Op 5 Junie vanjaar is die Afrikanerbond 100 jaar oud. Die organisasie wat op 5 Junie 1918 in Malvern in Johannesburg deur ʼn klein groep Afrikaners gestig is se stigtingsdoelwitte is soos volg geformuleer:
Die aaneensmelting van Afrikaners; Afrikaners oor die lengte en breedte van ons land, die verlang na die opheffing van ons volk, te laat saamwerk om die verskil van opinie oor volksvraagstukke uit die weg te ruim, en 'n gesonde en vooruitstrewende eensgesindheid te bewerkstellig.
Die ontwikkeling van 'n egte, ruimhartige demokratiese volkslewe, en die opleiding van die Afrikaner tot die regte gebruik daarvan.
Die opwekking van die selfbewussyn van die Afrikaner, en die inboeseming van liefde vir sy taal, geskiedenis, tradisies, land, volk en godsdiens.
Die bevordering van oorspronklike Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in alle opsigte.
Die veredeling van die samelewing op grondslag van die skoon ou sedes en karaktertrekke van ons volk.
Die behartiging van die ekonomiese belange van Afrikaners,
Die handhawing van die beginsels van Jesus Christus.