en afgeskaal word ten gunste van Engels, bepaald weens die strukturele oorheersing van Engels in die Suid-Afrikaanse taalstatus-omgewing.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: