Die 4de Industriële Revolusie en die Kuberruimte – Geleenthede, risikos en gevare
Webinaar met Prof Basie van Solms - Verslag
Kyk net na die lys van die top 23 Sosiale media platforms van 2021 hieronder. Facebook het meer as ʼn derde van die wêreldbevolking as gebruikers terwyl die kleinste sosiale media platform Medium reeds meer gebruikers het, as Suid-Afrika se totale bevolking. Van heelwat sosiale media platforms het ons generasie nog nie eers gehoor nie.
Op Dinsdag 30 Maart 2021 het Prof Basie van Solms, Direkteur van die UJ se Sentrum vir Kubersekerheid aan die Universiteit van Johannesburg, die 10e webinaar van die Afrikanerbond in dialoog gespreksreeks as gas toegespreek. Ons het die uitnodiging aan prof Van Solms gerig om gesien in die kontroversie rondom die boodskapdiens WhatsApp se privaatheidstellings, en die alternatiewe wat voorgehou is naamlik Telegram of Signal te gesels oor die uitdagings en oor wat gebeur in die tegnologiese wêreld en die uitdagings waarop ons moet voorberei.
Prof van Solms se tema vir die gesprek was “Die 4de Industriële Revolusie en die Kuberruimte – Geleenthede, risikos en gevare”
Hoe gaan die 4e Industriële Revolusie (4e IR) ons raak? In sy 50-jaar ervaring het prof van Solms gesê is daar tendense wat kommer wek en moet ons die tegnologie gebruik maar bedag wees op moontlike gevare . Die 4e Industriële Revolusie is nie oppad nie. Dit is reeds met ons.
Daar is reeds ʼn bymaakaarbring van al die tegnologieë en die mens. Stelsels word al meer outonoom met kunsmatige intelligensie. Sommige nuwe generasie voertuie dryf hulself reeds aan sonder hulp van mense, gevegsrobotte is al meer outonoom maar het nog mense wat agter die skerms werk. Sommige mediese operasies en diagnose vind reeds oor afstande plaas, landbou gebruik reeds hommeltuie en ander tegnologie, in groot stede soos Johannesburg is daar kameras op elke straathoek en word mense se bewegings vasgevang, pasaangeërs word oor afstande vanuit spreekkamers verstel. Dit is die tegnologie wat ons elke dag in ons lewens het en wat ons gebruik.
Digitale migrasie is ʼn ander gonswoord. Tans kan een analoog TV kanaal vervang word deur tot 12 digitale kanale. Die beskikbare elektro magnetiese spektrum kan baie meer doeltreffend aangewend word. Dit moes al in 2015 gebeur het en dit kan meer bandwydte en internet en gevolglike tegnologie beskikbaar stel, ook in afgeleë gebiede.
Wat is die probleme waarop ons bedag moet wees? Ons gaan in ʼn voortdurende stryd wees om privaat en persoonlike data en inligting te beskerm. Soms is die gevoel dat ons die stryd reeds verloor het. Geweldig baie van ons inligting is reeds beskikbaar en word reeds gelek. Daar sal ʼn nuwe benadering moet kom. Daaroor sal ons moet praat. Aanvaar dat sommige of meeste inligting reeds beskikbaar is en in vreemde hande is. Hoe tree ons op om ons bankinligting te beskerm? Wees bedag daarop.
Statistieke dui daarop dat kubermisdaad reeds die grootste vorm van misdaad in die wêreld is. Dit is makliker en meer anoniem as wapen of dwelmmisdaad. Sommige van ons was al ʼn slagoffer van bedrog op die wyse. Maatskappye moet ook bedag wees daarop dat stelsels gesluit kan word en dat ʼn “losprys” gevra kan word om hulle data weer te ontsluit.
Tegnologie het ook ‘n sosiale, emosionele en ʼn sielkundige impak op die mens. ʼn Nuwe neiging is die sogenaamde Diepvals gebruik van video en foto’s waarin bestaande materiaal na willekeur gemanipuleer word om ander woorde, foto’s en aksies te gebruik om mense te benadeel, te verneder of af te pers. Die werklike impak gaan ons waarskynlik eers oor 10-15 jaar sien. Die verslawing van kinders aan die kuberruim, gaan ʼn impak hê op sosiale interaksie.
Wat kan ons doen? Kubersekerheidsbewusmaking is nodig. Dit moet reeds van vroeg af by jong kinders tuisgebring word. Kinders moet, wat mediese getuienis aanbetref, in elk geval nie voor die ouderdom van 5 jaar aan die kuberruimte blootgestel word nie, Volwassenes moet uiters versigtig wees met deelname en die deel van persoonlike inligting in kletskamers. Ons regering doen te min in die verband. ʼn Nasionale Kubersekerheidsveldtog, soos met Vigs en tuberkulose, is nodig om mense te wys op die gevare van blootstelling
Klein medium en makro maatskappye moet veral bedag wees. Suid-Afrika is die land met die derde meeste kuberslagoffers. Die kleiner maatskappye het dikwels nie die fondse of kundigheid om hulle stelsels te beskerm nie. Alle gebruikers moet deur veldtogte, gesprekke en algemene inligting bewus gemaak word van die wesenlike gevare. Daar is baie risiko midde in die al die ongelooflike tegnologiese voordele. Suid-Afrika is nog nie eers oral gereed vir die derde industriële revolusie nie. Ons tree nie voorkomend op met huidige risiko’s nie, en heelwat meer en nuwe tegnologie is oppad.
Hoe hanteer ons sosiale media? Die hele WhatsApp debakel is so ʼn voorbeeld. As gevolg van reaksie oor privaatheidskennisgewings het ʼn histerie ontstaan. Mense het op groot skaal oorgeskuif na Telegram wat ʼn Russiese maatskappy is. Die ander platform is Signal. Almal is goeie stelsels. Die aanbeveling: Bly by WhatsApp. Dit is in beginsel ʼn goeie en veilige platform. Dit is ʼn illusie dat die WhatsApp boodskappe op Bv Facebook gedeel kan word. Boodskappe word geïnkripteer tussen die stuurder en die ontvanger en dit is gesofistikeerd. Niks is egter 100% veilig nie. Enige stelsel wat van rekenaars gebruik maak het ʼn risiko.
Aanvaar net – Enige boodskap en enige e-pos is in die kuberruimte. Slim bemarking gebruik soektogte bv op Google om weer op ʼn ander platform ʼn produk aan jou te bemark. Wees dus versigtig met wat jy sê of skryf want die tegnologie kan die grense van privaatheid oorskry of indring. Dit help nie ons veg daarteen nie. Wees net versigtig en hou die hele tyd die risiko in gedagte.
Slimfone het die potensiaal dat sagteware onbewustelik geaktiveer word wat kameras of mikrofone kan aktiveer. Verwag dit en wees voorbereid en versigtig. Advies in die verband is byvoorbeeld om kameras toe te maak en hou selfoon opdaterings op datum en laai die nuutste antivirus programme af.
Tot watter mate kan universiteite en studente voorberei met die oog op die toekoms? Ons kan tegnologies voorberei maar daar moet ʼn sterker fokus kom aan die menslike kant. Berei die mense voor op die toekoms, sielkundig en sosiologies. Ons is nie altyd voorbereid op die impak van die tegnologie nie. Ons kan nie bestaande kursusse se toekoms voorspel nie. Werksomgewings gaan wel geïmpakteer word. Daar is egter nie vandag regte of verkeerde antwoorde nie.
Beleef Suid-Afrika nie al meer ʼn groter digitale kloof nie? Die Covid-19 pandemie het gewys dat skole wat tegnologie het vinnig die aanpassing kon maak na aanlyn klasse. Die digitale migrasie moes al in 2015 plaasgevind het en kon ons makliker tegnologie ontplooi het op die platteland. Ons gaan nooit die gaping oorbrug in ons leeftyd nie, inteendeel die gaping kan net al hoe groter word. Dit vereis kundigheid en geld.
Oor ʼn vraag oor die AB en Facebook. Het dit nut? Die AB het reeds vir ʼn paar maande ʼn teenwoordigheid. Wat sou die voor en nadele wees? Elke instansie moet daaroor praat en kyk na die moontlike voordele vir produkte en dienste. Wil jy dit op die wyse bevorder? Gebruik dit dan. Gaan ʼn dokter byvoorbeeld sy dienste so adverteer? Dit kan positief wees en voordele inhou.
Wat is die siening oor kwantumrekenaars en die toekoms? Banktransakies word tans gedoen deur gevorderde inkripsie tegnologie. Dit bly tans vertroulik. Kredietkaart transaksies vind ook so plaas en maak gebruik van sogenaamde publieke sleutel inkripsie. Dit werk met en is gebaseer op wiskundige priemgetalle. Met bestaande rekenaar vermoëns kan die sleutels nie gebreek of ingedring word nie. Kwantumrekenaars het die vermoë om hierdie sleutels in ʼn oogwink te kan ontsyfer. Vinniger rekenaars vereis kragtiger teen-inkripsie algoritmes. Die tegnologie en die kundigheid bestaan as dit reg aangewend word. Wanneer Kwantumrekenaars operasioneel aangewend word kan dit enorme voordele inhou. Massas mediese inligting kan vinniger ontleed word en oplossings kan vinniger ontsluit word.
Water dataproduk sou aanbeveel word. 5G of veselkabel? Optiese veselkabels gaan vir ʼn lang ruk nog met ons wees want dit is ook die manier hoe lande en vastelande verbind word. In die toekoms kan meer satellietkommunikasie moontlikhede onsluit word. Elkeen moet egter die voor of nadele van elke produk oorweeg en dit gaan ook afhang van omstandighede soos landelike omgewings waar optiese veselkabel nie beskikbaar is nie. Hoë data frekwensies het weer ander moontlike risiko’s wat ʼn gesprek op sy eie verg.
Ter afsluiting het Prof Basie van Solms genoem dat ons omgewings in die toekoms nog meer gaan verander. Vandag het ons internet kommunikasie met kameras waarmee ons vergaderings of webinare kan hou. In die toekoms kan ons deur driedimensionele tegnologie ʼn amper fisiese teenwoordigheid in ʼn virtuele omgewing hê.
Kyk na en oorweeg nuwe tegnologie. Die moontlikheid is daar dat fiksheidshorlosies binnekort ook mense met mekaar sal verbind deur gedeelde belange. Jy stap moontlik verby iemand met ʼn soortgelyke horlosie en onmiddellik word julle profiele, belangstellings en belange gepas met mekaar. Wat gaan dit ons baat? Kan ʼn organisasie dit aanwend. Tegnologie gee ongelooflike voordele. Gebruik en benut dit. Ons moet net oordeel en besluit wat reg en verkeerd is.
Die geredigeerde opname met die 10e webinaar van die Afrikanerbond in dialoog: met Prof Basie van Solms oor “Die 4de Industriële Revolusie en die Kuberruimte – Geleenthede, risikos en gevare” is reeds op ons webwerf beskikbaar.
Adres