Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Augustus 2021

Daar is nie 'n oppermagtige grondwet nie - AB in dialoog met Prof Koos Malan (12e Webinaar)

- Webinaar verslag


Op 28 Julie 2021 het die twaalfde AB in Dialoog webinaar met Prof. Koos Malan, professor in Publiekreg aan die Universiteit van Pretoria plaasgevind. Die webinaar het plaasgevind in die afloop van anargie, wetteloosheid en plundering wat in die laaste weke skokgolwe deur Suid-Afrika gestuur. Opnuut was daar vrae oor die rol van die grondwet en die toepassing van wet en orde binne die grondwet? Bedreig opstande en anargie tans die grondwetlike demokrasie? Die tema was dan heel gepas “As die Grondwet nie oppermagtig is nie en deurlopend deur praktyk verander, wat behels die konstitusie dan werklik en wat staan ons in die lig van konstitusionele onstabiliteit te doen?” Prof Koos Malan, het hierdie vrae ook behandel hierdie vraag teen die agtergrond van die uiteensetting in sy jongste boek:  There is no supreme constitution – a critique of statist-individualist constitutionalism. 

 

Prof Malan het ingelei met die verwysing na die AB se Erekode en die “verwesenliking van die volksideaal”. Dit is die vraag wat gevra moet word. Wat sou die volksideaal wees? Is ons nie veel nader daaraan tans as enkele jare gelede nie?

 

Moet op prinse nie vertrou nie. Moet ook nie op grondwette vertrou nie. Ons is tans voor enorme uitdagings – Ook Afrikaners. Oor ’n tydperk van eeue het Afrikaners egter met groot lewensdrif die uitdagings aangepak en suksesvol oorkom.

 

Die onlangse boek “There is no Supreme Constitution” wys 3 elemente uit wat verder behandel sal word:

  1. In die eerste plek, die persepsie dat die grondwet  oppermagtig is en dat alles wat gebeur aan die grondwet moet voldoen.
  2. Tweedens, dat daar ‘n verdeling van owerheidsgesag is en dat die howe gevolglik onafhanklik, onpartydig en doeltreffend is. En dat sou daar enige fout intree, die howe inderdaad oor daardie eienskappe beskik om sake reg te stel.
  3. Derdens, was die uitgangspunt, dat daar ‘n volledige pakket van individuele regte is en dat daardie volledige pakket wat jy vind in die handves van regte, hoofstuk twee, genoegsaam is om inderdaad te voldoen aan al ons belange. Die Individuele regte skiet egter tekort om aan die eise van ’n heterogene samelewing soos Suid-Afrika se behoeftes te voldoen.

 

Dit is nie korrek om te aanvaar dat die howe in alle gevalle onafhanklik en onpartydig is nie. Wanneer dit egter by enige aangeleentheid kom wat van ‘n ideologiese aard is, kan voorspel word dat die grondwetlike hof uitspraak sal gee ten gunste van “transformatisme”.  Wanneer dit kom by hierdie ideologiese aangeleenthede kan jy inderdaad nie vertrou op die howe se onpartydigheid nie, ten aansien daarvan, soos gesê, kan jy voorspel dat hy in pas met die fundamentele ideologiese uitgangspunte van die ANC uitspraak sal gee

 

Nkandla en ander uitsprake dui nie noodwendig op onafhanklikheid nie maar eerder op die dispuut beslegtiging vir die interne elite. Uitspraak word dus gelewer ten gunste van een faksie van die elite. Hoogste howe is ʼn integrale deel van die regerende elite. 

 

Die grondwet sê per slot van rekening van homself, dat hy ‘n oppermagtige grondwet is en dat alle bepalings, dat alle optrede, moet inderdaad voldoen aan dit wat die grondwet sê. Die indruk word geskep dat die grondwetlike teks inderdaad vir tyd en amper ewigheid sal bestaan. Die grondwet is egter  in voortdurende verandering. Die teks bly dieselfde en skep die indruk van stabiliteit. Dit is die skriftelike gedeelte van die teks. Met tyd het daar egter ‘n andersoortige konstitusie tot stand gekom. Daar is as’t ware ‘n Grondwet – die teks  van 1996, maar dan is daar die daadwerklike konstitusie wat doodeenvoudig wortel geskiet het op grond van gebeure en gebruike.

 

Daarom het seker bepalings in die grondwet nie tot uitlewing gekom of tot uitvoering gekom nie. Die volgende ter voorbeeld.

  • 11 Amptelike tale – Ons weet hoeveel amptelike tale is prakties in Suid-Afrika aanwesig en geniet erkenning – Slegs Engels in die praktyk
  • Die gedagte van transformasie – Dit kom nêrens in die grondwet voor nie Maar dit is die meesterkonteks van ons konstitusionele orde.
  • Verteenwoordigendheid – Dit is ʼn onderafdeling van transformasie. Aanstellings op die grondslag van verteenwoordigendheid word oral in die staatsdiens gemaak. 
  • Nie-rassigheid – Nie-rassigheid as grondwetlike waarde is opsy geskuif en is Suid-Afrika tans skerp langs rasselyne verdeel. Dit is ʼn algemene waarneming ook van meer liberale waarnemers.
  • Kader ontplooiing – Art 195 van die grondwet en ander dergelike bepalings verbied politieke aanstellings en maak van professionele aanstellings ʼn vereiste. Dit gebeur egter nie want kaders moet uitvoering gee aan partybeleid
  • Veiligheid – Art 198 tot 205 van die grondwet bepaal die polisie en weermag se verantwoordelik ten opsigte van beveiliging. Ons sien egter hoe die polisie agteruitgegaan het. Spesialiteitsafdelings het verval. Die verswakte polisie het daartoe gelei dat ons pro-rata die vierde grootste privaat sekuriteitsdiens ter wêreld het met 450 000 sekuriteitspersoneel en 9000 sekuriteitsmaatskappye. Voeg daarby buurtwagte en plaaswagte wat self sorg vir beveiliging in gemeenskappe. 

 

 Dit alles dui daarop dat grondwetlike veranderings gebeur -  nie deur teks veranderings nie maar deur werklike gebeure op die grond. Die grondwet is opsy geskuif en het ʼn nuwe konstitusie tot stand gekom deur middel van :

  • Misdadige optrede
  • Optrede deur die publiek
  • Optrede van die ANC
  • Konstruktiewe optrede, ook deur Afrikaners, soos eie veiligheid.

 

Wat behels die konstitusionele orde tans? Is daar dus ʼn aanval of ondermyning op ʼn konstitusionele demokrasie, soos deur die president beweer? Dit is nie moontlik nie want die orde het verander. Ons het vandag ʼn Oligargie – die ANC elite wat die land tot eie voordeel bestuur. Omkopery is aan die orde van die dag – Dit is nie meer ʼn grondwetlike demokrasie nie. In enige demokrasie sal ʼn regering wat misluk en faal verwyder word deur die kiesers. Dit gebeur nie. Die oligargie het die staatsinstellings uitgehol, wat die klimaat geskep het vir ʼn anargistiese toestand

 

Wat kan ons doen?

Ons moet leer hoe die konstitusionele orde deur handelinge tot stand gekom het. Afrikaners kan dit ook leer. As minderheid kan Afrikaners hulle eie werklikheid skep. Ons beskik oor die vermoëns, deur goed georganiseerde instellings, deur breinkrag, deur kapitaalkrag. Dit is gekoppel aan voorwaardes:

  • Ons dink ons bestaan is gekoppel aan die Grondwet waaroor ons moet onderhandel / heronderhandel – soos tydens Kodesa -  dit is nie die uitweg nie. 
  • Ons Afrikaner konsentrasies moet ons lei. Hoe beveilig ons dit?  Dit is waar ons krag lê en waar selfbestuur ook die oplossing is. Ons moet ons eie werklikheid skep.

 

Die Suid-Afrika soos ons dit geken het sedert 1910 is ʼn kunsmatige konstruk wat tot 1994 suksesvol bestuur is. Die krake wys nou en die verbrokkeling tree in . Afrikaners kan uit die brokstukke weer bou en ons eie ideaal vestig. Net soos elders in Afrika sal dele van die land in anargie verval omdat die regering beheer verloor. Warlords/Krygshere is in groot areas in beheer.  

 

Ons moet dus nie fokus op tekswysigings van die grondwet nie, maar op handelinge. Ons kan ook op ʼn konstruktiewe wyse saamwerk met ander gemeenskappe. Die verlede het dit gewys en in die toekoms weet ons ons dat ons deur samewerking met gemeenskappe ook positiewe uitkomste kan bereik.  

 

Volg die skakel om na die webinaar se opname te kyk.

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: