Apartheid kan nie blameer word vir die huidige kragkrisis nie
Ons plaas graag die artikel in nagedagtenis aan prof Christo Viljoen wat op 8 Januarie 2023 oorlede is. Prof. Viljoen, ’n afgetrede professionele ingenieur en ’n voormalige lid van die Elektrisiteitsraad (tans Eskom-raad) en die Elektrisiteitsbeheerraad (tans Nersa) het soos volg geskryf in die AB Nuusbrief.
Prof Viljoen word in Die Burger van 15 Januarie 2015, agt jaar gelede soos volg aangehaal: “Eskom se beskikbare opwekvermoë is 42 GW. Met ’n reserwe van 15% vir voorkomende roetine-instandhouding behoort Eskom deurlopend ’n maksimum van 35,7 GW te kan opwek. Op 5 Desember verlede jaar was egter net 24 GW beskikbaar (ná die instorting van die steenkoolsilo by Majuba-kragstasie), terwyl die aanvraag 28 GW was; 4 GW se las moes afgesny word. Gemiddeld is tans net 32 van die nominale 42 GW beskikbaar, oftewel 76%.
Wanneer Eskom se opwekkapasiteit vergroot word met die voltooiing van die kragstasies Medupi (4,764 GW) en Kusile (4,8 GW), sal die situasie uiteraard verbeter. Die laaste Kusile-eenheid sal na verwagting eers in 2017 elektrisiteit kan lewer. Die totale risiko kan verminder word as die voorsiening van elektrisiteit (teen laer as opwekkoste) aan Billiton se aluminium smelterye Alusaf (Richardsbaai) en Mozal (Mosambiek) herbeding kan word. Eskom se ou kragstasies moet intussen vervang word, soos die Athlone-kragstasie, wat in 2003 ná 42 jaar gesluit is.” (Die Burger 21 Januarie 2015)
Met die huidige debakel rondom Eskom skryf Prof Viljoen verder in die AB Nuusbrief in Februarie 2015:
Die vraag is eintlik of Eskom werklik 'n noodherstelplan opgestel het om elektrisiteit na 'n kragonderbreking te herstel. Selfs in eerstewêreldlande neem dit verskeie dae om dit te doen en Eskom se voorspelling dat die land na 'n algehele kragonderbreking vir tot 2 weke sonder elektrisiteit kan wees, is optimisties gegewe die grootte van die netwerk (ongeveer 87 kragopwekkers wat een vir een in die netwerk teruggeplaas moet word nadat elke bykomende kragopwekker gesinchroniseer is en die grootte van die kliëntegebied geleidelik van dié van 'n klein dorpie vergroot is totdat dit uiteindelik die hele land dek) en die brose toestand van die netwerk – dit is nou benewens die bewese onvermoë om enigiets te bestuur.
'n Ingenieurskollega het onlangs Eskom se huidige situasie vergelyk met dié van 'n busmaatskappy wat 'n busdiens probeer lewer met busse waarvan sommige ouer as 50 jaar is. Hulle is onbetroubaar en wanneer hulle breek, is onderdele nie geredelik beskikbaar nie. Hulle is bowendien onekonomies (baie hoë brandstofverbruik per kilometer) en hulle besoedel die atmosfeer. (Twee van Eskom se steenkoolkragsentrales is meer as 50 jaar oud en vier is meer as 40+ jaar oud; hulle moet so gou moontlik vervang word. Koeberg het net ongeveer 10 jaar gebruikslewe oor.)
Vir sover dit pres, Zuma se bewerings betref (wat nou reeds drie maal sedert Desember 2014 herhaal is, selfs by Davos) dat Eskom nooit ontwerp is om krag aan al die mense in die land te verskaf nie en dat die huidige dilemma 'n nalatenskap van apartheid is - dit is onsin. Apartheid kan vir baie dinge blameer word, maar nie vir die huidige elektrisiteitstekort nie.
Die ANC-regering moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die huidige onsekere situasie met betrekking tot elektrisiteit in Suid-Afrika. Die verlede kan nie die skuld vir die situasie kry nie; 21 jaar van wanbestuur deur die ANC-regime en sy kaders het die gemors veroorsaak. Daar is 'n wesenlike moontlikheid van 'n nasionale kragonderbreking wat weke sal duur. Kragtekorte sal nog jare duur. Eskom is beskryf as die grootste bedreiging vir die Suid-Afrikaanse ekonomie die afgelope eeu. Ons staar 'n nasionale ramp in die gesig en dit is te danke aan die huidige ANC-regime! Die verlede kan nie blameer word vir die onberekenbare skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie en, nog belangriker, vir die enorme verliese aan geld en werk nie. Hiervoor kan slegs die ANC blameer word. v
Aan die einde van 2022 is berig dat Suid-Afrika oor ‘n opwekkingsvermoë van 44 GW beskik maar dat die behoefte slegs 29 GW is. Eskom se 11 Januarie 2023 verklaring oor Fase 6 beurtkrag het aangedui dat onderhoud gedoen word by kragopwekkingseenhede wat 5,7 GW lewer en wat uit sirkulasie is terwyl ‘n verdere 18,04 GW as gevolg van onklaar eenhede nie gelewer kan word nie. Dit laat dus bittermin ruimte vir enige reserwes.
Ter nagedagtenis aan Prof Christo Viljoen
Tydens die Bondsraad op 15 September 2022 ken die Afrikanerbond aan prof Christo Viljoen ʼn oorkonde in absentia toe vir sy reuse bydrae op akademiese en kulturele gebied in die bevordering van Afrikaanse onderwys en opleiding in ingenieurswese en die besondere bydrae tot die uitsaaiwese. Ons eer sy nagedagtenis.
Dankie vir u reaksie
Daar was 'n fout met die instuur van u boodskap
Adres