Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Afrikanerskap, Identiteitspolitiek en die realiteite van Suid-Afrika

Afrikaner en Suid-Afrikaner  

 

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

Die onlangse bekendstelling van die Afrikaner-Verklaring het die kwessie van identiteit weer na vore gebring. Omdat ʼn groep Afrikaners hulself daarmee assosieer en gemaklik is met hulle Afrikaner identiteit het ʼn ander groep Suid-Afrikaners vanuit verskillende agtergronde met verbasing, skeptisisme of venyn gereageer. Beskuldigings en verwyte is gemaak van Afrikaner nasionalisme, rassisme, Afrikaner mobilisering en ook politieke laertrek rondom konserwatisme en hunkering na apartheid. Vir dié ruk geniet die ongrondwetlike onverdraagsames en individualiste weer die ou Afrikaner stryde. Ons wil alles wees maar tog net nie ʼn Afrikaner nie! Elkeen, Afrikaner of te nie, het ʼn mening en dit is nie eerste keer dat die debat gevoer gaan word en ook nie die laaste keer nie. Daarom het die groep wat die verklaring ondersteun ook nie voorgegee om namens alle Afrikaners te praat nie.

 

Die ironie is dat dieselfde kritici kan wegstaan van die Afrikaner begrip, maar as Afrikaners gesien en getipeer word deur mede Suid-Afrikaners. Veral vreemd is dat die mense wat so uitgesproke is in hulle venyn, die verwagting het dat ons half toestemming moet kry om as ʼn Afrikaner groepering te mag optree. Hulle wil nie Afrikaners wees nie, wil nie dat daar namens hulle gepraat word nie, maar is heel gemaklik daarmee om kommentaar en kritiek te lewer oor Afrikaners.   

 

Die poging is nie om die kompleksiteit van die debat te probeer verwoord nie, maar eerder om ʼn indruk te gee uit die gesigspunt of perspektief van ʼn Afrikaner. ʼn Afrikaner wat gemaklik is met sy veelheid van identiteite.   My veelheid van identiteite waarbinne ek soomloos kan beweeg in ek myself uitdruk :

 

  - Veelheid van identiteite


Ek is ‘n Christen                       Ek is ‘n Afrikaner

Ek is Afrikaans                          Ek is ‘n Suid-Afrikaner

Ek is van Afrika                         Ek is ‘n wêreldburger

Ek is die 9e geslag Bosman in ‘n familie met ʼn stamregister wat reeds meer as 300 jaar in Suid-Afrika hulself gevestig het.

Ek is deel van die Wes-Europese Kultuurgemeenskap

Ek woon in die stad en is deel van ‘n buurtgemeenskap

Ek is gemaklik deel van verskeie gemeenskappe in die sosiale media

Ek is ʼn gesinsman. 

Ek is deel van ʼn aktiewe ekonomiese gemeenskap in my beroep.

* Hierdie identiteite is aangepas vanuit FW De Klerk se Afrikaner identiteitsverklaring op 29 Mei 2015 by die AB Bondsraad by die Voortrekkermonument. 

 

Baie van ons het op Maandag 22 April met gemak as Afrikaners die Afrikaner Verklaring onderteken en doen sonder skaamte of sonder enige spyt. Ons neem ook Afrikanerskap op met al sy foute en laste, maar ook sy bates.  In ons grondwetlike reg tot vryheid van assosiasie kon ek met ander assosieer oor die belang en identiteit wat vir ons belangrik is. Oor dekades heen het ons  geleer om onsself te handhaaf en uit te druk in enige van ons veelheid van identiteite. Ons het ook geleer om balans te handhaaf in ons veelheid van identiteite, want dit vorm ons.

 

In die voorafgaande Vrydag was ek by ʼn konferensie in Johannesburg van Suid-Afrikaners wat hulle ideale vir die land gedeel het en saam besin het oor oplossings vir die land se vele probleme. Wit en swart, Afrikaans en Engels almal Suid-Afrikaners. Ek kon my gemaklik as Afrikaner in my Suid-Afrikaanse identiteit inskakel. Ek hoef nie een identiteit prys te gee ter wille van ʼn ander nie. Waarom die kritiek dat mens nie Afrikaner kan wees en Suid-Afrikaner nie.   

 

Afrikaner of Suid-Afrikaner? Geen van hierdie identiteite sluit ʼn ander een uit nie. Die vraag impliseer dat ʼn mens moet kies. Ek is Afrikaner en tegelyk Suid-Afrikaner.  Elkeen van die identiteite is individueel en ook gesamentlik mensverrykend, vorm my en maak my wie ek is. Ek is trots op elkeen van die identiteite. So kan daar ander identiteite bygevoeg word afhangende van elkeen se eie voor en afkeure.

 

Hierdie veelheid van identiteite word elkeen deur ons Grondwet erken en beskerm, of dit nou taal, kultuur, geloofsidentiteit of assosiasie is. Dit alles vorm die basis vir my menswaardigheid - die grondliggende waardes waarom die res van die Grondwet wentel.

 

Die aanhef tot die 1996-weergawe van die Grondwet bevestig dat Suid-Afrika aan elkeen behoort wat daarin woon, en dat ons verenig is in ons diversiteit of verskeidenheid. Die grondwet word selektief gebruik om Afrikaners te kritiseer maar dieselfde individualiste en onverdraagsames lees Artikel 30 (Taal en Kultuur) en Artikel 31 oor (Kultuur, godsdiens en taalgemeenskappe) mis. Die Grondwet bevestig ook die basis van ons nasionale eenheid, maar die voorwaarde is dat daardie eenheid deur ons diversiteit gevorm word. Die grondwetlike artikels is klaarblyklik slegs op die 13 tradisionele koningshuise en talle tradisionele leiers en onderdane van toepassing. Skynbaar is dit ook heeltemal in orde om te verwys na swart professionele liggame soos Black Lawyers Association, en Black Business Council maar as ʼn groep Afrikaners hulself identifiseer, dan is daar ʼn probleem. Waar is die ongrondwetlike onverdraagsames dan?

 

Dit moet beklemtoon word dat die Suid-Afrikaanse Grondwet nie verwys na die internasionale begrip ‘minderhede’ nie, en eerder verwys na gemeenskappe of groepe. Die drie tipes gemeenskappe wat in die Grondwet omskryf word, naamlik kulturele, godsdienstige en taalkundige gemeenskappe bevat egter die kenmerke wat internasionaal gebruik word om etniese, godsdienstige en taalkundige ‘minderhede’ mee te omskryf.

 

Die term Suid-Afrikaner is suiwer staatkundige begrip en kan nie verwar word met kultuurbegrip nie. Daar bestaan nie iets soos ʼn Suid-Afrikaanse kultuur nie, maar wel nasionaliteit. Dit word gedemonstreer in die sin dat daar nie ʼn enkele Suid-Afrikaanse taal is, of homogene kulturele gebruike nie. Nog minder is ons gesamentlik gevorm deur historiese kragte. Wanneer Suid-Afrika egter op die sportveld optree, of ons bevind onsself tussen mense van ander lande, is ons Suid-Afrikaners. Dit is ons patriotisme en dit is ons lojaliteit. Vanuit ʼn staatkundige begrip is ek eerstens Suid-Afrikaner en sal my Suid-Afrikaanse vlag met trots vertoon. Ek is dus vanuit ʼn nasionaliteitskonteks ʼn Suid-Afrikaner. Dit onderskei my van ander nasionaliteite.

 

Die term Afrikaner verwys egter na kulturele identiteit. Kulturele identiteit verwys na die gebruikstaal, ‘n gedeelde historiese herkoms, vaste kulturele gebruike, en vele meer. In 2010 skryf die grondwetkenner wyle prof Marinus Wiechers, “Die individu is die belangrikste kultuurdraer, maar kultuur kry eers volledige lewenskrag en bekendheid as dit deur (‘n groep mense ervaar en bewaar word, met ander woorde, binne ( ʼn besondere kultuurgemeenskap beleef word. So (ʼn kultuurgemeenskap word deur verskillende faktore geken, gewoonlik deur (gemeenskaplike taal, godsdiens en geskiedenis.”)  Vanuit dié kulturele perspektief is ek dus eerstens Afrikaner en sal ek verbete daarna strewe om my kultuur en identiteit te handhaaf uit te bou. Dit is ʼn grondwetlike reg en ʼn internasionale praktyk.  

 

Selfs Unesco wat poog om ʼn internasionale handves van kulturele diversiteit daar te stel beskou kultuur vanuit die 1982 Mexico Verklaring van Kulturele Beleide  as “eiesoortige eienskappe wat geestelike, materiële intellektuele en emosionele kenmerke van ʼn samelewing of 'n sosiale groep omvat, en dat dit benewens kuns en letterkunde ook lewenstyle, maniere van saamleef, waardestelsels, tradisies en oortuigings insluit.” (https://www.unesco.org/en/culture/about) Waarom mag Afrikaners hulself nie daarop beroep nie?

 

Ons ander identiteit is ons gedeelde taalverbintenis rondom Afrikaans. In die verband en binne die konteks deel ons die taal met miljoene gebruikers van die taal en moet ons verenig om die taal Afrikaans tot sy reg te laat kom. Nie almal wat Afrikaans praat is Afrikaners nie, en dit moet gerespekteer word.

 

Die probleem in Suid-Afrika is dat vele van hierdie identiteite - my identiteit as Afrikaner en my Afrikaanse identiteit - onder enorme druk verkeer. In ander dele van die wêreld is mense se geloofsidentiteit onder druk en lei dit tot ernstige konflik. Sommige is van mening dat Afrikaans sterker staan as ooit en dit mag weliswaar so wees. Afrikaans het ʼn sterkter kommersiële belang gekry deur TV, boeke en kuns. Afrikaans is egter nie net ʼn kommersiële gebruikstaal nie, maar ook ‘n amptelike en onderrigtaal. As dit verskraal word, moet ons dan stilbly? As ons ‘ʼn spesiale tipe kolonialiste”, grondstelers, en indringers genoem word en ons moet voortdurend hoor dat al Suid-Afrika se probleme in 1652 begin het en ons erfenisse deur dorp en straatname hernoem  word, moet ons dit gelate aanvaar?  

 

Dit is die een kant van die munt - Waar begin identiteit ʼn gevaar raak? Dit is slegs wanneer een identiteit my enigste dryf word, my hoogste ideaal word, my enigste identiteit, dat ek ʼn slagoffer kan word van ʼn negatiewe identiteitspolitiek. So kan slegs die bevordering van witheid binne ʼn kultuur van meerderwaardigheid, of slegs die eiebelang ernstige ideologiese konflik tot gevolg hê. Net so kan ʼn fanatiese of fundamentalistiese Christen of Moslem, ander se identiteite begin bedreig en is vele oorloë al op grond van die oorwegings gevoer.

 

Die laaste dekades worstel Suid-Afrikaners ook al hoe meer in deelname in ’n nasionale identiteit. Dit is asof die identiteit die swakste van almal gedefinieër is en is die enigste gemende deler dat ons binne ’n sekere staatkundige grens bly. Dit kan nie net die reënboognasie wees nie. Proff Albert Venter en Deon Geldenhuys skryf in ’n artikel “Demokrasie en Suid-Afrika” juis oor die grondslag van ’n nasionale identeit: “Die grondslae van so 'n konstitusioneel gebaseerde nasionale identiteit in Suid-Afrika word verskaf deur die Grondwet van 1996. Die volgende waardes is in die Grondwet ingebed: die eenheid van die Suid-Afrikaanse staat, 'n gemeenskaplike burgerskap,'n nasionale lied, erkenning van elf nasionale tale, 'n handves van regte, die onafhanklikheid van die regbank, 'n fundamentele toewyding aan die gelykheid tussen mense, vryheid van assosiasie en van geloof, opvattings en spraak.  Meer nog, kulturele, religieuse en etniese gemeenskappe se regte word in die grondwet verskans. Indien hierdie waardes mettertyd in Suid-Afrika deur almal geinternaliseer word en 'n lojaliteit daaraan deur die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners betoon word, sal dit 'n besondere kragtige grondslag vorm vir die belewenis van 'n nasionale identiteit in Suid-Afrika.” In 2024 en met die vireing van 30-jaar van demokrasie kan ons dan heel tereg en stellig verklaar dat die skep van ’n nasionale identiteit ernstige tekortkominge en leemtes het en die aanslag op die demokrasie en die staat het hierdie nasionale identiteit ernsig ondermyn.

 

Francis Fukuyama Amerikaanse sosioloog, politieke wetenskaplike en filosoof skryf in sy boek, Identity: Contemporary Identity Politics and the Struggle for Recognition wat in September 2018 bekendgestel is “Daar is dus niks verkeerd met identiteitspolitiek as sodanig nie; dit is 'n natuurlike en onvermydelike reaksie op onregte. Dit word slegs problematies as identiteit op sekere spesifieke maniere geïnterpreteer of afgedwing word.” Hy sê dan dat “Identiteitspolitiek het vir sommige progressiewe mense 'n goedkoop plaasvervanger vir ernstige besinning geword. Hy beskryf dan hoe identiteitspolitiek deesdae veral op die linkerkant van die politieke spektrum manifesteer deurdat dit:

  • Die aandag aflei van ouer en gevestigde groepe, wie se ernstige probleme geïgnoreer word;
  • Vryheid van spraak inperk en veral ernstige debat wat nodig is om ʼn demokrasie in stand te hou;
  • Die fokus al meer plaas op die sogenaamde “geleefde ervaring” van sommige individue teenoor die van ander individue en groepe. Dit is waarom mense so vinnig verontwaardig is of aanstoot neem. 


Fukuyama fokus dan op politieke korrektheid soos wat dit aan die mees linkerkant van die politieke spektrum beoefen word en wat direk aanleiding gee tot die opkoms van identiteitspolitiek aan die regterkant. Hy waak dan ook in die verband tot die oordrewe klem op raspolitiek in die regse spektrum. Hy maak egter die stelling dat “Identiteitspolitiek aan die linkerkant geneig is om slegs sekere identiteite te verabsoluteer terwyl ander geïgnoreer of verguis word, en verwys in die verband dan spesifiek na “Europese (d.w.s. wit) etnisiteit, die Christelike godsdiens, plattelandse gewoontes en verblyf, tradisionele gesinswaardes en verwante kategorieë.”  

 

Wat staan ons dan nou te doen? Suid-Afrika het dringend die behoefte aan ’n nuwe nasionale identiteit. Dit is na dertig jaar nog steeds afwesig.  Die waardes is gevestig. Ondanks huidige skerp verdelings het ons sekere gemene delers. Dit is hoe ons ʼn verenigde Suid-Afrika kan bou. Dit sal dan ʼn land en samelewing wees wat mense, met verskillende identiteite, se waardigheid erken. Eers dan sal ons die uiteenlopende identiteite van geloof, ras, kultuur, etnisiteit kan oorbrug. Dit is die Suid-Afrika wat ons is - die werklike Suid-Afrika. Een met vele diversiteite, een met mense met vele identiteite. Omdat sommiges dit nie kan aanvaar en respekteer en bevorder nie, word aan Afrikaners voorgeskryf wie en wat hulle moet wees.

 

Suid-Afrika is inderdaad ʼn land waar verskillende kulture in harmonie saamwoon en werk waarin ons interafhanklik is van mekaar en waarin die lotsbestemming van die Afrikaner ineengestrengel is met die van Suid-Afrika. Die Afrikaner kan nie losgemaak word van die land nie en die Afrikaner kan ook nie sy heil elders gaan soek nie. Ek is Afrikaner en Suid-Afrikaner. Ek wil hier bou en bly.


·       Lees gerus ook dr. Theuns Eloff se artikel met ʼn soortgelyke strekking by Netwerk24  https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/theuns-eloff-ek-identifiseer-onder-meer-as-n-afrikaner-20240429

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: