Deur Prof. Andre Duvenhage
Noordwes Universiteit
Terwyl 2020 onthou sal word as die COVID-19-jaar, is 2021 tot dusver (ongeag die tweede vlaag van COVID-19) oorheers deur politieke drama, konflikte en regsondersoeke. Soos die gesegde lui: Daar is “oorloë” en “gerugte van oorloë” en selfs nog meer samesweringsteorieë in hierdie onsekere tyd. Hierdie stelling word bevestig deur die onlangse getuienis wat deur verskeie rolspelers ten opsigte van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) gelewer is; die nimmereindige COVID-19-fiasko; Zuma se reaksie op die Zondo-kommissie en die uitspraak van die grondwetlike hof; Magashule se weiering om opsy te staan; Magashule en Zuma se komende hofsake; gerugte dat Zuma wil “vlug” of “veg”; die “teeparty” van Zuma en Malema, en fondse wat oral uitgeput begin raak om instellings te finansier wat noodsaaklike werk moet verrig.
Dit was egter die getuienis voor die Zondo-kommissie deur onder meer Sydney Mufamadi (leier van ʼn taakspan wat ʼn ondersoek geloods het oor die SVA) en Loyisa Jafta (DG van SVA), wat die Suid-Afrikaanse staatkundige bedeling tot in sy fondamente geskud het. In samehang met die getuienis van Me K en Mnr Y het die volgende na vore gekom:
In ʼn omgewing waarin endemiese korrupsie geïnstitusionaliseer was (en steeds is?), beskryf as staatskaping (gedryf deur die SVA), en waarvan “ingeligtes” sê dat ons nog net die punt van die ysberg gesien het; die ekonomie wat aan flarde is; die voorsiening van basiese dienste wat in sekere omgewings tot stilstand gekom het; beurtkrag wat van tyd tot tyd weer opduik, en sosiale konflikte wat in al sy vorme gedy, laat inderdaad die vraag ontstaan of hierdie politieke bedeling (lees die 1996-grondwetlike bedeling) se rakleeftyd moontlik verby is? Het bogenoemde kombinasie van politieke, sosiale en ekonomiese kragte Suid-Afrika nie reeds verby die spreekwoordelike “kantelpunt” gedryf nie?
My oortuiging, ondersteun deur sterk getuienis, beklemtoon dat dit wel die geval is (die meer waarskynlike scenario), en selfs poli tieke kommentators erken dat hulle ten opsigte van die ANC-regering heeltemal misgetas het. Die gesprek ten opsigte van die leierskap van president Ramaphosa lei ook tot toenemende bevraagtekening daarvan. Sy onvermoë om steeds groeiende krisisse te hanteer word daagliks duideliker. Die glas is aanvanklik beskou as halfvol, toe halfleeg, maar uiteindelik het die besef posgevat dat dit reeds lank gelede gekraak het en besig is om aan skerwe te spat.
Gaan 2021 die jaar wees waarin kombinasies van faktore ons gaan dwing om weer ernstig te besin oor die toekoms, terug te keer tekenbord toe en te besef dat alles in hierdie wêreld tydelik is, en dat ons net ten dele ken? Indien daar besin moet word, waaroor moet daar gepraat word, en waar pas die Afrikaner in binne die groter bestel en die toekoms wat voorsien word?
Die volgende sake is na my oordeel belangrike prioriteite en verdien verdere aandag:
Die Afrikaner, as slagoffer van transformasie, ervaar tans die status van tweedeklas burgerskap, met openlike en selfs wetlik gebaseerde diskriminasie, ongeag wat deur die grondwet en handves van menseregte (nierassigheid) beklemtoon word. Dit ontwikkel deesdae tot openlike konflik en geweld waarvan landswye plaasmoorde, asook die Senekal- en Brackenfell-insidente voorbeelde is. Die feit dat 1% van die burgery 70,9% van die rykdom besit en die onderste 60% slegs 6%, skep by talle armes weer ʼn gevoel dat die grondwet en huidige bedeling hulle gefaal het. Watter weg moet daar vorentoe gevolg word teen hierdie agtergrond.
Die implikasie hiervan is toenemende konflik, faksiegevegte en politieke mobilisasie. Dit is sterk te betwyfel of die ANC ongeskonde hieruit gaan kom. Kan Cyril Ramaphosa suksesvol optree teen korrupsie sonder om self ʼn slagoffer van die proses te word? Ek betwyfel dit baie sterk. Die ANC raak toenemend ʼn uitgediende organisasie, waarvan die ideologie nie tred hou met die eise van die tyd nie en waarin korrupsie (ongekend in die geskiedenis van die land) hoogty vier en waarbinne eersgenoemde as ʼn kriminele sindikaat ʼn demokratiese bestel moet bestuur. Dit is duidelik dat hier groot strukturele veranderings moet kom en dat die ideologie van toepassing dramaties hersien sal moet word. Ek twyfel egter sterk of die ANC bereid sal wees om dienooreenkomstig te handel.
Die implikasie hiervan handel nie net oor grondbesit nie, maar eiendomsreg in die algemeen. Die kans is bykans honderd persent dat die reeds brose sosiale samehangendheid hierdeur in gevaar gestel sal word; investeerders gaan vlug; kapitaal sal toenemend landuit gaan; belastingbasisse sal steeds verklein; skuldlaste sal verhoog; verdere ekonomiese afgraderings sal plaasvind, en voedselsekerheid sal bedreig word. In eie reg kan die wysiging van Artikel 25 (en wat daaruit mag voortspruit) die land in ʼn krisis dompel. Alle stappe om hierdie proses te keer, moet geneem word.
Hierdie lys van sake sou verder uitgebrei en ook in groter detail beskryf kon word. Volgens my staan 2021 in die teken van groot en verreikende verandering. Hierdie verandering gaan uitspeel op elke terrein van die groter samelewing en politiek. Die sake wat myns insiens die meeste uitstaan, is:
- die uitkoms van faksie-gevegte binne die ANC en die implikasies daarvan vir die groter staatkundige bestel;
- die verloop van die verrigtinge van die Zondo-kommissie en hoe dit gaan uitspeel op die politieke elite-groepe van vandag en gister;
- ekonomiese en finansiële volhoubaarheid;
- die moontlike plaaslike verkiesing, en die implikasies daarvan vir politieke en staatkundige stabiliteit.
Gaan 2021 die Rubicon-jaar van die ANC wees?
Daar bestaan min twyfel dat 2021 meer as sy kwota politieke drama gaan oplewer. Volgens my moet 2021 ʼn jaar van besinning en gesprek, maar ook daadwerklike handeling wees. Op voetsoolvlak bestaan daar groot kommer oor wat besig is om in die land te gebeur, maar is daar ook ʼn dringende oproep vir leierskap en handeling. Soos in die verlede, sal die Afrikanerbond ook in hierdie opsig ʼn belangrike rol moet speel. Tyd is nie juis aan die kant van veral minderheidsgroepe nie. Selfs die grootste optimiste begin besef dat die spreekwoordelike skrif nou werklik aan die muur is. Die 1996-grondwetlike bedeling is besig om voor ons oë in duie te stort. Die skerwe van die spreekwoordelike glas lê reeds op die grond.
Dit is nou tyd om bymekaar te kom, hande te vat, die verlede te vergeet en te vergewe, maar ook daadwerklik te beplan vir die toekoms. Hierin het elke Afrikaner ʼn rol en ʼn verantwoordelikheid. Dit begin by elkeen van ons!
Adres