Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           April 2022

Honderd dae tot 'n nuwe konsensus

Deur Pierre du Toit

 

Op 17 Maart 2022 skryf Prof Pierre du Toit in Business Day dat georganiseerde Afrikaners in die wegspring blokke wag , gereed om aan die maatskaplike ooreenkoms deel te neem sodra die groen lig gegee word. Ons het met instemming van Prof du Toit die artikel na Afrikaans laat vertaal en plaas dit graag met erkenning aan Business Day. (Volg onderstaande skakel vir oorspronklike artikel)

 

President Cyril Ramaphosa het met die opening van die parlement op 10 Februarie sy voorlegging begin met sy siening oor hoe sleg ons sosiale, ekonomiese en politieke toestand is – “onaanvaarbaar en onvolhoubaar”, was sy woorde. Hy het hierdie erkenning dadelik opgevolg met 'n voorstel oor hoe om van dit alles te ontsnap: “SA het 'n nuwe konsensus nodig. Dit moet ’n nuwe konsensus wees wat erken dat die staat ’n omgewing moet skep waarin die private sektor kan belê en die dinamika van die ekonomie kan ontketen.”

 

Nog drie belangrike besonderhede het gevolg: Eerstens het hy homself en sy vennote nie meer as 100 dae gegee nie, dit is, tot 27 Julie as jy naweke en openbare vakansiedae uitsluit, om hierdie "omvattende sosiale ooreenkoms" te finaliseer. Tweedens het hy verklaar dat die onlangs geskrewe Ekonomiese Heropbou-en-herstelplan, wat in Oktober 2020 aan die parlement voorgelê is, die grondliggende dokument sal wees wat die ontwerp van hierdie nuwe konsensus rig. Die derde punt was om die omvang en diepte van die voorgestelde konsensus te beklemtoon: “Om effektief te wees, moet hierdie sosiale ooreenkoms elke Suid-Afrikaner en elke deel van ons samelewing insluit. Niemand moet uitgelaat word nie.”

 

Die haalbaarheid van hierdie verrassende, selfs verbysterende, voorstel blyk op sigwaarde ver buite bereik te wees, gegewe die fragmentasie en polarisasie in die ANC en die diepgesetelde maatskaplike onrus in ons samelewing, voortdurend aangevuur deur misdadigheid, 'n swak en onsamehangende staat, en instellings in beide die private en openbare sektor wat deurtrek is van korrupsie. Ramaphosa sal waaghalsige skuiwe moet maak om die politieke landskap dienooreenkomstig te hervorm.

 

Die eerste uitdaging is om uitgeslote en gemarginaliseerde groepe te oorreed om hom ernstig op te neem, om sy voorstel te aanvaar as synde in goeder trou gemaak te gewees het, en om met die staat te begin beding oor die voorwaardes vir toetrede tot die ooreenkoms. 'n Potensieel belowende begin vir die president in sy eerste 100 dae, 'n begin wat die patroon van polarisasie in ons land kan uitwis, is 'n paradigma-verskuiwing: om in gesprek te tree met georganiseerde Afrikaners, een van die mees gemarginaliseerde en, in sommige kringe, mees veragte groepe in die land. Hulle is besig om saam te snoer rondom snelgroeiende burgerlike organisasies, elk met duisende formele lede en gelei deur verantwoordbare leiers, wat besig is om gekoördineer te raak en diep in die Afrikanerkultuur ingebed is.

 

Hierdie organisasies beskik oor groot hoeveelhede kundigheid op die gebied van ontwikkeling, 'n stewige netwerk van lede, legitimiteit in hul eie gemeenskap en finansiële kapitaal. Hulle is goed gevestig as burgerlike organisasies, en kan, onder 'n nuwe sambreel van samewerking, tot die versterking van staatsinstellings en dienslewering bydra. Hulle is nie aan enige politieke party verbonde nie, maar kan die beste as 'n maatskaplike beweging verstaan word.

 

Nietemin, in terme van hul verklaarde doelwitte staan hierdie Suid-Afrikaners by wyse van spreke in die wegspring blok, gereed om aan die sosiale ooreenkoms deel te neem sodra die groen lig gegee word. Maar die groen lig is onder beheer van Ramaphosa en sy regering, en hierdie oomblik van welwillendheid sal dalk nie vir ewig duur nie.

 

Sou dit eindig, is die tweede uitdaging vir die bouers van die nuwe konsensus om gedeelde waardes, belange en doelwitte te vind onder die diverse SA groeperings, wat sterk genoeg is om die meeste belanghebbendes, indien nie almal nie, te laat saamspan ter verwesenliking van 'n gedeelde projek, met inagneming van die spesifieke kwellinge van elke spesifieke maatskaplike vennoot aanspreek.

 

Afrikanerorganisasies neig om hulself te skaar agter die algemene knelpunte wat deur almal gedeel word, wat die veiligheid en sekuriteit van individue, gesinne en gemeenskappe insluit, openbare dienste sowel as ekonomiese ontwikkeling van so ‘n aard dat dit die spiraal van swaarkry by sy wortels kan afbreek deur werksgeleenthede te skep. Spesifieke kritieke kwessies vir Afrikaners is dat hulle erken moet word as burgers van gelyke aansien en, na aanleiding daarvan, dat hulle regte as kulturele gemeenskap die status moet herwin wat die grondwet daaraan toegeken het.

 

Om die sosiale ooreenkoms te verkry, sal ook, buiten tasbare belange, 'n onsigbare sosiale bindmiddel in die vorm van wedersydse vertroue verg. Dit sal verstaan moet word as 'n projek van voortdurend brûe bou, en nie as een van die smee van 'n brughoof na die ander kant toe om hulle verower, in te perk of te ontmagtig nie.

 

Die heel belangrikste is dat die projek nie as 'n Trojaanse perd gesien moet word waardeur Afrika-nasionalisme uiteindelik Afrikanernasionalisme oorwin, of waar Afrikanernasionaliste 'n omgekeerde oorname uitvoer van die ANC-projek om hegemonie oor staat en samelewing te laat geld nie.

 

Dit gaan meer as 100 dae se werk deur alle betrokke belanghebbendes verg, maar ons kan dadelik wegspring, met inagneming daarvan dat daar immer aan vertroue gebou sal moet word. Die ANC sal van sy kant af moet toegee dat hy in hierdie tyd van onvolhoubare krisisse sommige van sy gekoesterde ideologiese visies sal moet laat vaar. Die nuwe sosiale ooreenkoms kan nie opgerig word as nog 'n setel van mag wat verower en beheer moet word nie.

 

Die onmiddellike praktiese implikasie van so 'n omvangryke ideologiese denkverskuiwing is dat die Ramaphosa-regering sal moet afstand doen van die idee dat die Ekonomiese Heropbou-en-herstelplan 'n aanvaarde "gemeenskaplike program is om die ekonomie te herbou", soos die president in sy staatsrede van 2022 beweer het. Dit is 'n dokument wat deur die ANC-regering geskep is en besit word, met insette van onbekende en naamlose partye. Dit bevat steeds talle of selfs meeste van die beleidspilare van die ANC wat ons ekonomie so lank al wurg.

 

Die ware Jakob sal deur al die belanghebbendes, oud en nuut, in die openbare oog uitgepluis moet word, sodat dit op voetsoolvlak legitimiteit kan verkry. Die Ekonomiese Heropbou-en-herstelplan kan hoogstens as 'n swaargewig-inset in die eintlike proses dien, 'n werksdokument wat as vertrekpunt gebruik kan word.

 

Daar sal dapper inisiatiewe van die kant van hierdie Afrikanerorganisasies af moet wees om vermoedens te besweer dat hulle besig is om 'n alternatiewe parallelle staat binne die SA staat te bou: enklaves vir hul eie eksklusiewe voordeel, eilande van voorspoed en orde te midde van die omliggende swaarkry.

 

Hiervoor sal hulle waarskynlik 'n kenmerkende ontwikkelingsprojek moet hê wat hul goeie trou demonstreer en aan almal, insluitend hulself, demonstreer dat hulle nog op hierdie laat stadium kan bereik wat net twee ander laat-laat ontwikkelende demokrasieë, Chili en Australië, tot dusver vermag het. So 'n projek sal natuurlik moontlik word sodra die regering die groen lig gegee het.

 

• Du Toit is 'n emeritusprofessor in die Departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch.

Lees die oorspronklike artikel in Business Day.

https://www.businesslive.co.za/bd/opinion/2022-03-17-pierre-du-toit-a-hundred-days-towards-a-new-consensus/

 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: