Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Augustus 2021

Anargie en die ANC-geskepte grondwetlike krisis 


Deur Jan Bosman

Hoofseketaris van die Afrikanerbond

 

'n Mens het amper jammer gevoel vir president Ramaphosa toe hy die land op Vrydag, 16 Julie, toegespreek het. Verbaasde en geskokte Suid-Afrikaners het hom na 'n week van onrus en plundering gehoor toe hy onder ander sê: .

“Dit is nou duidelik dat die gebeure die afgelope week niks anders as 'n doelbewuste, gekoördineerde en goed beplande aanval op ons demokrasie was nie. Die grondwetlike bestel van ons land word bedreig. Die huidige onstabiliteit en voortdurende aanhitsing tot geweld is 'n direkte oortreding van die Grondwet en die oppergesag van die reg. Hierdie optrede is bedoel om die ekonomie lam te lê, sosiale onstabiliteit te veroorsaak en die demokratiese staat ernstig te verswak. ” (Lees die toespraak hier)

 

Hy het sy  toespraak afgesluit deur te sê: 'Laat ons getuig van die sterkte en uithouvermoë van ons demokrasie, nie die ondergang daarvan nie. Laat ons praat van die triomfering van ons Grondwet, nie van die vernietiging daarvan nie. Ons sal nooit toelaat dat  ons Suid-Afrikaanse demokrasie ʼn  grootse projek van die mensdom, misluk nie.”

 

Vir die eerste keer in 'n lang tyd het ons gehoor hoe die president sy verbintenis tot demokrasie verkondig en hoe hy heel betekenisvol en regtens kommer uitgespreek het oor die nakoming van die Grondwet, die oppergesag van die reg en ons grondwetlike demokrasie. Was hierdie sentimente werklik, of was dit bloot bedoel om die illusie te skep van 'n skielike, onverwagse grondwetlike krisis -  om tyd te koop?

 

In sy toespraak tydens die viering van die Afrikanerbond se eeufees in Junie 2018 kort nadat hy as president die ampseed afgelê het hy eintlik ʼn aanduiding gegee van wat sou kom toe hy gesê het dat die regerende party gelei word "deur die Vryheidsmanifes, die ANC se grondwetlike riglyne EN die land se demokratiese grondwet." Hiermee het die president toe reeds bevestig dat daar verskillende uitgangspunte is waarvolgens hulle sou lei.

 

Ons het sedertdien dikwels gewaarsku dat die ANC hom deur sy ideologie laat mislei, met die Vryheidsmanifes (Freedom Charter) en die Nasionale Demokratiese Revolusie wat sentraal staan. Dit het oor die jare heen duidelik geword dat die Suid-Afrikaanse grondwet entlik maar 'n lastigheid en struikelblok is vir die ANC is, in die strewe na die ANC se eie belange.

 

Ten spyte van vele waarskuwings oor die ideologie wat verhef word bo die grondwet het die ANC voorgegaan en die grondwet geïnterpreteer aan die hand van ideologie. Dan is Prof Koos Malan reg as hy sê dat daar ʼn grondwetlike bestel langs die grondwet tot stand gekom het. Ons herinner graag aan besware toe president Jacob Zuma tydens 'n verkiesingskonferensie in November 2015 in Natal plegtig sê: “Ek het een keer met iemand gestry wat gesê het die land kom eerste en ek het toe gesê dat ek dink my organisasie, die ANC, kom eerste.” Verstommende uitlatings deur ‘n president van enige land.

 

Dit is lankal duidelik dat die ANC ernstig verdeeld is in faksies wat onder andere ook bepaal word deur diegene wat ideologie eerste stel en andere wat die riglyne van die Suid-Afrikaanse Grondwet wil beskerm en in stand hou. Dekades van ideologiese verwarring en die verwatering en verwerping van die bestaande duidelike grondwetlike riglyne - asook enige goedbedoelde advies daaroor - het die ANC in 'n hoek gedryf. Hulle het bewys dat hulle die meesters van hul eie ondergang is.

 

Die enigste ontsnaproete vir die ANC na die Armageddon van die week van 12 Julie was om 'n grondwetlike krisis voor te hou en dit as sodanig aan te kondig. In werklikheid is die grondwetlike bestel egter reeds op 15 Maart 2020 bedreig toe president Ramaphosa die buitengewone aankondiging maak dat die land in die tydperk van Covid-19 deur 'n Nasionale Bevelsraad gelei sal word. In werklikheid het hy van die geleentheid gebruik gemaak om die Grondwet te systap deur 'n nasionale ramp te verklaar ingevolge die Wet op Rampbestuur.

 

Die president kan net soos die res van die land moontlik geskok en verbaas wees oor onlangse gebeure. Hy hoef egter nie te ver te soek om die oorsaak van die probleme wat ons land teister te vind nie. Bladsy 38 van die Nasionale Ontwikkelingsplan van 2012, opgestel deur die Nasionale Beplanningskommissie, waarvan hy die ondervoorsitter was, lui: 'Ons nasiebou-poging was moeiliker in periodes van stadiger ekonomiese groei. Suid-Afrika kan nie 'n afwaartse spiraal bekostig wat sosiale spanning verskerp nie. Sterk leierskap is nodig om die visie van die Grondwet te bevorder. 'n Formele sosiale kompak kan help met die belyning en verskerping van groei, ontwikkeling en nasiebou.”

 

Die ongelukkige waarheid is dat faksiegevegte binne die ANC daartoe gelei het dat die ideale wat in die Nasionale Ontwikkelingsplan tot uitdrukking kom, getroef is deur dié agenda van die Radikale Ekonomiese Transformasie. Dit is RET wat tot dusver die beleid en uitkomste van die regering bepaal.

 

Wanneer president Ramaphosa sê dat "[hierdie] optrede bedoel is om die ekonomie te verlam, maatskaplike onstabiliteit te veroorsaak en die demokratiese staat ernstig te verswak", sê ons dat hierdie toedrag van sake reeds bestaan het en nie veroorsaak is deur  die onrus en plundering in Julie 2021 nie. In die afgelope dekade of meer het die ANC deur sy regeringstyl en sy verbintenis tot radikale ekonomiese transformasie 'n Suid-Afrika geskep wat gekenmerk word deur:

  • 'n Land wat bestuur word vanuit Luthuli-huis en nie die Uniegebou nie. Dit is vererger deur die strewe na ideologie bo die Grondwet en die oppergesag van die reg te stel.
  • 'n Regerende party wat sy eie belange bo nasionale belange stel - dit blyk veral uit die gierigheid na mag en rykdom van die ANC-elite, en die gevolglike staatskaping;
  • Ontplooiing van kaders, sonder inagneming van die belange van die kiesers wat hulle in die eerste plek in daardie posisie gestel. Dit word vererger en tragies bewys deur 'n falende staat en die ineenstorting van munisipale dienste en infrastruktuur omdat party-lojaliste in plaas van kundige en ervare munisipale amptenare aangestel word; en
  • Nuwe rassisme en diskriminasie deur ideologies geïnspireerde en transformasiegedrewe wetgewing. Ironies genoeg kom die woord transformasie nie een keer in die Suid-Afrikaanse grondwet voor nie.

 

Die gretigheid van die ANC leierskap om sy strydende faksies te paai en politieke druk van die EFF het daartoe gelei dat die ANC voortgegaan het met wysigings aan artikel 25 van die Grondwet. Ten spyte van verskeie aanvanklike versekeringe dat dit nie sou gebeur nie het President Ramaphosa self laataand na ʼn ANC uitvoerende komitee vergadering die onderneming verbreek en die aankondiging gemaak. Ons kon dus nie anders as om tot die slotsom te kom dat die Grondwet en sy grondliggende waardes vir die ANC van min belang is nie.

 

Dit het duidelik geword dat die ANC en sy faksies weier om die gebeure van die negentigerjare en die nuwe bedeling, soos vervat in die 1996-grondwet, te erken of te aanvaar. Die onderhandelinge, die ooreenkomste op grond van konsensus, die verkiesing van 27 April 1994 op grond van die oorgangsgrondwet en die finale Grondwet van 1996 het 'n verbintenis en toewyding van almal geëis. Ongelukkig toon die geskiedenis dat die ANC sy ideologie meer waardeer as ooreengekome grondwetlike regte en waardes. Om dan nou skielik te verwys na ʼn “doelbewuste, gekoördineerde en goed beplande aanval op ons demokrasie” is dalk nie heeltemal so eerlik nie. Die nastrewing van die Vryheidsmanifes en die slaafse navolging van die  Nasionale Demokratiese Revolusie was reeds die “doelbewuste, gekoördineerde en goed beplande aanval op ons demokrasie”

 

Soos vele ontleders tydens die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte se webinaar op 29 Julie 2021 gesê het - ʼn politieke herskikking van die hele politieke landskap is nou onvermydelik.

 

Ons kan net hoop dat 'n nuwe politieke bedeling wel gematigde Suid-Afrikaners sal bymekaarbring wat die Suid-Afrikaanse Grondwet respekteer en daarby hou. Hierdie nuwe patriotiese en demokratiese eenheid kan gebaseer wees op gevestigde waardes en ʼn werklike verbintenis tot ons universeel geprysde Grondwet. Die geleentheid is nou daar om verder te gaan as die ou gevestigde politieke lyne wat ons sedert 1994 tot stand gebring het.  

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: