– Mandela se standpunt was dat die politieke wil ʼn oplossing vir Afrikaans kon bied
“Ek het dit ook uitdruklik gestel dat daar, ten spyte van die aanvaarding van 'n nuwe grondwet, steeds punte van kommer bestaan onder verskillende minderheids-belangegroepe. En die feit dat ons die grondwet aanvaar het beteken beslis nie dat ons nou nie meer daardie punte van kommer gaan aanspreek nie. Ons sal voortgaan om te soek vir onderling aanvaarbare oplossings, want ons wil hê dat elkeen moet voel dat hy of sy deel uitmaak van die pogings om die probleme van Suid-Afrika op te los. En elkeen moet onvervreembaar deel voel van die Suid-Afrikaanse nasie wat ons bou.”
“Een van die brandpunte in die grondwetlike onderhandelinge was die kwessie van taalmedium in die onderwys, en spesifiek die vraag na enkel-medium inrigtings. Kom laat ons hierdie gesprek vanoggend begin met die onderlinge aanvaarding van die feit dat daar van albei kante 'n kompromis aangegaan is oor hierdie saak. Nou lê dit op ons weg om in die implementering van daardie grondwetlike kompromis toe te sien dat aan alle belange gereg geskied. Dit word nou 'n kwessie van die politieke wil om dinge te laat slaag.”
“Die argument wat gevoer kan word vir die behoud, beskerming en vertroeteling van Afrikaans is sekerlik nasionaal eerder as seksioneel. Dit is 'n Suid-Afrikaanse taal wat, volgens alle standaarde, merkwaardig presteer het in terme van ontwikkeling as 'n taal van wetenskaplike, akademiese en algemeen-intellektuele uitdrukking. 'n Nasie wat sy intellektuele prestasies op prys stel, sal uit sy pad gaan om die middele van daardie prestasies te beskerm en te bevorder. Dit, glo ek, is die groot en sterk argument vir Afrikaans. Dit is dieselfde argument wat gemaak kan word vir die bevordering van wetenskaplike uitdrukkingsvermoë in al die inheemse tale; dit is in die nasionale belang om 'n algemene wetenskaplike geletterdheid binne bereik van 'n groter publiek te bring.”
Adres