Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

        Mei 2024

AB Kommentaar op ʼn Nasionale biodiversiteitsekonomie (NBES)

 

ʼn Nasionale biodiversiteitsekonomie (NBES) is op 8 Maart 2024 ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit, Nr. 10 van 2004 gepubliseer deur die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) in Staatskoerant Nr. 50279 (Kennisgewing Nr. 4492). Die konsep is gepubliseer met ʼn aanvanklike kommentaartydperk van slegs 14 dae, wat later tot 16 April 2024 verleng is.

Lees die voorgestelde strategie hier.

https://www.dffe.gov.za/sites/default/files/legislations/nemba_draftbiodiversityeconomystrategy_g50279gon4492.pdf

 

Die Afrikanerbond het op 16 April 2024 kommentaar op die konsepstrategie by die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) ingedien.

 

Hier volg die Afrikanerbond kommentaar: (Vertaal uit Engels soos ingedien)

Ons ondersteun die grondwetlike reg van Suid-Afrikaners dat die omgewing beskerm word, soos vasgelê in Artikel 24 van die Handves van Regte. Om hierdie rede verwag ons dat die NBES daartoe moet bydra dat ʼn gesonde omgewing deur die inklusiewe groei van ʼn verantwoordelike nasionale biodiversiteitsekonomie verseker word. Hierdie konsep-NBES is in dié opsig ʼn verbetering op die vorige NBES. Dit dui naamlik uitdruklik aan dat dit poog om biodiversiteitsgebaseerde besigheidspotensiaal te optimaliseer terwyl biodiversiteitintegriteit gehandhaaf word. Voorts bepaal dit dat biodiversiteitsgebaseerde kenmerke toegepas moet word om tot biodiversiteitbewaring en spesie- en ekosisteembestuur op sowel land as see by te dra.

 

Dit is egter die DBVO se benadering tot die ontwikkeling van die NBES wat vir ons ʼn groot bron van kommer is, en daarmee saam die onrealistiese impakverklarings en of die strategieë suksesvol geïmplementeer kan word. Die kwynende begrotings van provinsiale bewaringagentskappe, die inisiatiewe geïdentifiseer deur die Biodiversiteitslaboratorium, die jongste verslag oor die stand van beskermde gebiede, en die nasionale biodiversiteitsassessering dui alles daarop dat die staat nie die vermoë het om bewaringsteikens of ʼn volhoubare groei in biodiversiteitsekonomie te bereik as hy nie die private sektor en gemeenskappe as sleutelvennote betrek nie.

 

Die DBVO het hierdie sleutelvennote nóg tydens die hersiening van die vorige NBES se prestasie nóg tydens die ontwikkeling van hierdie konsep-NBES betrek. Om slegs ʼn bestaande konsep-NBES vir kommentaar voor te lê, is nie betekenisvolle deelname nie. Hierdie benadering van die DBVO negeer nie net die magdom ervaring in die private sektor nie, maar ontmoedig ook die betrokke rolspelers om in te koop en saam te werk om die strategie te implementeer. Ons versoek die departement dringend om hul benadering tot konsultasie te heroorweeg en die NBES deur sinvolle raadplegende prosesse met verskeie belangegroepe te herskryf. Dit sou strategies voordelig wees.

 

Wat belyning met die Witskrif betref, erken ons wel dat die konsep-NBES bewaringbelynde grondgebruik bevorder deur groter aangrensende bewaringlandskappe te skep. Ons ondersteun bewaring op landskapvlak wat gemeenskaps-, private en staatsgrond insluit, soos in die konsep-NBES weerspieël. Die konsep-NBES swyg egter oor die impak van die nuwe definisie van dierewelstand in die Witskrif en NEMBA op die potensiële groei van die biodiversiteitsekonomie. Die definisie van dierewelstand, waaroor daar nie met die publiek en die wildsektor gekonsulteer is nie, vereis onder meer dat die geestesgesondheid van wilde diere in hul bewaring, bestuur en benutting oorweeg moet word. Sonder betroubare metodes om die geestesgesondheid van die verskillende tipes wilde diere asook individuele wilde diere te meet, kan diegene wat nie volhoubare benutting ondersteun nie hierdie definisie moontlik gebruik ter ondermyning van biodiversiteitsgebaseerde besighede en die benutting van wild om die biodiversiteitsekonomie te laat groei. ‘n Gebrek aan duidelike maatreëls om die implikasies van die impak van hierdie nuwe definisie op die NBES aan te spreek, kan die suksesvolle implementering van die NBES kelder.

 

Die konsep-NBES is nie eksplisiet genoeg om die uitdagings wat die wildsektor ervaar, die hoof te bied nie. Daar moet beter belyning tussen die NBES en ander biodiversiteitbewaringinstrumente soos die Nasionale Olifantnorme en -standaarde en die Regulering van Bedreigde en Beskermde Spesies wees om hindernisse uit die weg te ruim wat die verantwoordelike benutting van biodiversiteit ter ondersteuning van die groei van die biodiversiteitsekonomie kortwiek. Verskeie dele van die konsep-NBES verontagsaam die uitdagings wat wildbewaarders tans in die bestuur van die Groot Vyf-spesies en die benutting van gepaardgaande ekonomiese geleenthede ervaar. Daar word egter erken dat die koste van die bewaring van die Groot Vyf-spesies besonder hoog is in vergelyking met die bewaring van die meeste ander wildspesies.

 

Aspekte soos die behoefte aan groot stukke grond, die volharding van volhoubare prooibevolkings, mens-dierkonflik, duur omheinings en geteikende stropery dra by tot hierdie uiters hoë bewaringskoste. Daarbenewens moet die DBVO ook die uitdagings van renostersekuriteit en -handel, onrealistiese beperkings in olifantbestuur, ʼn gebrek aan volhoubare luiperdkwotas en aansporings vir die bewaring van vrylopende leeubevolkings in gedagte hou. Die DBVO se aansporings en die ekonomiese voordele van die bewaring van hierdie spesies is onvoldoende om die koste van hul bestuur te dek. Die gevolg is dat die waardeproposisie vanuit ʼn biodiversiteitbesigheidperspektief swak is en die potensiaal om die voordeel van hul bewaring vir die biodiversiteitsekonomie te benut, baie beperk.

 

Dit is bemoedigend om te sien dat die konsep-NBES ʼn groter fokus op die inklusiewe groei van die biodiversiteitsekonomie plaas en daarna streef om landelike gemeenskappe in die biodiversiteitsekonomie in te bring. Ons glo dat wanneer mense waarde uit biodiversiteit kan genereer, hulle meer geneig is om dit te bewaar. Die biodiversiteitsekonomie is ook goed geskik vir landelike sosio-ekonomiese groei. Die swak vordering tot dusver met transformasie in die sektor laat vrae ontstaan oor die DBVO se benadering tot transformasie en groei. Die konsep-NBES stel verskeie stappe voor om die transformasie en groei van die biodiversiteitsekonomiesektor moontlik te maak, maar sonder ʼn objektiewe ontleding van die redes vir die geringe vordering tot dusver is dit onwaarskynlik dat dit die beperkings sal oorkom wat transformasie en groei belemmer. Ons beveel aan dat die DBVO as deel van die NBES-hersieningsproses ʼn objektiewe studie doen wat die betrokke rolspelers betrek om kritieke suksesfaktore en sleutelbeperkings te identifiseer. Eers dan behoort die DBVO die mees geskikte strategiese ingrypings te identifiseer.

 

Ons moet ook ons kommer daaroor uitspreek dat die strategie nie rolspelers se vorige besware in ag neem nie. Enige toekomstige strategie moet dit vermy om met ons huidige natuur- en wildreservate te peuter. Dit is ʼn bedryf met aansienlike kommersiële beleggings, en Suid-Afrika is nie bekend vir sy goed bestuurde administrasie of integriteit nie. Ons is dus uiters bekommerd oor die strategie se potensiële impak op wildbewaring, die beskerming van wild, wildreservate en wildboere.

 

Om te verseker dat ons land se waardevolle biodiversiteit op ʼn verantwoordelike manier benut word wat die bewaring daarvan onderskraag, is dit van kritieke belang dat biodiversiteitstrategieë aansporinggebaseer moet wees en dat die nodige kapasiteit in plek moet wees om enersyds verantwoordelike groei te ondersteun en andersyds doeltreffende wetstoepassing af te dwing. Ten spyte van die DBVO se voorneme om die NBES so te ontwikkel dat dit die ekonomiese waarde van biodiversiteit tot voordeel van mens en natuur benut, kan dit die oormatige ontginning van die land se biodiversiteithulpbronne meebring. ʼn Aansporinggebaseerde benadering sal goedkoper en minder omslagtig wees as ʼn bestraffende benadering. Die konsep-NBES kan verbeter word deur hierdie aspek as ʼn sleuteldoelwit te stel.

 

Staatsbeskermde gebiede kan ʼn sleutelrol in die groei van die biodiversiteitsekonomie speel. Die geleentheid lê egter nie in die oormatige kommersialisering van beskermde gebiede nie, maar eerder in die herposisionering van beskermde gebiede in terme van hul potensiële impak op landelike ekonomieë. Goed bestuurde beskermde gebiede kan as ankerprojekte dien om ander wildgebaseerde ondernemings in gasheergemeenskappe te ontwikkel en sekondêre waardekettings te ondersteun. Die konsep-NBES kan baat vind by groter klem op en duidelikheid oor die rol van beskermde gebiede as dryfvere in landelike ekonomiese ontwikkeling, met maatreëls ter demonstrasie van die bydrae van beskermde gebiede tot ekosisteemdienste soos koolstofsekwestrasie, watersuiwering en plaaslike ekonomieë. Die impak van die Krugerwildtuin en Pilanesbergreservaat op landelike ekonomieë is goeie voorbeelde hiervan.

 

As die Afrikanerbond glo ons vas dat die NBES tegelykertyd ʼn strategiese rol in die oplossing van sosio-ekonomiese uitdagings en die bevordering van bewaring kan speel. Stropery met strikke is byvoorbeeld armoedegedrewe. ʼn Swak nasionale ekonomie, die hoë vlak van werkloosheid en Covid het alles tot die huidige druk op landelike lewensbestaan bygedra. Verantwoordelike geleenthede deur middel van biodiversiteit in landelike landskappe sal nie net help om mense se welstand te verbeter nie; dit sal ook bewaring bevorder. Daar rus ʼn groot verantwoordelikheid op die DBVO om hierdie strategie reg te kry. Dit sal egter vereis dat die DBVO ʼn meer inklusiewe, raadplegende benadering tot die ontwikkeling van die finale NBES moet volg. Alhoewel die ontwikkelingsproses langer sal neem, sal dit verseker dat ʼn gedeelde visie geskep word waarop almal inkoop. So kan die kans op sukses verbeter word en kan die strategie ʼn daadwerklike verskil vir beide Suid-Afrika se mense en sy biodiversiteit maak

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: