Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          November 2023

Afrikaners het nie opgehou praat nie

                     -     Dit is die regering wat nie wou luister nie

 

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

 

Tydens die onlangse Algemene Sinode van die NG Kerk in Boksburg spreek die Anglikaanse aartsbiskop Thabo Makgoba die sinode toe by wyse van ʼn groeteboodskap per video. Vanuit die media wat hieroor gerapporteer het, het aartsbiskop Makgoba onder andere verwys na Afrikaners wat hulle stem in die openbaar moet laat hoor en nie bang wees dat hulle as rassiste uitgewys gaan word nie. Hy het ook verwys na oud-president Thabo Mbeki en andere wat bekommerd is dat wit Suid-Afrikaners, en dan veral Afrikaners al meer vervreem word van die nasionale lewe. Afrikaners word dan gevolglik aangeraai om deel te neem aan debatte oor ons toekoms en om polities te organiseer.

 

Dit is uiteraard bemoedigend dat die aartsbiskop dit sê. Dit is min dat ons werklik van invloedryke swart Suid-Afrikaners die woorde van bekommernis hoor en die oproep tot  Afrikaners maak. Daarom kan dit nie eensklaps afgemaak word, of geïgnoreer word nie. Wat die aartsbiskop dalk nie weet nie is dat Afrikaners se stem nooit stil was nie. Dit is uitgedoof deur ʼn regering wat nooit wou luister nie want ons sienings is uitgeblok deur ideologiese oorproppe.

 

Aan goeie wil was daar nooit enige tekort nie. Afrikaners het die regering sedert 1994 op gereelde basis ontmoet, hetsy by wyse van direkte ontmoetings met die ANC, met ministers en met die onderskeie presidente. Ons kom immers uit ʼn bedeling uit waar ons apartheid afgetakel het en deur onderhandelinge die politieke mag afgestaan het. Dit het gepaard gegaan met ʼn bruidskat in ʼn bedeling met ʼn uitstekende infrastruktuur en ʼn stewig en goed gevestigde, finansiële, industriële, landbou, myn en dienste sektor. Ons kan op die stadium met die bestes van die wêreld kompeteer. Dit het vir ons kundigheid en ervaring gegee en Afrikaners was bereid om in ʼn nuwe bedeling voort te bou hierop.

 

Dit is nie dat die politieke leiers sedert 1994 nie die vermoë ingesien het nie. Ons word herinner aan president Nelson Mandela se toespraak voor ʼn groep Afrikaners op 15 April 1999 toe hy in Afrikaans gesê het - “Ek weet nie of Afrikaners altyd ten volle besef watter unieke posisie hulle in Suid-Afrikaanse geskiedenis beklee nie. En hoe daardie geskiedenis hulle toerus om mee te werk aan die ontwikkeling van ons land. Afrikaners was op verskillende stadiums van hul geskiedenis veroweraars en verowerdes; slagoffers van verdrukking en beoefenaars van onderdrukking. Met daardie agtergrond en historiese ervaring, en met hul kundigheid, kan hulle 'n besondere rol speel om die land op te bou tot een van voorspoed, geregtigheid en vreedsame saambestaan.”

 

Net ʼn paar maande later spreek President Thabo Mbeki die Afrikanerbond toe op 27 Julie 1999 en sê in Engels: “Ons ontmoeting vandag, nie meer as Europeërs teenoor Afrikane nie, maar as Suid-Afrikaners, word meer gevorm deur baie verweefde grense, as afsonderlike paaie. Ons ontmoeting vandag strek ook verder as die grense van ons nasiestaat, maar as Afrikane met mede-Afrikane, wat in ons streek en dwarsdeur hierdie uitgestrekte kontinent werk in die rigting van ekonomiese ontwikkeling. Want Afrikaners is Afrikane. So dwing hierdie gemeenskaplike grense ons om saam te sit, te beplan en vorentoe te beweeg, deurlopend en sensitief ons benaderings aan te spreek en aan te pas by die bekommernisse van al ons mense.”

Hy sluit sy toespraak soos volg af : “The happy reality in our country is that some of our best scientists are Afrikaner. Some of our best public administrators are Afrikaner. Some of our best political thinkers, businesspersons, health workers, journalists are Afrikaner. Some of our best and dedicated crime fighters are Afrikaner.”

 

In April 2009 praat President Jacob Zuma by ʼn byeenkoms met Afrikaner groeperinge en stel dit prontuit dat Afrikaners die enigste wit groepering is wat werklik Suid-Afrikaners is omdat hulle hier is om te bly. Op 22 Februarie 2011 plaas Beeld ʼn onderhoud met president Jacob Zuma, wat met hom in sy kantoor in Tuynhuys gevoer is. Tydens die onderhoud oor verskeie sake word president Zuma aangehaal waar hy sê: “Afrikaners moet hul eie sielkundige “Nkandla” vind, ’n tuiste waar hulle die vrymoedigheid het om dit wat vir hulle belangrik is uit te leef.” Sy korrupsie was op die tydstip nog nie volle openbaar nie. Hoe meer ons egter probeer het om die geestelike ruimtes te skep hoe meer is ons vir rassiste uitgemaak.

 

Op 7 Junie 2017 spreek President Cyril Ramaphosa die Afrikanerbond toe by ons eeufeesviering in Paarl. Hy sê onder meer oor Afrikaners (Vertaal uit Engels): “Afrikaners is by name en per definisie Afrikane. Hulle is so integraal tot die Suid-Afrikaanse nasie soos enige ander gemeenskap. Hul taal, hul kultuur, hul behoeftes en hul aspirasies is nie minder belangrik – en nie belangriker nie – as dié van hul landgenote.”   Hy sê dan onder meer oor die rol van die Afrikanerbond (ook vertaal uit Engels): “(Die Afrikanerbond se) credo weerspieël 'n begeerte tot die bou van 'n inklusiewe, regverdige en werklik demokratiese samelewing. Dit weerspieël 'n vasberadenheid om 'n Afrikaner-identiteit te smee wat gewortel is in 'n verbintenis tot die verbetering van die lewenskwaliteit en menswaardigheid van alle mense in Suid-Afrika.” Verskeie versoeke tot opvolggesprekke is nooit beantwoord nie.

 

Sedert 1994 het gereelde gesprekke individueel en as groepering van organisasies  plaasgevind, oplossings is voorgestel, gesamentlike werkskomitees is as oplossing voorgehou, liasseerkabinette vol planne en voorgestelde beleidsaanpassings is voorgehou. Dit is gedoen jaar na jaar na jaar. Afrikaners het gepraat en gekritiseer, ons het geluister ons het voorgestel en ons het weer gepraat. Die regering wou egter nie luister nie.

 

Wat wel waar is, is dat Afrikaners in die tyd geteikende vervreemding ervaar het. As ons Suid-Afrikaners wou wees, is daar vir ons gesê ons is gronddiewe, kolonialiste van ’n spesiale soort, rassiste, deel van witmonopoliekapitaal of selfs indringers. Ons taal word in skole en universiteite op ’n geteikende wyse onder ons uitgetrek. Straatname verander en word ons geskiedenis misken. Ons het gepraat en ons het gereageer maar die regering wou nie luister nie. 

 

Sommige onder ons het weliswaar  begin wegstaan van Afrikaneridentiteit.  Die bevordering van Afrikanerbelange is gesien as ’n hunkering terug na apartheid en die ou orde. Dit het mense huiwerig gemaak om sterk standpunt in te neem in die openbaar; hulle wou nie gebrandmerk word as reaksionêres wat slegs eie belang wou dien nie. Een van die heel grootste struikelblokke was die verwyt dat die Afrikaner nie kan saampraat oor aktuele kwessies nie omrede hy deur sy verlede gekontamineer is. Afrikaner leiers en persoonlikhede het stelselmatig begin wegstaan van die begrip Afrikaner en is ‘n meer omarmde begrip Afrikaanssprekend, en selfs Afrikaanses aanvaar en bevorder. Enkele individue het selfs uit hul Afrikanerskap bedank. Sommige Afrikaners het agteroor gebuig om polities korrek te raak in die nuwe Suid-Afrika.  Dalk wou die regering onvoorwaardelike lojaliteit van Afrikaners ontvang, in stede van lojaliteit aan die land. Afrikaners was vir ʼn kort tyd verward oor identiteit maar ons weet vandag onbeskaamd ons is Afrikaners. 

 

Dit is so dat Afrikaners nie eengesind was na 1994 nie. Talle het apaties geword. Ander het besluit om ter wille van die ordelike voortbestaan van Suid-Afrika en die Afrikaner, met die regering saam te werk in konstruktiewe deelname. Nog ander weer het die weg van protes gekies (hoofsaaklik passiewe protes om braaivleisvure) terwyl daar ook hulle was wat aktiewe konfrontasie gepropageer het. Baie ander het die land verlaat in die soeke na 'n veiliger toekoms. Andere het hul eie instellings begin oprig en was heel suksesvol daarmee. Die verskillende strome na 1994 het egter weer in groter strome opgegaan en andere vind weer in aansluitende samewerking onder Afrikaners ’n gemeenskaplike doelwit. Dit maak dit ook makliker om in die toekoms weer met ’n regering gesprek te kan voer. Hopelik dán ’n regering wat luister. 

 

Lojaliteit aan Suid-Afrika en lojaliteit aan die ANC en regeringsbeleid is wêrelde van mekaar geskei. Daar kan nie sprake wees van dislojaliteit aan Suid-Afrika as die regerende party gekritiseer word oor swak dienslewering nie. Net so kan daar nie sprake wees van dislojaliteit aan Suid-Afrika as Afrikaners bepaalde grondwetlike regte opeis nie. Dit sluit in die reg tot Afrikaans as onderrigtaal by skole en universiteite, dit sluit in die gebruik en bevordering van Afrikaans as een van die amptelike tale. Die reg tot die uitoefening van kultuur is ‘n grondwetlike reg en is nie iets wat net laat vaar kan word om ander ter wille te wees nie. Dit sluit ook in die reg tot gelyke behandeling in die ekonomie en nie uitsluiting deur regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging nie. Dit het ons telkens gesê maar niemand wou luister nie.

 

In die huidige politieke klimaat van rasse-onverdraagsaamheid en soms selfs haatspraak, is die bogenoemde sentiment een wat gesonde verstand en erkenning op die voorgrond plaas. In ons gereelde interaksie met die ANC en regeringsleiers is ons standpunt voortdurend - moet nie net die Afrikaner uitnooi om oplossingsgerig te help meewerk aan die probleme van die land nie, maar gee vir hom die geleentheid om prakties sy kundigheid en ervaring te demonstreer. Maak dus die speelveld gelyk sodat die Afrikaner, wat vir homself 'n tuiste in die land sien nog hier kan woon en werk. Daar kan nie van 'n inklusiewe Suid-Afrika gepraat word indien 'n rasgebaseerde beleid die samelewing nog steeds verdeel nie. Die meerderheid Afrikaners wil op 'n manier bydra om Suid-Afrika suksesvol te laat funksioneer en hulle doen dit ten spyte van baie beperkinge en beleidsraamwerke. Dink net aan die energie wat tot voordeel van Suid-Afrika losgelaat kan word indien hierdie beperkinge verwyder word.

 

Aartsbiskop Thabo Makgoba – dit is die feite. Dankie dat u die kommer van uself en andere met ons gedeel het en Afrikaners aanmoedig om te praat. Afrikaners het nie ophou praat nie, en sal ook nie ophou praat nie. Dalk wil ons net die keer net met iemand praat wat die politieke wil het om te luister.

 

ʼn Verkorte weergawe van die artikel het op Sondag 29 Oktober 2023 in Rapport Weekliks verskyn. Volg die skakel na die artikel:

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/afrikaners-het-nog-nooit-ophou-praat-20231027

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: