Afrikaners se Erfenisse is te sien om ons - Die ANC het bittermin om te wys
Deur RW Johnson
Die onderstaande artikel het op 24 Oktober 2021 in Afrikaans in Rapport verskyn en is op 25 Oktober in Engels in Politicsweb gepubliseer. Met die volle vergunning van RW Johnson en met erkenning aan Rapport plaas ons graag die artikel.
Vanjaar op Erfenisdag (24 September) het die FW de Klerk-stigting ʼn diepsinnige verklaring uitgereik wat bevraagteken wie se erfenis gevier word. Die minderheidsuitspraak van regters Cameron en Froneman in die saak Stad Tshwane vs. AfriForum (2016) is aangehaal en die stigting suggereer dat die meerderheidsuitspraak “blykbaar die reg van wit Suid-Afrikaners om kultuur te hê bevraagteken. Die minderheidsregters het uitgewys “die moontlike gevolgtrekking (uit die meerderheidsuitspraak van die konstitusionele hof) kan wees dat enige staatmaak deur wit Suid-Afrikaners, veral wit Afrikaners, op kultuur; tradisie wat op die geskiedenis gegrond is, nie in die Grondwet erken word nie omdat daardie geskiedenis onvermydelik uit onderdrukking spruit.”
Die stigting het gevra of die uitspraak beteken dat “die geskiedenis van wit Suid-Afrikaners niks anders as ʼn eendimensionele geskiedenis van onderdrukking is nie.” Hoe kan dit wees? is gevra. Alles in ag genome was die Tweede Anglo-Boereoorlog die grootste vryheidsoorlog in die geskiedenis van Afrika.
Trouens, natuurlik is ons almal vertroud met hierdie uitkyk. Want nouliks toevallig, het die meerderheid van die konstitusionele hof die ANC se mening geëggo. Volgens die ANC is alles wat tussen 1652 en 1994 gebeur het, net “onderdrukking” – ʼn bespotlike kompressie van ʼn ryke en komplekse geskiedenis waaroor ANC-leiers byna heeltemal onkundig is.
Die stigting kon dalk dienlik verder uitgewei het en verkieslik moes ʼn verklaring deur FW de Klerk self uitgereik gewees het as die laaste Afrikanerleier. Natuurlik het Engelssprekende Suid-Afrikaners hul eie lys historiese en kulturele verskynsels waarop hulle trots is - byoorbeeld twee Nobelpryse vir literatuur of Suid-Afrika se opofferings in die Eerste Wêreldoorlog of later, hul wesenlike bydrae tot die nederlaag van die Spilmoondhede.
Maar aangesien Afrikaners spesifiek die ANC se teiken in hierdie stryd oor erfenis is, kom ons vra wat het Afrikaners in die 20ste eeu bereik?
Daar moet eerstens erken word dat daar ook baie in hierdie erfenis is waaroor die Afrikaner moet skaam voel. Afrikanerleiers het weliswaar herhaaldelik en openlik om verskoning gevra vir apartheid en gewoonlik vir hul onderdrukkende rol. Maar daar is ook baie waarop hulle kan trots voel, soos hoe Afrikaners, wat platgeslaan was deur hul nederlaag in die Anglo-Boereoorlog, hulself gou weer kon ophef en opbou as ʼn gemeenskap. Deel hiervan was die uitsonderlike poging om Afrikaans as ʼn taal te vestig en versterk. Ten spyte van blindelingse globalisering, die triomf van Engels en die uitwissing van verskeie minderheidstale, kon net twee minderheidstale suksesvol teen die gety swem, Hebreeus en Afrikaans. Enorme getalle boeke is in Afrikaans vertaal en nog meer in die taal geskryf. Vandag word meer boeke jaarliks plaaslik in Afrikaans uitgegee as in Engels. Geen ander Afrikataal kon dit bereik nie.
Vir die hele tydperk vanaf Uniewording tot 1994 is Suid-Afrika deur Afrikaners gelei. Daardie periode is gekenmerk deur enorme ekonomiese groei, die industrialisering en verstedeliking van die land, die bou van indrukwekkende infrastruktuur sonder enige gelyke in Afrika - nie net paaie en brûe en damme nie, maar hawens, lughawens en gesofistikeerde waterstelsels. Bowenal is duisende skole, hospitale en klinieke gebou en beman, sowel as ʼn dosyn universiteite. By verre die grootste en beste geïntegreerde spoorstelsel in Afrika is gebou en onderhou, sowel as Afrika se leidende lugredery.
Die land se behuisingsaanbod is geweldig uitgebrei - insluitend die bou van swart townships op ʼn hoër standaard as wat in die HOP-era gesien is. Die hoogste vlakke van ekonomiese groei in Suid-Afrika is in die 1950’s en 1960’s gesien. Daardie periode het ook die vinniggroeiende uitbreiding van Afrika-onderwys gesien in hierdie land. Bygesê dit was om (ondergeskikte) Bantoe-onderrig te gee, maar ʼn paar swart intellektuele het al verklaar Bantoe-onderwys was inderwaarheid beter as dit wat die meeste townships en informele nedersettings vandag ontvang. Gelyklopend met die land se vooruitstrewende industrialisasie was daar ook die grootste uitbreiding in Afrika in landbouproduksie met die ontwikkeling van gesofistikeerde plase en besproeiing, dalk met die uitsondering van wat te sien was in Zimbabwe.
Die besonder indrukwekkende Eskom was verantwoordelik om krag vir al hierdie dinge te verskaf en het ʼn groot surplus elektrisiteit teen die goedkoopste pryse in die wêreld gelewer. Dis was grootliks ʼn Afrikaner-prestasie, gelei deur die merkwaardige Hendrik van der Bijl.
Afrika-nasionaliste het al hierdie prestasies weggepraat deur uit te wys dat die meeste hiervan die vrug van Afrika-arbeid was. Dit is waar, maar dit mis grootliks die punt. Daar was immers geen tekort aan Afrika-arbeid in al die ander Afrikalande nie, maar nêrens anders het dit dieselfde resultate gelewer nie. Want sulke ontwikkeling leun op fyn beplanning, visie, belegging, bestuur en ʼn vasberadenheid om dit deur te voer: Dit, eerder as die bestaan van ʼn oorvloedige arbeidsmark, is die bepalende faktore.
Ironies genoeg versprei die Nasionale Party die wanindruk dat die Afrikanererfenis hoofsaaklik gaan oor volkspele, boeremusiek en die Groot Trek, maar die feit staan dat die 20e-eeuse erfenis baie indrukwekkender was: Dit het ʼn sterk, moderne land gebou.
Dieselfde uitdagings om hierdie moderne Afrikaner-erfenis te vier, word gesien in Argentinië. Buenos Aires is tereg befaamd vir sy merkwaardige argitektuur en bekend as ‘die Parys van Latyns-Amerika’;. Maar die probleem is, dit is 19e-eeuse prestasies. In 1900 was Argentinië een van die wêreld se toptien-ekonomieë, maar vandag is dit slegs nommer 21 en wanneer dit kom by lewensgehalte le Buenos Aires 91ste. Die glorie was gister.
Suid-Afrika se agteruitgang was selfs vinniger. Dit het die wêreld se 18de grootste BBP in 1974 gehad, maar het teen 2019 38ste gelê. Meer nog, terwyl ware per capita-inkomste jaarliks van 1911-1961 met 1,8% gestyg het, het dit sedert 2015 deurlopend gedaal - vir sewe agtereenvolgende jare. Geen einde aan daardie proses is in sig nie. Waar die Afrikaner die land gebou het, breek die ANC dit af.
Wat het die ANC sedert 1994 gebou? Baie HOP-huise, ʼn paar wit-olifant-sokkerstadions, die Gautrein en gemoderniseerde lughawens. Dit word egter uitgewis deur die ongelooflike verval - die verlies aan water- en elektrisiteitsverspreidingsnetwerke, die versuim om paaie en brûe te onderhou, die ineenstorting van die SAL, die amper totale ineenstorting van die spoorweë en die vervalle toestand van baie dorpe en stede.
Waarom die kontras? Eenvoudig gestel, waar sy voorgangers belegging vooropgestel het, het die ANC verbruik begunstig. Groot somme word weggegee as maatskaplike toelaes, die deel van die nasionale begroting wat deur staatsdienssalarisse ingesluk word, het die hoogte ingeskiet, in elke dorp en stad trek burgemeesters, raadslede en munisipale bestuurders nou groter salarisse en toelae as voorheen en vakbonde dring gewoonlik aan op inflasie-plus-salarisverhogings, selfs terwyl die ekonomie krimp. En natuurlik word groot bedrae geld gesteel. Op die oomblik word gevra vir nog meer verbruik, gefinansier deur ʼn ‘basiese inkomstetoelaag.
Wat koop al hierdie geld? Luukse motors, klere en huise, duur troues, partytjies en oorsese reise en groot hoeveelhede alkohol en wegneemetes - plus ʼn groot klomp nederiger artikels wat die armes koop. Bitter min met enige langdurige waarde. Die mees indrukwekkende geboue, die Wêreldbekerstadions, word selde gebruik.
Die Afrikaner-erfenis is soos die van die grootse argitek sir Christopher Wren, wie se gedenkteken in die St. Paulus-katedraal eenvoudig lui: “Look around you.” Maar sou die ANC-regering môre ineenstort, is dit nie duidelik wat ons in Erfenisdag-toesprake sou sien nie, behalwe: “Die partytjie is dalk verby, maar dit was pret terwyl dit aan die gang was.”
R. W. Johnson is ʼn voormalige Britse joernalis, politieke wetenskaplike en historikus wat in Suid-Afrika bly. Hy was ook genoot (fellow) aan Oxford Universiteit.
Adres