Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          November 2023

Afrikaanse eilande van uitnemendheid in BELA en die Minister se spervuur 

 

Afrikanerbond standpunt

 

Nadat die ANC sy meerderheid gebruik het om Dinsdag 26 September die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (BELA) goed te keur het Minister Angie Motshekga eintlik bevestig wat die werklike agenda is.

 

Volgens Motshekga is toegewings in die aanvang van die demokrasie gemaak - wat insluit wie skole beheer en watter taal die skole kan gebruik. Volgens haar moet dinge nou reggestel word. Sy ontken egter dat Afrikaanse skole in die spervuur is, maar gaan dan voort om te sê dit is eintlik Afrikaanse skole wat die kopseer is.  

 

Minister Motshekga het duidelik gewys dat sy verskillende standpunte gereed het vir verskillende gehore wat onderwysbeleid aanbetref. Sy moet haar egter nie uitlaat oor grondwetlike kwessies en onderhandelinge nie. Wat kultuurverskeidenheid betref, het die Grondwetlike Beginsel XI die volgende vereiste gestel: “Die verskeidenheid van taal en kultuur moet erken en beskerm word, en omstandighede vir die bevordering daarvan moet aangemoedig word.” Van groot belang is dat die beginsels opgeneem is in die 1993-oorgangsgrondwet en sy nakomeling, die huidige Grondwet van 1996. Dit alles is gevestig in ʼn grondig onderhandelde en algemeen ooreengekome Plegtige Ooreenkoms. In die ANC se soeke na ʼn tweede oorgang en groter sentralisering laat hulle oordeel hulle egter soms in die steek, en moet telkens in die howe daaraan herinner word. Enige wysigings in die letter en gees van die grondwet moet grondig en met regsbasis hanteer word en NIE gebaseer op die nukke en grille van politieke ideoloë wat mislukkings wil verbloem nie. 

 

Die ANC laat geen geleentheid verby gaan om deurentyd mislukkings te probeer verskuif na ander oorsake nie. Daar moet nou opnuut gesentraliseer word want die verleentheid met onderwys word al groter. Ook die funksionele openbare skole moet nou gesentraliseer word want dit is Afrikaanse skole wat eilande van uitnemendheid in die moeras van onderwysverval geword het. Dan is dit beter om eerder almal te laat verval om te voldoen aan die ANC se strewe na substandaard onderwys vir almal.

 

Die ANC-regering  het sedert 1994 voortdurend gedobbel met die skolestelsel en verskeie  ondeurdagte modelle geïmplementeer. Afrikaanse skole en professionele onderwysinstansies het deur die dwaalweë van onderwys nog altyd die leiding gegee en daarom kon Afrikaanse skole presteer. Daarteenoor is meer as 80% skole disfunksioneel.

 

Die Afrikanerbond het omvattend gereageer op Konsepwet B2-2022 (“Basic Education Laws Amendment Bill”). (Sien die skakel na die volledige kommentaar)    ʼn Deeglike en oorwoë mening is uitgespreek maar is waarskynlik deel van die tussen 6000 en 9000 skriftelike voorleggings wat nie na behore oorweeg is nie.


ʼn Ideologiese wolf word skaapwagter vir onderwys gemaak. Dit is makliker om onderwys nog verder onder sentrale beheer te plaas en sodoende gemeenskaplike onderwysellende vir almal te vestig. Reeds dertien jaar gelede in 2010 het die huidige minister Angie Motshekga in die media erken dat: -

  • “Swak vaardighede in Engels die grootste oorsaak is vir die swak 2009 matriek uitslae”
  • “Dat die meerderheid van leerlinge insluitende matrikulante in Engels moet studeer – alhoewel dit nie hulle huistaal is nie.”
  • “Leerlinge wie se eerste taal nie Engels is nie, sukkel om hulself in die taal uit te druk.”

Sy het toe reeds in 2010 erken dat regeringsbeleid om Engels af te forseer tragies misluk het. Maar in 2023 wil sy skole se magte om taalbeleid te bepaal wegneem. In dertien jaar het dinge eerder vererger maar Afrikaanse skole word blameer.

 

Volgens FEDSAS is daar in Gauteng slegs vyf nuwe openbare skole gebou terwyl die provinsie se leerlingtal met 381 000 leerders toegeneem het. Hiervoor moet Afrikaanse skole die prys betaal.

 

Rapport van 29 Oktober se redaksionele kommentaar is erg krities oor die BELA wetgewing   “Die week meld 920 000 matrieks aan vir die 2023 eindeksamen. Hulle is die gelukkiges wat dit gemaak het tot daar. Tienduisende gooi tou op voor gr. 12, die slagoffers van ʼn skoolstelsel waar agt uit tien kinders teen gr, 4 nie behoorlik kan lees nie. Uiteindelik sal net rofweg die helfte van die kinders wat in 2012 met gr. 1 begin het, matriek slaag. Die res gaan nie skryf nie, of hulle gaan druip. Daar is geen manier waarop BELA se beperking van skoolbeheerliggame se seggenskap hierdie vrot uitkomste gaan verbeter nie. “  

 

Dit is duidelik dat die ANC leierskap en die minister eerder nog meer met basiese onderwys wil dobbel as om langtermyn en volhoubare oplossings te soek. Dit verg egter politieke wil en hiervoor is nie Motshekga, of die ANC leierskap opgewasse nie.

 

Die Afrikanerbond sal ander organisasies en gemeenskappe ondersteun wat die onsinnige, ondeurdagte en onwerkbare voorstelle van die departement van onderwys sal stuit.

 

Lees die Afrikanerbond se volledige kommentaar: Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (BELA) aanlyn

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: