Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Augustus 2021

Ekonomie van die mense of skrikbewind - Die beste scenario's vir Suid-Afrika


 Clem Sunter kyk na wat nodig is vir Suid-Afrika om nogmaals van ’n kruitvat weg te beweeg ná onlangse geweld en om ’n land vol hoop en besliste vasberadenheid te word.

Die onderstaande artikel het op 20 Julie 2021 in News24 verskyn en met vergunning van mnr Clem Sunter is die artikel deur die Afrikanerbond na Afrikaans vertaal. Ons plaas dit graag met erkenning aan News24

 _____________________________

 Deur Clem Sunter

Op 1 Julie vanjaar het ek en Mitch Ilbury ’n boek met die titel Thinking the Future uitgegee. Soos ons in die begin sê, beoog ons om te put uit die wysheid van reuse – van die hede en die verlede – om jou te help om doeltreffender oor die toekoms te dink. In dié proses bied ons ook van ons eie menings oor die toekoms aan.

 

In die boek skets ons twee scenario’s vir Suid-Afrika, gedagtig daaraan dat die land nou by ’n ekonomiese kruispad is na jare van korrupsie en staatskaping, tesame met die ontwrigtende impak van Covid-19. Die koffers is feitlik leeg, en die kanse is skraal dat dit binnekort sal verander. Ons is by ’n kantelpunt waar die roete wat ons in die onmiddellike toekoms kies, ons toekoms vir dekades kan bepaal.

 

Boonop het een algemene spelreël in hierdie eeu van krag geword: outomatisering het die aard van werk fundamenteel verander. Robotika en kunsmatige intelligensie is nou ’n standaard deel van massaproduksiestelsels.

 

Gevolglik is groot maatskappye nie meer die vernaamste skeppers van werkgeleenthede in die wêreld nie. Klein en mikro-ondernemings het hulle plek ingeneem. Die klem moet dus op die skep van miljoene nuwe ondernemings wees, want dit is die enigste manier om miljoene nuwe werkgeleenthede te skep.

 

Ekonomiese vryheid

Dit is ’n gepaste inleiding tot ons positiewe scenario vir Suid-Afrika, wat ek en Ilbury Die Ekonomie van die mense  (People’s Economy) noem. Met hierdie titel wil ons die boodskap oordra dat die werk wat deur Nelson Mandela en andere gedoen is, voor en na die aanbreek van Suid-Afrika se demokrasie, ’n onafgehandelde taak is. Ons moet nou ekonomiese vryheid vir almal bewerkstellig as ’n noodsaaklike toevoeging tot politieke vryheid. 

 

Dit beteken die regering moet met die privaat sektor saamspan om ’n onder-na-bo-revolusie teweeg te bring waardeur ’n hele nuwe generasie jong entrepreneurs orals in ons land tot stand kan kom.

 

Ware passie en toewyding deur alle partye asook fundamentele hervorming van ons onderwysstelsel sal nodig wees om hierdie aspirasie te verwesenlik. Wet en orde, en die uitwissing van korrupsie, is ook van kardinale belang vir hierdie scenario.

 

Die tweede scenario noem ons die Skrikbewind . (Cautionary Tale)  In hierdie scenario beleef Suid-Afrika toenemende woede onder sy burgers as gevolg van ’n ekonomie wat stagnant en uitsluitend is en onder die vloek van ’n bedroewend hoë werkloosheidskoers gebuk gaan. Dit lei tot verdere verdeeldheid en wydverspreide geweld met ’n moontlike eindpunt van algehele anargie in die oorsaaklikheidsketting. Ons is van mening dat hierdie uiters nadelige scenario na vore sal kom as die nasie nie soos ’n span saamwerk nie.

 

Die verskriklike plundering en verwoesting wat die land onlangs ondervind het, verhoog ongetwyfeld die waarskynlikheid dat die Skrikbewind-scenario met al sy aaklige gevolge werklikheid kan word.

 

Aan die ander kant is die ongelooflike gemeenskapsgees wat tydens die opruiming aan die dag gelê is, juis die soort etos wat nodig is vir die begin van die moeilike reis na die mikpunt om ’n Ekonomie van die mense   op die been te bring. Wonderwerke kom van bo, maar energie kom van onder.

 

Raad vir Entrepreneurskap

Die belangrikste eerste stap is dat ons president so gou moontlik ’n raad vir entrepreneurskap instel, soortgelyk aan die liggaam wat verantwoordelikheid het om ons deur die pandemie te lei. Daar is net soveel op die spel as mens daaraan dink dat ons Skrikbewind-scenario potensieel net so dodelik soos die koronavirus is – of selfs nog erger. 

 

Die raad moet uitvoerende hoofde insluit wat ondernemings gevestig het en weet wat dit verg om 'n onderneming van die grond af op te bou.

 

Van die kwessies wat aandag moet kry, is hoe groot maatskappye hulle verhouding met klein maatskappye kan verstewig deur hulle 'n groter deel van die verskaffingsketting te maak; die vestiging van plaaslike internet-aandelebeurse in stede om kapitaalverkryging deur opkomende entrepreneurs te bevorder; inisiatiewe om meer maatskappye op te rig wat spesialiseer in mikro-uitleenfinansiering in sowel stedelike as landelike gebiede; en om “koop plaaslik”-veldtogte aan te pak.

 

Soos tydens die pandemie moet die president gereeld op TV verskyn om vir ons te sê hoe goed ons vaar in die stryd om ’n Ekonomie van die mense    te skep. Hoeveel nuwe ondernemings is begin sedert hy laas gepraat het? Watter provinsies het met die oorspronklikste idees vorendag gekom? Is armoede en die Gini-koëffisiënt wat ongelykheid meet, verhoog of verlaag deur die stappe wat gedoen is?

 

Soos ek en Ilbury in die boek sê, moet dink en doen saamwerk om die wêreld te verander. Doen vereis teikens waaroor daar gereeld verslag gedoen word en waarvoor mense verantwoordbaar gehou word.

 

Een van die reuse wat ons in die boek noem, is Hernando de Soto, ’n briljante Peruviaanse ekonoom. Hy bepleit al jare lank dat klein entrepreneurs in die informele sektor tot die formele sektor bevorder moet word deur vir hulle regstitel op hulle eiendom te gee sodat dit vir hulle makliker sal wees om krediet te kry, ’n besigheid te verkoop of uit te brei.

 

Dit is dus uiters belangrik dat ons die informele sektor uit die skadu haal en deel van die hoofstroom-ekonomie maak in ons optimistiese scenario.

 

Daar is die afgelope tyd baie gepraat dat Suid-Afrika ’n kruitvat is en dat die gevangesetting van Jacob Zuma net die vonk was wat die kruitvat laat ontplof het. Met ander woorde, dit was voorspelbaar.

 

Wel, om te voorkom dat die kruitvat weer met kruit gevul word en om dit eerder te vul met hoop en ’n besliste vasberadenheid dat wat verlede week gebeur het, nooit weer mag gebeur nie, moet ons dadelik begin om ’n Ekonomie van die mense   op te bou. Ons moet elkeen op ons eie manier ons moue oprol en help om dit te bou.

 

- Clem Sunter is ’n toekomskundige, geleentheidspreker en scenariobeplanner. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: