Op 5 Junie 2018 het die Afrikanerbond 100-jaar van bestaan gevier. In vele opsigte is die geskiedenis van hierdie organisasie ook die geskiedenis van die Afrikaner van die laaste eeu.
Waar het dit alles begin? Die verpletterende ervaring van die Anglo-Boereoorlog na 1902 het aan die Afrikaner van daardie tyd ’n tweedeklas plek en rol in Suid-Afrika besorg. Die Afrikaner was staatkundig verpletter en ekonomies ontmagtig.
Die Afrikaner was in ‘n stryd om oorlewing. Op 3 Desember 1916 sê Genl Christiaan de Wet: “Ons staan op die punt om of 'n groot volk te word, of om op te hou as 'n volk te bestaan. Laat ons dus werk terwyl dit dag is. Laat ons ons volk opbou.”
Aan die begin van 1918 het 'n algemene gevoel onder Afrikaners posgevat dat die Afrikaners stelselmatig ondermyn word. Drie jong manne naamlik, DHC du Plessis, Henning Klopper en HW van der Merwe het die leding geneem en op Woensdagaand 5 Junie 1918 het 14 jong manne in Johannesburg die wil en die visie gehad om die Afrikaner Broederbond te stig. Met die stigting 90 jaar gelede het die Afrikaner Broederbond homself ten doel gestel:
• Om 'n gesonde vooruitstrewende eensgesindheid onder alle Afrikaners wat die welsyn van die Afrikaner wil nastreef te ontwikkel;
• Die opwekking van nasionale selfbewussyn by die Afrikaner en die inboeseming van liefde vir sy taal, godsdiens, tradisies, land & volk;
• Die bevordering van alle belange van die Afrikanernasie.
Gegewe die politieke omstandighede van daardie tyd is daar in Februarie 1932 besluit dat die lidmaatskap en werksaamhede van die Afrikaner Broederbond vertroulik van aard moet wees. Die rede vir die besluit oor die vertroulike aard van die organisasie was geleë in dat dit die mees doeltreffendste organisasiemetode vir ‘n groep mense wat in ‘n politieke of ekonomiese posisie ondergeskik en onderhorig is aan ‘n ander groep. Die vertroulike karakter van die organisasie het bly voortbestaan tot 1994.
In sy bestaan het die Afrikaner Broederbond op velerlei terreine bygedra tot, of die inisiatief geneem om die Afrikaner op vele terreine te bemagtig.
Deur die stigting van ‘n openbare arm die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings) het die Afrikaner Broederbond sorg gedra dat Afrikaans as suiwer voertaal gevestig is, en is Afrikaans bevorder in die handel, staatsdiens, verdediging, regswese, geneeskundige dienste, opleiding van verpleegsters, kommunikasiemedia (koerante, radio, televisie), biblioteekwese, UNISA musiekeksamens en die sportwêreld, asook die bevordering van die Afrikaanse boek en lied en die stigting van kunsverenigings.
Die ideaal van die versterking van die Afrikaner op ekonomiese gebied is onbeskaamd nagestreef. So was die Afrikaner Broederbond betrokke by die stig van die Afrikaanse Handelsinstituut, Helpmekaarvereniging - om verdienstelike en sukkelende produsente in die landbou en handel en nywerheid te help. Volkskas - ‘n Afrikaner handelsbank is in 1937 gestig.
In die tyd het die Afrikaner Broederbond ook die leiding geneem in die benarde situasie waarin die armblanke Afrikaner homself bevind het. Uit die Ekonomiese Volkskongres van 1939 kom oa die Reddingsdaadbond, Ekonomiese Instituut , Nasionale Instituut vir CNO, Instituut van Volkswelsyn en vele meer. Op Arbeidsterrein is belangrike inisiatiewe geneem soos die vestiging van die werkersorganisasie : Die Christelik-Nasionale-Arbeidsbond en in 1948 die Suid-Afrikaanse Arbeids – en Beroepsraad..
Die bevordering van moedertaal onderwys was ‘n groot prioriteit en was die AB betrokke by die enkelmediumskool-gedagte wat gelei het tot Afrikaanse skole; So is die Vrystaatse Universiteitskollege, as gevolg van AB betrokkenheid verafrikaans, 'n Afrikaanse mediese fakulteit vir die Universiteit van Pretoria is bevorder en is omvangryke beursskemas by Afrikaanse universiteite en kolleges daargestel. Waarskynlik die grootste bydrae op onderwysterrein was die stigting van die Randse Afrikaanse Universiteit.
Ook die Afrikanerjeug het besonderse aandag geniet en is die Voortrekkerbeweging en die Afrikaanse Studentebond gestig en die jeugvleuel van die Afrikaner Broederbond, die Ruiterwag is in 1955 gestig.
Op landbou terrein het die Afrikaner Broederbond in 1932 daarop aangedring dat die Landbank kapitaal moes voorsien aan boere in nood teen ‘n billike rentekoers, om sodoende hulle verpligtinge na te kom.
Tussen 1983 – 1993 het alles in die teken van die afloop van die ou sosio-politieke orde en die voorbereiding vir ‘n nuwe orde gestaan. Vanaf 1983 het die AB hom aan die kant van hervorming geskaar en die grondwerk is gelê met die dokument "Basiese staatkundige voorwaardes vir die voortbestaan van die Afrikaner", wat in Junie 1986 die AB se visie vir grondwetlike hervormings gestel het. Hiermee is die basis gelê vir vernuwende denke en idees binne die regering van daardie tyd. Die wese van die AB se bydrae op hierdie terrein was geleë in die rol wat hy gespeel het om die kernwaardes waaraan die Afrikaner se voortbestaan gekoppel was, te formuleer en aanvaar te kry deur op verskeie vlakke aktief aan die grondwetskrywende proses deel te neem. Hiermee het die Afrikaner Broederbond 'n belangrike rol gespeel om mense in te stel op die verandering wat sou kom..
Hiermee saam moes die Afrikaner Broederbond homself ook aanpas vir die nuwe omstandighede. In 1993, na ‘n stormagtige tyd, waar verskeie voorstelle en veranderings bespreek is, is die naam van Die Afrikaner Broederbond verander na die Afrikanerbond. Die vertroulikheid is tersyde gestel en dames kon ook tot die organisasie toetree. Die Afrikaner Broederbond het hiermee in ‘n nuwe gestalte die nuwe Suid-Afrika binnegestap.
Vandag meer as ‘n 100 jaar later is die geskiedenis weer besig om homself te herhaal en beleef die Afrikaner homself weer in ‘n dieselfde omstandighede en word ons weer uitgedaag deur soortgelyke probleme.
Ten spyte van die opbloei van Afrikaans in die kunste word Afrikaans daagliks verminder deur by skole vir moedertaal onderrig, by tersiêre instellings as wetenskapstaal, in die howe as regstaal in die staat as amptelike taal en word Afrikaans in die uitsaaibedryf afgeskeep .
Duisende Afrikaners het hul werk verloor as gevolg van Regstellende Aksie en word diè kundigheid as gevolg van die Afrikaner diaspora tot voordeel van die buiteland aangewend
Soos ander Suid-Afrikaners word Afrikaners blootgestel aan misdaad wat kritieke afmetings aanneem; met 18 000 moorde ‘n jaar en vele ander ernstige misdaad wat niemand onaangeraak laat nie. Ons beleef ‘n daaglikse verval in infrastruktuur by alle vakke van regering waarvan Eskom maar een voorbeeld is;
Minderheidsgroepe se regte word toenemend afgeskeep en is die Grondwet met die Handves van menseregte onder druk, Onderwysstandaarde verswak jaarliks, dorp en straatname veral met ‘n Afrikaanse geskiedenis word eensydig verander
In die veranderde en soms ondraaglike omstandighede is 'n belange-organisasie vir Afrikaners nou meer onontbeerlik as ooit tevore.
Die Afrikanerbond van vandag is 'n samevoeging van Afrikaners wat bereid is om te dien, leiding te neem en voor te loop. Ons doen dit omdat die Afrikaner onlosmaaklik deel is van Suid-Afrika en die land wil laat slaag. Die Afrikanerbond is gegrondves in die geloof dat die Bybel die Woord van die Drie-enige God is en dat dit van rigtinggewende betekenis vir die hele lewe is.
Die Afrikanerbond bevorder onbeskaamd Afrikanerbelange op elke moontlike lewensterrein sonder dat dit in selfsug of tot onregmatige bevoordeling geskied. Ons is nie skaam om Afrikaners te wees nie!
Vandag fokus die Afrikanerbond in sy werksaamhede onder meer op die handhawing en bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur, deur oa ‘n skrywerskompetisie en fokus die Afrikanerbond ook daarop om eensgesindheid en samewerking onder Afrikaanssprekendes te kweek en te bevorder. Die AB was ook onlangs die borg vir die bekenstelling en verspreiding van ‘n geskiedenisboek oor die Afrikaner wat na Afrikaanse skole versprei is.
Die Afrikanerbond is die bestuursvennoot van die Rapport Onderwysfonds waaruit 605 Afrikaanssprekende studente by 13 verskillende tersiêre instansies met studiebeurse bygestaan is.
Die Afrikanerbond is gemoeid met die handhawing van fundamentele regte, demokrasie, die bevordering van verantwoordelike burgerskap en patriotisme. Die Afrikanerbond is ook voortdurend in gesprek met die regering op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak ten einde insette te lewer op terreine waar die belange van Afrikaners direk geraak word. Voorbeelde van sodanige terreine is die onderwys, ekonomie, landbou, grondhervorming en naamsveranderinge.
Net soos met sy stigting meer as 90 jaar gelede is die Afrikanerbond ‘n belange organisasie vir Afrikaners wat ‘n netwerk geleentheid daarstel waardeur kundigheid ontsluit kan word en debat gestimuleer word. Dit stel die Afrikanerbond in staat om aktief met die regering van die dag te skakel ten einde werkbare oplossings vir die probleme van die dag te ontwikkel. In dié proses is daar vier maniere waarop die Afrikanerbond die Afrikaner en Suid-Afrika as geheel se belange ten beste kan dien:
• deur te weier om swak bestuur, magsmisbruik en afwykings van die Grondwet, te aanvaar;
• om op alle vlakke aan regeringsprosesse deel te neem;
• deur standpunte te formuleer wat leiding gee, menings vorm en besluite en gesindhede beïnvloed;
• deur strategies en kreatief te dink en te doen, sodat die Afrikaner se bydrae konstruktief en positief sal wees.
In vandag se tydsgewrig is dit in hierdie gees dat die Afrikanerbond sy rol vorentoe sien.