Afrikaners is die planmakers
Deur Dries Wiese
Voorsitter van die Nasionale Raad
Op Saterdag 2 Oktober 2021 het die Wes-Kaap se eerste provinsiale byeenkoms tydens die Covid-19 inperking te Robertson plaasgevind. Hiermee volg enkele gedagtes deur Dries Wiese, Voorsitter van die Nasionale Raad.
Na my verkiesing as voorsitter in Februarie 2020 het ek gesê dat Afrikaners besondere uitdagings in die gesig staar. Ek sien ons plek nog steeds op twee terreine en dit is hopelik waarmee die Bondsraad van 2022 homself sal besig hou. Ons praat al lankal van die goue formule van die Afrikanerbond naamlik ons werkterreine op eie en nasionale belang – of Die Afrikanerbelang en die politiek/staatkundige belang. Ek het in 2020 gesê Afrikaners kan hulself nie isoleer van Suid-Afrika nie, maar ons kan deur skeppend te dink en te doen wel ons plek opneem.
Die Afrikanerbond wat nog altyd uitnemendheid nagestreef het, se rol en plek is om deur interaksie en dialoog met die breë Suid-Afrikaanse samelewing om te sien na die belange van Afrikaners. Dit bly ons prioriteit. Dr Theuns Eloff skryf onlangs op 20 September 2021 in Netwerk24 met die vraag “vir wie gaan Afrikaanse mense stem?” en hy maak die volgende onderskeidings van Afrikaanssprekers
- Daar is wit en bruin Afrikaanssprekendes wat hulself bloot as Suid-Afrikaners beskou wat histories Afrikaans praat (maar wie se kinders nie noodwendig Afrikaans gaan praat nie);
- Daar is bruin Afrikaanssprekendes wat hulself as ’n spesifieke kultuurgroep (met Khoisan-wortels) beskou, en wat Afrikaans as hul moedertaal beskou en veg om dit vir hul kinders te behou;
- Daar is wit Afrikaanssprekendes wat nie met die historiese begrip “Afrikaner” kan of wil identifiseer nie, maar eerder die eufemisme “Afrikaanse” gebruik. Hulle bevind hulle meestal (maar nie uitsluitlik nie) in die Wes-Kaap;
- Daar is (meestal) wit Afrikaanssprekendes wat hulself as Afrikaners beskou en hulle met die geskiedenis, erfenis en huidige kultuur van hierdie groep vereenselwig. Hulle bevind hulle meestal (maar nie uitsluitlik nie) in die sentrale en noordelike dele van die land. Meer en meer van hulle is egter tans besig om flink na die Wes-Kaap te “semigreer”. Binne-in hierdie groep kry ’n mens wyd uiteenlopende sienings van die geskiedenis, apartheid, ras en die grondwetlike bestel.
Hy brei dan uit op elkeen van die kategorieë en sê elkeen van die groepe het “meer of minder gestruktureerde strategieë vir oorlewing as minderheidsgroepe. “
Oor Afrikaners skryf hy “Die “Afrikaners - bevind hulle grotendeels in die geledere van die Solidariteitbeweging, die Afrikanerbond, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en verskeie landbou-organisasies. “Hulle het die mees gestruktureerde strategieë van enige van die groepe. Solidariteit, byvoorbeeld, noem dit kortweg “Ons bou self”. Hulle werk buite die partypolitieke bestel en hulle doel is om hulle lede “staatsbestand” te maak. Hulle probeer om teen die agtergrond van die vervallende staat (veral in die noorde van die land) basiese dienste, veiligheid, werkgeleenthede, kulturele vryheid en Afrikaanse onderwys vir hul lede te bewerkstellig – sonder staatsfondse. Hulle stel nie hulle hoop op enige politieke party nie.”
Dan maak Dr Eloff die belangrike punt
“’n Nuwe dimensie is dat Afrikaners en bruin Afrikaanssprekendes nie meer hoofsaaklik binne- parlementêr en binne partypolitiek werk nie."
Watter rol moet die AB dan speel? Ons het onlangs ʼn dokument in die dagbestuur ontvang en wat ook as gespreksdokument met die oog op die Bondsraad versprei sal word (Nagevors en geskryf deur Prof Deon Geldenhuys) Ons het die laaste klompie jare se besprekingsdokumente en standpuntdokumente aan hom gegee en gevra hy moet vir ons die essensie daarvan uithaal. Hy het baie waardevolle inligting vir ons gegee en gee antwoorde aan ons wat ons sinvol op die Bondsraad sal bespreek
1) Waar staan die Afrikaners vandag? (Bestekopname op verskeie terreine) Hoe beleef Afrikaners hul land?
2) Waarvoor staan die AB? (Visie, missie, beginsels ens)
3) Wat wag op Afrikaners? (Scenario’s) Watter vooruitsigte is daar vir Afrikaners?
4) Wat doen die AB? Hoe nou gemaak? (Planne ens)
Prof Geldenhuys onderskei dan die tipiese rolle van ʼn moderne burgerlike organisasie wat volgens die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF), een of meer van die die volgende kenmerke het wat ook kan oorvleuel: Waghond, Pleitbesorger: Diensverskaffer, Deskundige, Bouer en skepper van vermoëns: Inkubator wat oplossings ontwikkel, Verteenwoordiger van groepe. Bevorderaar van burgerlike verantwoordelikheid, Solidariteit met ʼn saak en dit bevorder en Definieerder van standaarde.
In elkeen se eie gedagtes is daar reeds een of meer kenmerke wat die Afrikanerbond vervul of kan vervul. Ek wil graag weer met u die aksies deel van die laaste jaar ten spyte van Covid-19 waar ons vinnig, nuut en kreatief moes dink. U sal onthou dat ek in Februarie 2020 in Malmesbury reeds gepraat het oor ons nuwe virtuele wêreld. Dit het ons gouer getref as wat ons almal gedink het.
Dit was die gulde geleentheid om gouer as later virtueel te begin werk en het ons na my mening uitnemend presteer:
- Ons boodskappe van Hoop in die eerste maande van inperking het die weg gebaan om ons lede daagliks te inspireer
- Ons e-nuusbriewe (E-Afrikaner) het na ʼn lang tyd van stilte weer te voorskyn gekom in ʼn nuwe gedaante
- Ons Nuusbriewe (Maandeliks) kom nou in die ouer (PDF formaat) maar ook in ʼn nuwe virtuele wyse uit en spog ook met ʼn nuwe en moderne voorkoms.
- Die Afrikanerbond se webwerf is intyds aangepas, relevant, aktueel en ʼn aanwins vir ons organisasie. Ons nuutste standpunte is vinnig en aktueel op die webwerf.
- Ons is nou in beplanning vir ons 14e webinaar wat op moderne wyse daarin slaag om ons lede te bemagtig – 5 Oktober 2021 Ab in dialoog met Waldimar Pelser - Dieselfde webinare is ook uitstaande bemarkingsmateriaal en is as geredigeerde gesprekke op ons webwerf beskikbaar, waar dit gesamentlik letterlik al duisende kere gekyk is. Elke webinaar betrek ongeveer dieselfde aantal lede wat Bondsrade bywoon.
- Ons kon die boek deur prof Ernst Stals oor die Afrikaner-Broederbond tegnies afhandel tot by ʼn punt van drukgereedheid en bekendstelling op 5 Mei 2021. Dit word nog steeds op gesubsidieerde wyse aan lede beskikbaar gestel.
- Ons handel nou die tweede besprekingsdokument af wat in-diepte ontledings doen oor die posisie van Afrikaners en die derde een volg teen die einde van die jaar
- Die Afrikanerbond reageer tydig en al meer in die openbaar met standpuntstelling en mediaverklarings oor sake wat Afrikaners direk raak.
- Die Afrikanerbond kon voortbou om as sameroeper van die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte ʼn netwerk van organisasies en individue telkens byeen te bring om gesamentlik en gekoördineerd, aksies ter verdediging en beskerming van eiendomsregte te beplan.
- Vuurwapenwetgewing – Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte se bespreking oor vuurwapens het op 23 Junie 2021 (midde in Covid-19) by TLU SA plaasgevind en is ook per Zoom uitgesaai na belangstellendes (Jaco Schoeman en Jan Bosman is die rolspelers in die verband)
- Onteiening en anargie - ʼn Groot byeenkoms van rolspelers het op 29 Julie die Ad Hoc-Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg soos gefasiliteer deur die Afrikanerbond ʼn webinaar met die tema Anargie in die grondwetlike demokrasie en die bedreiging van eiendomsreg aangebied. Nagenoeg 425 mense het geregistreer vir die webinaar beraad
- Ons is telkens deel van hoofstroom gesprekke met regering, buite parlementêre instansies en politieke partye soos wat die Februarie 2021 gesprek met die Thabo Mbeki Stigting gedemonstreer het. ʼn Afrikaner leiersgroep ontmoet weer binnekort om die aksie verder te neem. Br Pieter Vorster en Jan Bosman is ons verteenwoordiger.
- Ons is deurgaans besig met verskeie gesprekke om dialoog tussen kulture, gemeenskappe en groeperinge te bevorder met die doel om gemeenskaplike kwessies uit te lig in die soeke na gemeenskaplike belange. Ons beplan om eersdaags ʼn konferensie saam met die DAK Netwerk aan te bied oor Identiteit en veral Suid-Afrikaanse identiteit.
- Ons kon ʼn nuwe teenwoordigheid vestig op Facebook en Twitter en sodoende ook nuwe belangstelling in die Afrikanerbond trek.
- Ons het twee maal volledig en omvattend gereageer op die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid.
- Ons het omvattend gereageer oor onteiening soos vervat in die konsep wetgewing van die Departement Openbare Werke en het op 7 September mondelings kommentaar gelewer aan die parlementêre portefeuljekomitee.
- Ons het omvattend gereageer oor die Art 25. grondwetwysigingsproses en was gereeld aangehaal oor ons standpunt.
- Ons bly deurlopend in kontak met die Nasionale Stigtings Dialoog Inisiatief wat die Nelson Mandela Stigting, Thabo Mbeki Stigting, FW De Klerk Stigting en andere insluit. Die hoofsekretaris het aan die begin van 2021 ʼn Zoom aanbieding aan verteenwoordigers gedoen oor ons eie dialoog inisiatief wat as Diverse (Dialoog en diversiteit) bekend staan
- Ons hou ons ouer lede in gedagte wat nie toegang het tot die internet en e-posse nie en hulle ontvang op gereelde basis die AB se nuusbriewe, studiestukke en verjaarsdagbriewe per pos wat bepaalde koste inhou.
- Die Afrikanerbond is soos in die verlede nog steeds betrokke as lid of as direkte verteenwoordiger op die direksies van: Die Afrikaanse Taalraad, Die Voortrekkermonument en Erfenisstigting, Die Rapport Onderwysfonds, Mentorvennoot en Die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte.
- Ons het pas weer geadverteer vir ʼn pos vir ʼn voltydse veldtogbestuurder by Die Eike – tans net twee voltydse personeellede wat die onmoontlike vermag om ledesake, administrasie, inligting en kommunikasie en skakeling te hanteer
Dit alles kon ons in ʼn baie knap begroting, minder lede en groter koste doen in 2020 en 2021
Ons het uitstaande sake en ook uitdagings
o Ons moet ons ledewerwing en finansies uitbrei en opknap. Ons moet ons strukture en veral ons provinsiale verteenwoordiging bekyk met die samestalling van die Nasionale Raad. Ons moet dinamies toetree tot die virtuele wêreld en nie agter vertroulikheid skuil nie – vertroulikheid is slegs ʼn werkswyse – dit kan nie ons hoofdoelstelling wees nie. Ons moet ons teenwoordigheid in elke provinsie uitbrei.
Die Afrikanerbond was nog nooit en is nie van plan om kompetisie te wees vir enige ander organisasie nie – nie Solidariteit nie, nie AfriForum of die ATKV nie.
Wat is die AB dan vandag Die AB is in 2021 en net soos 1990 en net soos vroeër in ons bestaan:
- primêr ʼn
meningsvormende en
denke inisiërende instelling
- wat die geleentheid aan sy lede bied om aktueel en dinamies standpunte te stel en te verneem,
- tot nuwe insigte te kom,
- en om dan die insigte en perspektiewe in sy besondere invloedsfeer, volgens eie oordeel en inisiatiewe te stel en verder uit te dra.
- Lede oefen dus vanuit die omgewing en kultuur van die AB individueel invloed uit op elke lewensterrein waar hulle aktief is.
In 2010 was ons deel van die Afrikaner Burgerlike Netwerk se scenario beplanning wat gelei is deur Proff Andre Duvenhage en Jaap Steyn en waaruit ʼn 232 bladsye verslag saamgestel is. In reaksie het Prof Francois Bredenkamp vir die AB ʼn besprekingsdokument opgestel wat spruit uit die omvattende verslag van die ABN om Afrikaners weer hoop te gee.
Die 8 doelwitte of voorstelle wat hy voorgestel het, kan ons vandag weer herbesoek:
- die uitbouing van die “Afrikaanse burgerlike samelewing” en die vorming van bondgenootskappe tussen Afrikaners en ander gemeenskappe;
- Ek het nou gerapporteer wat ons doen en nog steeds doen en beplan
- die verruiming van “ons selfopvatting oor Afrikanerskap” óór bestaande grense van ras, geslag, geslagtelike oriëntering, geloof of agtergrond;
- In 2021 is daar beslis ʼn sterker selftrots onder Afrikaners omdat ons nie skaam is om onsself as Afrikaners voor te stel nie.
- die bevordering van eenheid tussen die Afrikaanse susterkerke;
- Is dit op die AB se terrein? Ek sal baie graag ook die kerke se stem wil hoor oor Afrikaner en nasionale kwessies en ons sal die kwessie ook op ons agenda hou
- die ontwikkeling van “’n volledige stel ideale wat Afrikaners kan rig om effektief vir hul toekoms te werk”;
- Ons onlangse besprekingsdokument en die twee wat volg gee praktiese beslag hieraan
- die behoud van boere-organisasies se “sinergistiese verbintenis” met ander Afrikaner-organisasies en die smee van bondgenootskappe tussen stad en dorp om plattelandse sentrums lewensvatbaar te hou;
- Ons het deurlopende skakeling en kontak met AgriSA, TLU SA SAAI om dit te probeer bereik.
- ʼn verandering in Afrikaners se “taalgesindheid” na vorme van “sterker taalselfgelding”
- Die Afrikaanse Taalraad het tot stand gekom en die AB was stigterslid hiervan. Kyk ook na ons kommentare op beide Stellenbosch Universiteit en UNISA uitspraak
- die totstandkoming van ʼn volwaardige en onafhanklike Afrikaanse universiteit;
- Akademia en Soltech is intussen deur Solidariteit tot stand gebring – Ons hoor die sprake van ʼn Afrikaanse Universiteit in die Wes-Kaap en ons sal graag ondersteuning wil gee vir so ʼn inisiatief
- Laastens die behoorlike posisionering van die AB “om ʼn doelmatige en doeltreffende organisasie binne die Afrikaner-gemeenskap én die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap uit te maak
- Dit het ek reeds aan u verduidelik wat die AB se goue formule is
- Ek is ook onbeskaamd oor ʼn Breë Afrikaner leierorganisasie verteenwoordiging – ons fokus is die tipe Afrikanerraad of leiersraad wat kan koördineer Ons moet aktief begin werk aan ʼn verteenwoordigende Afrikaner instelling.
Ek het nou vir u gesê wat ons doen – die vraag is wat doen die Wes-Kaap en ons lede? Help ons om ons voetspoor groter en duideliker te maak.
Behalwe vir ons rustende lede onderskei ons tussen die volgende gewone en aktiewe lede:
- AB lede wat aktief by Afdelings inskakel.
- Buitelede wat nie aktief inskakel is nie en wel al die voordele van lidmaatskap ontvang en deelneem aan aktiwiteite. Die kategorie van lede word al groter.
Die dagbestuur het ook onlangs die kategorie Belanghebbendes goedgekeur – Hulle is die vriende van die Afrikanerbond wat in verskeie databasisse opgeneem is. Hulle is opgeneem deur die AB se digitale voetspoor. Hulle word gereeld genooi na byeenkomste en aksies en ontvang nuusbriewe op gereelde basis. Dit is ook mense wat gereeld deur AB lede ingelig en uitgenooi word na webinare, wat die nuusbriewe vanaf lede ontvang. Ook mense wat hou van die Afrikanerbond se Facebook blad. Hulle is almal potensiële AB lede.
Ons moet ons ledebasis uitbrei. Daarom is dit vir elke lid, afdeling, gebiedsraad en elke struktuur van die Afrikanerbond ʼn prioriteit om daardie individue in die samelewing te identifiseer wat ʼn invloed uitoefen in die samelewing. Lede van enige organisasie word gesien as Leiers, Dinkers, Doeners, Ondersteuners, Saamlopers en Verbruikers en vir elkeen van hierdie kategorieë is daar potensiële lede daarbuite wat op een of ander manier ʼn bydrae tot die Afrikanerbond kan maak. Wil u ons nie help om daardie mense te betrek by die Afrikanerbond nie?
Ter afsluiting - Wat is die sewe waardes wat elke lid en die Afrikanerbond in ons optrede moet rig?
Regverdigheid - Optrede deur redelikheid, onpartydigheid, menswaardigheid en goeie oordeel.
Verantwoordelikheid - Optrede deur aanspreeklikheid te aanvaar vir wat ons doen en wie ons is en die nastrewing van uitnemendheid
Vertroulikheid – Om deur ons werkswyse aan ons lede die geleentheid te kan bied om openhartig te kan wees in gesprek. Ook teenoor mekaar.
Geloofwaardigheid - Optrede deur integriteit, eerlikheid, openhartigheid, eerbaarheid en opregtheid
Lojale burgerskap - Altyd lojaal aan Suid-Afrika, edele en onbaatsugtige diens aan die gemeenskap
Waarheidsoekend – Altyd aan die voorpunt in die soeke na die beste oplossing vir Suid-Afrika en sy mense
Wees Sterk – In geloof, in daad en in ons onderlinge standpunte. Dit bly ons bemoedig.
2 Oktober 2021