Woord deur die Voorsitter - Op die weg na die Bondsraad in 2022
Deur Dries Wiese
Voorsitter van die Nasionale Raad
Midde in die Olimpiese Spele in 2021 is dit altyd gepas om te kyk na die leuse van die Olimpiese Spele wat ook die strewe en uitdaging is vir elke atleet Citius, Altius, Fortius wat vanuit Latyn na Afrikaans vertaal word as "Vinniger, Hoër, Sterker.”
Vir die huidige spele is die woord tesame of gemeensaam bygevoeg om ook die ondersteuning en solidariteit vir mekaar in die tyd van Covid-19. Die latynse leuse lees dan nou ‘Citius, Altius, Fortius – Communis’ wat vertaal word na together in Engels, ensemble in Frans en gemeinsam in Duits. Vanweë ideologiese en historiese oorwegings sal communis dalk nie so lekker op ʼn Afrikaanse oor val nie. As ons kyk na die terme tesame of gemeensaam dan is dit waaruit ons inspirasie moet put.
In die verband wil ek tesame of gemeensaam in enkele kontekste gebruik wat ons almal beleef of gesien het.
Die Julie onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng het die ergste beelde denkbaar gewys, Vernietiging, brandstigting en plundering. Die monetêre-skade word nog bereken maar kan reeds volgens sommige beraminge nagenoeg R50 miljard kos. Die herstel moet nog kom en aanpassings sal nog gemaak word aan die koste maar die feit bly staan dat ons moeilik hiervan gaan herstel. Maar - tesame of gemeensaam het gemeenskappe hande geneem en reeds begin opruim, herstel en bou. Dit is die beter prentjie. Daar is egter ook iets simbolies en terselfdertyd tragies aan dit wat gebeur het, Een van ons NR lede, dr Louis du Plessis van Johannesburg skryf op ons Nasionale Raad se WhatsApp groep tydens die onluste “In die netjiese woonbuurt Malvern (Suide van Johannesburg) is die Afrikanerbond op 5 Junie 1918 gestig. In dieselfde Malvern duur die proses van dekolonisering die afgelope kwarteeu egter onverpoosd voort. Hier is ‘n kort bekendstelling aan Malvern vandag 11 Julie 2021.” Dan word video materiaal gewys vanuit ʼn motor wat deur die strate van Malvern ry wat lyk asof dit ʼn oorlogsone is. Uitgebrande winkels, motors wat in strate omgekeer op hulle dakke lê en smeul, rommelreste van die plundery lê in die strate. By een tweedehandse motorhandelaar is nagenoeg 50 karwrakke, uitgebrand. Dan kan mens nie help om die simboliese parallel te trek nie. Malvern, simbool van hoop, groei en die gees van gemeensaam vir Afrikaners meer as 100 jaar gelede en vandag die simbool van vernietiging. Dit is nie volhoubaar nie, nie vir enige gemeenskap nie. Die emosionele-skade aan Afrikaners en Suid-Afrika met sy meerderheid gematigde burgers is ondenkbaar en onberekenbaar groot!
Gedurende die laaste twee maande het die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte twee geleenthede aangebied. Een oor vuurwapenbeheer wetgewing en in die afgelope dae juis ʼn omvattende webinaar oor anargie en die grondwetlike demokrasie. Ook hier vind ons die uitlewing tesame en gemeensaam. Mense vind mekaar oor gemeenskaplike uitdagings en probleme heen en word die verskille en veral politieke verskille van die verlede agterweë gelaat. Tesame dink ons, beplan ons en vind mekaar in gemeenskaplikhede wat ons vorentoe kan neem. Dit is die krag van netwerke en gemeenskappe. In die verband ook ons dank aan die voormalige voorsitter, Br Jaco Schoeman wat so ywerig die Ad Hoc Groep bymekaar hou en leiding gee. Die groot logistieke en administratiewe werk word uit AB geledere vanuit Die Eike gedoen en daarvoor ook ons opregte dank.
Ons sien ook tesame en gemeensaam in ʼn ander verband – Feitelik nie ʼn dag gaan verby dat ons nie hoor van ʼn lid, familie of vriende wat Covid-19 opgedoen het nie. Families loop deur, ons het op die Nasionale Raad enkele gevalle gehad, by die kantoor ook maar dan is ons maandelikse sterftelys ook ʼn tragiese en hartseer verhaal van lede wat oorlede is aan Covid-19. Aan hulle gesinne, families en naasbestaandes kan ons vandag net vertroosting gee. In die aanvanklike tyd van inperking het ons daagliks boodskappe van Hoop aan lede gestuur. In een skryf Ds Attie Beetge - En hoor dan die HERE wat vir jou sê: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (Jes.41:10). Dit bring vrede in ons gemoed en kalmte in ons gees. Ons eer ons lede wat ons vooruitgegaan het se nagedagtenis. Ons sal ook weer uit die siekte en dood van Covid-19 opstaan en bou op die fondamente wat andere nagelaat het.
Ons leef in uiterste politieke onsekerheid en ook spanninge oor Covid-19. Die Suid-Afrika van vandag is nie dit wat ons graag deur ons ideale wou gesien het met die stigting van die Afrikaner-Broederbond in 1918 nie, die Nasionale Party se oorwinning in 1948 nie, in 1961 met republiekwording nie, in 1985 toe die Afrikaner-Broederbond ʼn proses van besinning oor die omkeer van apartheid aan die gang gesit het nie, nie in 1991 met die referendum ons stem vir hervorming gegee het of 1994 met die oorgang na die nuwe demokratiese bedeling nie. Ons is soms eerder gevul met teleurstelling, met ontnugtering en meer dikwels met afgryse. Vandag beteken dit egter juis nie dat ons ledig moet wees en toelaat dat ons oorweldig word deur hulle wat vernietig, plunder, steel, afbreek en brand nie. Ons kan ook nie as gevolg van staatskapers en korrupsie in ʼn permanente staat van moedeloosheid wees nie.
Die Afrikanerbond en sy lede kan, nee moet as katalisator dien vir die inisiëring en fasilitering van individue, organisasies, groepe en selfs gemeenskappe wat as beduidende Suid-Afrikaners ‘n aktiewe verskil in die land wil maak. Die beduidendes is die gematigde Suid-Afrikaners oor ras en taalgrense heen wat bepaalde waardes deel en Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie aanvaar en bevorder. Dit is ook hulle wat geleenthede sien in ekonomiese groei sonder enige belemmering. Dit is ons as Afrikaners se uitdaging en dit is ʼn taak wat die Afrikanerbond as sy ideaal sien. Ons hoop dat ons met ons Bondsraad in 2022 taakgerig hierdie uitdaging sal omarm en tesame of gemeensaam ʼn verskil kan maak.
Die Nasionale Raad het reeds begin met ‘n proses wat die Afrikaner in staat sal kan stel, om te midde van die huidige onstabiele Suid-Afrika, ‘n baie duidelike standpunt en rigting vas te gryp wat weer hoop en ‘n besliste en ondubbelsinnige strewe vir ons sal gee. Die Bondsraad sal ‘n oorwoë mening hieroor moet kan uitspreek. Bid asseblief dan ook vir insig en wysheid vir die lede van die Nasionale Raad wat tans hierdie kapblok saamstel.
Wees sterk!
Adres