Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

        Mei 2024

Die Afrikaner-Verklaring - Ons kan deur aansluitende samewerking ons eie

belang bevorder as deel van die nasionale belang

 

Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad

 

Die woorde van ʼn voormalige AB Voorsitter, prof Francois Venter is aangepas vir 2024 - Ons Afrikaners het vele stryde gestry, en baie daarvan is gewen: die taalstryd; die stryd teen die koloniale juk; die stryd teen armoede en agtergeblewenheid; die stryd teen verkleinering en gebrek aan selfvertroue; die stryd teen die koue oorlog; die stryd (met onsself) om afstand te doen van politieke mag en die stryd om regverdigheid en vryheid in geregtigheid in die voortbestaan in die nuwe bedeling in Suid-Afrika. Afrikaners in die verlede was helde en teenhelde, veldhere en voetsoldate, miljoenêrs en armlastiges, bouers en brekers, staatsmanne en manteldraaiers, geloofshelde en ketters, intellektuele en ploeteraars, kunstenaars en kleinburgerlikes, tegnoloë, tegnici, wetenskaplikes, boere, opvoeders, ekonome, juriste, medici, almal Afrikaners. Dit is wie ons is.

 

Afrikaners het die nuwe era ingegaan met die verwagting dat ons wense erken sou word om geregtigheid te dien en vryheid in geregtigheid te ervaar. Aan hierdie verwagting is nog nie voldoen nie, maar baie van ons bates is nog hier in die land en by Afrikaners: intellektuele, tegnologiese, kulturele, godsdienstige, taalkundige, landbou, onderwys, akademie, ekonomiese en sake bates. Dit is die bates wat Afrikaners met Suid-Afrika en ons medeburgers wil deel binne ʼn regverdige bestel vir almal.

 

Tydens die 2022 Bondsraad van die Afrikanerbond by die Voortrekkermonument het ons as prioriteit vir die Afrikanerbond ʼn nuwe verbintenis tot brugbou in Afrikaner geledere aanvaar. Ons het die fokus gekies omdat die lewensterreine van die Afrikaner deur soveel invloede bedreig word. Daarom moes ons die verdeeldheid uitskakel. Ons weet as ons ten minste aansluitende samewerking kan bewerkstelling, kan ons saam die bedreigings en invloede van buite die hoof bied. Die ideaal van die Afrikanerbond het waar geword.

 

In April 2024 kan ons terugkyk op die proses van meer as twee jaar om instemming te kry tot die Afrikaner-Verklaring. Vir ons was dit belangrik om deur konsensus die grootste gemene delers in die geledere van Afrikaners te mobiliseer of aanvaarding te kry. Daarom kan ons vandag:

  • die fokus plaas op die gemeenskaplikhede van en tussen Afrikaners en daardeur die verskille te oorbrug.
  • Afrikanerbelange doelgerig en met die grootste mate van konsensus te bevorder;
  • ‘n Gemeenskaplike Afrikaner ideaal bevorder;
  • Afrikanerskap te koppel aan ʼn gedeelde herkoms en geskiedenis;
  • Voortdurend soek na aansluitende samewerking

 

Ons is oortuig daarvan dat hierdie ʼn volgende stap is in die soeke na aansluitende samewerking tussen beduidende Afrikaner organisasies, instansies, individue en netwerke. Dit mag uiteindelik lei tot ʼn gemeenskaplike visie vir die meerderheid Afrikaners. Vir almal wat tot hier deel van die proses was wil ons opreg bedank. Die uitkoms was die Afrikaner-Verklaring en het ons vir onsself gewys Afrikaners kan hande neem in die uur van nood en krisis.

 

As Afrikaners vanuit ʼn breë Afrikanergemeenskap wil onsself nie isoleer van die land en sy mense nie. Net soos ander Suid-Afrikaners het Afrikaners die onvervreembare reg tot: 

  • die skepping van ’n vrye en regverdige samelewing waarin mense vir mekaar omgee;
  • ʼn omgewing waarin alle burgers van die staat se vrede en veiligheid verseker is;
  • ʼn land waarin die gemeenskap só georden is dat elke individu en elke gemeenskap sy volle potensiaal kan bereik; en
  • die algemene welsyn van die gemeenskappe, bevorder word.

 

Afrikaners se aansprake en ons beklemtoning van regte en belange moet nie in isolasie gesien moet word of as spesiale behandeling geag word nie. Ons vind aansluiting by internasionale gevestigde konvensies wat regte aan en kultuurgemeenskappe voorsien en verpligtinge op state plaas. Indien ons ʼn kultuurverdrag met die regering wil beding oor die regte en belange van Afrikaners, doen ons dit op basis van internasionale praktyk.

 

Een van die sleutel werklikhede in Suid-Afrika is dat ons ‘n multikulturele en veeltalige land is. Ons wil in ʼn gees van wedersydse erkenning en respek met ander gemeenskappe in Suid-Afrika praat om oplossings te kry vir die veelvuldige krisisse wat ons almal se toekoms bedreig. Ons wil ook graag ʼn bydrae lewer tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling van Afrika. Afrikaners se voetspore lê al lankal wyd in Afrika.

 

Vir die Afrikanerbond is die boodskap daarin met die Afrikaner-Verklaring dat dit ons nou in staat stel om volledig en trots Afrikaner te wees, sodat ons ook volledig Suid-Afrikaner kan wees en daarom ook volledig ʼn bydrae in ons land en op die kontinent kan lewer. Dit sluit volledig aan by die Afrikanerbond se goue formule naamlik die bevordering van die eie belang in samehang en in balans met die nasionale belang.  As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika. Ons is hier om te bly.

 

Sluit aan by die AB Gespreksgroep oor die Afrikaner Verklaring

https://chat.whatsapp.com/Biz9kGkPY96LfHTjXmdJvg

of stuur WhatsApp boodskap na 071 662 0721 met die boodskap (Verklaring Naam Van, lidnommer of e-pos) 

 

 ___________________________________________________________________________

 

Afrikaner Verklaring – AB in Dialoog webinaar (opname)

Dr Theuns Eloff wat die gesprek tussen organisasies, netwerke, leiers en individue gefasiliteer het, het ingestem om die Afrikaner Verklaring verder toe te lig tydens ʼn AB/Afrikaners in Dialoog webinaar en dan veral ook oor die betekenis daarvan in 2024 en wat die pad vorentoe is. Die webinaar het op Dinsdag 23 April 2024 plaasgevind.

 

Dries Wiese, AB voorsitter, het in die gesprek ook repliek gelewer en enkele gedagtes gewissel oor die Afrikanerbond se rol.

 

Die Afrikaners in Dialoog met dr Theuns Eloff en Dries Wiese se opname kan besigtig word by:

  https://www.afrikanerbond.co.za/theuns-eloff-afrikaner-verklaring-opname-webinaar---23-april-2024 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: