Die Covid-19 Pandemie word misbruik vir ideologie - skrywe aan die President
Die onderstaande skrywe is op 30 Januarie 2021 aan die President gestuur. Die Afrikanerbond het reeds 'n ontvangserkenning ontvang van die kantoor van die President:
Geagte Pres. Ramaphosa
Die Covid-19 pandemie word misbruik om ANC ideologie te bevorder
Ons het nou by verskeie geleenthede verneem dat die regering Swart Ekonomiese bemagtiging op verskeie maniere bevorder deur die volgehoue transformasie in die samelewing en radikale ekonomiese transformasie ideologie van die Regering. Ons weet ook nou dat swart ekonomiese bemagtiging as rasgedrewe transformasie doelwit van die ANC en regering hierdie jaar gaan verskerp.
- Pas het ons verneem van die regering se planne nadat u tydens ʼn virtuele vergadering van die ANC se Progressive Business Forum gesê het dat die uitrol en verspreiding van entstowwe vir Covid-19 slegs geleenthede vir swart sakemanne gaan bied.
- Om die sukkelende toerismebedryf te help het die regering onlangs aangekondig dat ‘n fonds geskep is waarvandaan finansiering, toelaes, lenings die bedryf sal help. Die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF), sal egter net ondernemings in swart besit ondersteun.
- Ons het ook verneem deur u eie kommunikasie na die ANC lekgotla van die pasafgelope naweek dat applikante vir die lisensiëring van die radio frekwensie spektrum soos deur ICASA op tender ook moet voldoen aan “BBBEE requirements including that of direct ownership”
Ons weet nou ook dat transformasie, oftewel rasgedrewe demografiese verteenwoordiging, nie nou meer net ydele politieke retoriek is nie. U opmerking tydens die Progressive Busines Forum op 19 Januarie 2021 het dit duidelik gestel: “We will then see how best we can get black people to participate. This is the year that we should be able to do that and move the needle of economic empowerment for women, young people and black people broadly.”
Om Covid-19 te gebruik vir Radikale Ekonomiese Transformasie is polities naïef en uiters gevaarlik. Die ideologiese doelwitte van RET sal die land voortstu op ʼn reeds katastrofiese en onomkeerbare weg van rampspoed. Die regering sal enige binnelandse en buitelandse investering op groot skaal vervreem indien die regering voortgaan om ons ekonomie met ideologiese onbeholpenheid en rasteikens te verstrengel.
Covid-19 pandemie: Die ANC heers en volg nie beginsels van goeie regering nie
Ons het reeds vantevore gewaarsku dat die aksies en besluite van die regering onder ‘n Interministeriële Komitee wat tydelik gemagtig word onder die Wet op Rampbestuur (Wet 57 van 2002) bepaalde gevare inhou vir ons demokrasie. ʼn Meer permanente “Nasionale Bevelsraad” is nou al vir 10 maande gevestig om Covid-19 te hanteer en te bestuur maar is die gevolg dat gesag amper roekeloos ingespan word vir ʼn klomp regulasies en optredes wat moontlik andersins nie toegelaat sou word nie. Hiermee word oorsig deur die parlement vermy.
Alle aanduidings is tans daar dat die ANC regering die voordeel ingesien het van heers en oorheers deur die Wet op Rampbestuur in ʼn ramptydperk en nie die beginsels van goeie regering volg wat deur die grondwet daargestel word nie. Dit het die ruimte gebied vir die vinniger implementering van die ANC se weergawe van sosialisme en gesentraliseerde maatskaplike manipulering ("social engineering") volgens die ANC se uitgediende ideologie van die Nasionale Demokratiese Revolusie.
Covid-19 pandemie: Die ANC respekteer nie meer die skeiding van staat en party nie
Dit word duidelik dat afgesien van u normale regeringsaktiwiteite word ANC geleenthede ook blatant ingespan om Covid-19 besluite en diepgaande regeringskwessies met Suid-Afrikaners te deel deur ANC geleenthede soos, die 8 Januarie toespraak, die Progressive Business Forum toespraak en die ANC Lekgotla toespraak. Hiermee vervaag die noodsaaklike skeiding van staat en party beginsel.
*** ʼn Groter bron van kommer binne die wegkalwing van ons demokrasie is dat uself en u presidensie nie die skeiding van staat en party kan of wil eerbiedig nie. Dit is onrusbarend dat u Twitter profiel en rekening @CyrilRamaphosa wat direk verbind is met die webwerf www.presidency.gov.za gebruik is om u boodskap by die ANC lekgotla op 24 Januarie 2021 sowel as die 8 Januarie vieringe van die ANC te versprei. Nie net is dit onvanpas nie maar ʼn ernstige misbruik van u staatskantoor en hulpbronne.
Suid-Afrika het ʼn verwoestende 2020 gehad met Covid-19 en alle aanduidings is dat dit nie ʼn beter jaar sal wees nie. In ons tot dusver onbeantwoorde skrywe van 30 Junie 2020 het ons u attent gemaak op die Grondwet en die hantering van die Covid-19 pandemie. Ons land het nou dringend ekonomiese herstel nodig na meer as ʼn dekade van wanbestuur, ineenstoring van dienslewering en infrastruktuur, beurkrag, vernietiging van staatsondersteunde entiteite, xenofobiese geweld, grootskaalse korrupsie en staatskaping. Hierdie werklikhede het nog steeds ʼn enorme negatiewe impak op ons ekonomie, op ons land en sy mense. Dit is net deur Covid-19 vererger.
Ons as Afrikanerbond is ook nie blind vir die Suid-Afrika en sy uitdagings van vandag nie, maar probeer juis om met ons direkte gesprekke met u om sinvolle te vind.
Die Afrikanerbond bied dan hiermee weer ons hulp en denke aan u om Suid-Afrika in sy potensiaal te laat groei en te blom.
Ons verneem graag van u
Dries Wiese
Voorsitter
Adres