Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Oktober 2021

Afrikaans was weer in die spervuur in Erfenismaand

 

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

In die stryd om Afrikaans het die Afrikanerbond op 22 September 2021 met besondere vreugde kennis geneem van die Konstitusionele Hof se uitspraak dat Unisa se taalbeleid ongrondwetlik en onregmatig is. Dries Wiese, Voorsitter van die Afrikanerbond se Nasionale Raad het in ʼn mediaverklaring die uitspraak verwelkom en AfriForum ook geluk gewens met die toetrede tot die saak teen Unisa en hulle deursettingsvermoë om die saak na 5 jaar afgehandel te kry.

 

Art 29(2) waarop die uitspraak berus, bepaal dat elkeen die reg het om onderrig in een of meer amptelike tale volgens eie keuse in openbare onderwysinstellings, wat volgens die uitspraak ook hoër onderwysinstellings insluit, te ontvang. Om hierdie reg te verseker, kan die staat alle redelike onderwys-alternatiewe oorweeg, ook enkelmedium instellings, solank sulke instellings voldoen aan die vereistes van gelykheid, praktiese uitvoerbaarheid en die aanspreek van diskriminerende wette en praktyke van die verlede. Voorts het elkeen die reg om privaat onderwysinrigtings op te rig solank dié instellings nie ras-diskrimerend is nie, by die staat geregistreer is en dieselfde standaarde as openbare instellings handhaaf. Die staat mag sulke private instellings subsidieer.

 

“Dit bly egter onverkwiklik dat die regering diversiteit predik maar eentaligheid toepas” het Wiese verder in die verklaring toegevoeg  In Erfenismaand  is die uitspraak dus gepas deurdat dit die taalregte van studente erken en ʼn bepaalde verpligting ten opsigte van uitvoering aan Unisa opgelê het. Dit is ewe onverkwiklik dat taal- en kultuurgemeenskappe hulle in die finale instansie na die howe moet wend om hulle regte op te eis aangesien diverse tale met spesifieke verwysing na Afrikaans, grootliks uitgerangeer word, veral by histories Afrikaanse universiteite.

 

 Die Grondwet bevat bepaalde taalreëlings wat tot dusver nie na behore nagekom of volgens die uitspraak teen Unisa, ongrondwetlik en onregmatig is. Die neiging tot dusver was om ‘n meertalige Suid-Afrika te verander na ‘n Engels-eentalige Suid-Afrika. Dit gaan nie om ‘n stryd tussen tale nie, maar om die behoud en die uitbouing van tale, waaronder Afrikaans en die ander inheemse tale.

 

Dit bly daarom voortdurend nodig om te beding vir ‘n ononderhandelbare verbintenis vir die gelyke beregting van al 10 inheemse gebruikstale. Engels mag nooit die enigste bevoorregte taal wees nie. Ons hoop en vertrou dat ander universiteite en instellings deeglik kennis geneem het van die uitspraak!

 

Later die maand het die Afrikanerbond met verbasing kennis geneem van die Minister van Hoër Onderwys, dr. Blade Mzimande se ongevraagde verklaring op 28 September 2021 oor Afrikaans. Alhoewel Minister Nzimande erken dat Afrikaans een van Suid -Afrika se elf (11) amptelike tale is kan hy volgens die verklaring “nie toelaat dat Afrikaans gebruik word as 'n middel tot uitsluiting en onderdrukking nie, en ook nie as 'n middel om 'n eng en rassistiese Afrikanernasionalistiese agenda na te jaag, soos onder apartheid nie.”

 

Volgens Netwerk24 het die Demokratiese Alliansie vroeër die maand ‘n klag by die Menseregtekommissie teen dr. Blade Nzimande, ingedien na sy volgehoue aandrang daarop dat Afrikaans as ʼn “uitheemse” taal geklassifiseer moet word. Dit het gevolg nadat die beleidsraamwerk van Nzimande se departement oor taalgebruik in die hoër onderwys verlede jaar slegs Suid-Bantoetale” as inheemse tale in Suid-Afrika erken het. Die raamwerk definieer “inheemse tale” as “tale wat hul ontstaan in Afrika het om aan die suidelike Bantoe-taalfamilie te behoort”.

 

Minister Nzimande het die demokratiese reg om te reageer op die Demokratiese Alliansie se klagte oor die Menseregtekommissie. Sy minagtende houding oor Afrikaans word egter weer gedemonstreer uit die stelling dat Afrikaans “uit 'n wit regse agenda gered moet word.” Hiermee sleep hy Afrikaans opnuut soos Panyaza Lesufi telkens in ʼn onnodige ideologiese speelbal en maak dit goedkoop verkiesingspropaganda. . 

 

Minister Nzimande verkies om in die verlede vas te haak eerder as om die verantwoordelikheid te neem. Dit blyk verder dat dr Blade Nzimande ook nie tred hou met die realiteite van Suid-Afrika nie. Taaldiversiteit is iets wat nie summier deur ʼn ideologiese bril afgemaak en verdag gemaak kan word nie. Ons word opnuut herinner aan soortgelyke opmerkings deur Nzimande in 2014 oor Akademia en Afrikaanse universiteite en toe is met verwysing na NWU, terme soos volkstaat en apartheid enklaves ook kwistig ingespan deur die minister. Dit dui weer eens op ʼn onderliggende en dieperliggende afkeur van enigiets wat Afrikaans is.

 

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het ook hierby aangesluit en Suid-Afrikaners herinner daaraan dat Dr Nzimande in 2019 ook in die media aangevoer het “dat die gebruik van Afrikaans ’n middel is om “’n bekrompe en rassistiese Afrikanernasionalistiese agenda na te streef soos in apartheid”. Die SA Akademie het toe ook ’n verklaring uitgereik om die minister te repudieer oor sy bedenklike poging om politieke munt te slaan uit die Konstitusionele Hof se destydse uitspraak oor die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid.

 

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het Nzimande opnuut in daarop gewys dat dat “die Afrikaanse taalgemeenskap die mees diverse taalgemeenskap in Suid-Afrika is. Hierdie gemeenskap het ver gevorder op ’n pad van versoening en inklusiwiteit binne en buite ons gemeenskap. Afrikaanssprekendes beskou ons jong taal as ’n onskatbare bate vir al haar sprekers en mede-Suid-Afrikaners in die strewe na nasiebou in ’n konteks van diversiteit. Ons bestuur ons taal- en kultuurbates met groot sorg en beslis nié ten koste van ander taalgemeenskappe nie. Ons is trots op die konstruktiewe rol wat ons gemeenskap, die derde grootste taalgemeenskap in Suid-Afrika, in die heropbou van ons land vervul.”

 

Die ideologiese Nzimande verkies om op ʼn lui manier Afrikaans in te perk deur Engelse kolonialisering as om skeppend en kreatief oplossings vir Afrikaans en ander inheemse tale te vind. Die oplossings verg toewyding, aanpassing en begrip vir taal- en kulkuurdiversiteit. Dit blyk egter asof die woorde nie in die minister se woordeskat is nie, en dat hy eerder die land se ryke diversiteit sal laat verengels en sodoende ook uit te sluit, as om iets konstruktief by te dra tot die beskerming en bevordering van inheemse tale, Afrikaans ingesluit

 

In sy huidige posisie sal dit dr Nzimande eerder baat om met die breë Afrikaanse gemeenskap in gesprek te tree om te probeer verstaan wat die gemeenskap se behoeftes is. Dit help nie om uit ministeriële hoogtes neerbuigend en afbrekend teenoor ʼn taalgemeenskap op te tree nie en veral nie om sy ewige afkeer aan Afrikaanse so te demonstreer nie. In die verband het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gevra: of dr Nzimande oor kundige taalsosioloë en -adviseurs beskik? Die SA Akademie het gevolglik die dienste aan van hulle kundige lede en in die besonder dié van hulle Onderwys- en Taalkommissies aangebied om Dr Nzimande by te staan, sou hy dit versoek.

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: