Van ewewigheid en gelyke respek is hier nie sprake nie want Afrikaans word afgeskaal en beperk met die aanbod in die “nuwe strategie”. Die vraag ontstaan dus wie die invloed het om taalbeleid eensydig te wysig om besluite wat waarskynlik polities beïnvloed is, af te dwing op kanale en taalgebruik deur ʼn openbare uitsaaier.
Dit sou dus interessant wees om te verneem of die SABC se bestuurshoofde hulle onderwerp het aan hulle eie redaksionele beleid, wat insluit ʼn taalbeleid, in die kortsigtige besluit om Afrikaans af te skaal na ʼn veel kleiner kanaal. Indien wel sou die bestuurshoofde besef het dat Afrikaans nie net ʼn streekstaal is nie maar in werklikheid ʼn groeiende EN nasionale taal is.
Die SABC pluk egter die vrugte van eie finansiële tekortkominge en wanbestuur en ʼn verminderde aanbod van Afrikaanse inhoud die laaste jare, wat sepies insluit. Dit is jammer dat die openbare uitsaaier die geleentheid mis en so skouspelagtig faal in hulle openbare mandaat.
Ander kommersiële kanale en maatskappye het die geleentheid en waarde van Afrikaans ingesien en benut dit ten volle. Dit is aanduidend van die waarde van Afrikaans en getuig opnuut daarvan dat Afrikaanssprekendes altyd vasberade is om ’n pad te vind om hulle eie taal te handhaaf, deur gedrukte media, radio en ook met TV-dienste en kanale.