Die Afrikaner-Broederbond se rol in die onderhandelde skikking
Deur die politieke skikking van die 1990s sou die Afrikaner nie net politieke en ekonomiese mag afstaan nie, maar is kommer uitgespreek dat die Afrikaner ook sy kulturele identiteit kan verloor
Deur Jan Bosman
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond
Die volledige geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond, deur prof. Ernst Stals wat in 2021 bekendgestel is, bied ʼn deeglike en gesaghebbende geskiedenis sedert 1918 tot 1994. In die hoofstuk oor die staatkundige veranderinge van die 1990s word verwys na ʼn gesprek tussen die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond en President FW De Klerk op 3 September 1990 waartydens De Klerk aan die AB leierskap gesê het dat die AB se leierskap hulle by die kultuurtaak moet bepaal en die regeertaak vir die NP moet oorlaat.
Hierdie opmerking ontsluit ʼn stuk geskiedenis van die staatkundige gesprek wat dui op ʼn krapperigheid in die dekadelange simbiotiese verhouding tussen die Nasionale Party en die Afrikaner-Broederbond. Dit het die basis van verdere navorsing geword.*
Agtergrond – Die NP val vas met die Rubikon toespraak:
Toe dit blyk dat die Nasionale Party-regering in 1985 stagneer met hervormings het die Afrikaner-Broederbond leiding geneem om Afrikanerdenke te begin beïnvloed. Sodoende is ʼn omgewing geskep binne Afrikanergeledere waarbinne die aard en omvang van hervormings, momentum kon kry.
Die noodsaak aan veranderinge moet gesien word aan die totale Suid-Afrikaanse omgewing van die 1980s. Verskeie faktore moet oorweeg word waaronder internasionale sanksies wat ʼn enorme ekonomiese impak gehad het. Inteendeel dit het ʼn internasionale krisis van vertroue in Suid-Afrika se finansies veroorsaak. Internasionale isolasie op sport, kultuur en akademiese gebied, swart-op-swart geweld met nagenoeg 426 halsnoermoorde, terreur met 5 707 politieke dodelike gevalle, waar staatsinstellings eers geteiken was, het burgerlike teikens toegeneem, die onregeerbaarheid van swart gebiede en dan veral wit Afrikanerdenke wat begin swaai het, weg van afsonderlike ontwikkeling en apartheid. ʼn Ongewilde grensoorlog met onnodige lewensverliese moet ook verreken word.
Die teleurstelling oor gebrekkige vordering met staatkundige hervormings, veral na die Rubikon toespraak in Augustus 1985 het ernstige internasionale gevolge vir Suid-Afrika ingehou. Suid-Afrika het, deur sy lenings en skuld op daardie stadium, groot blootstelling op internasionale markte gehad. Na die Rubikon-toespraak het die Rand merkbaar verswak, kapitaal is wettig en onwettig uit die land onttrek, finansiële markte moes sluit, en die Suid-Afrikaanse regering moes gevolglik ʼn eensydige moratorium plaas op die terugbetaling van buitelandse skuld. Alhoewel terugbetalings later hervat is, is Suid-Afrika deur die internasionale gemeenskap geïsoleer op ekonomiese sowel as diplomatieke gebied.
Apartheid is gevolglik bevraagteken vanuit die volgende perspektiewe:
Die AB betree die staatkundige terrein
Al hierdie bostaande faktore is in voorleggings en besprekingsdokumente deur die Afrikaner-Broederbond in die tydvak oorweeg. Staatkundige hervormings was gevolglik onafwendbaar, maar waar dit gelyke regte aan Suid-Afrikaners sou bied, moes die Afrikaner se voortbestaan in ʼn nuwe stelsel ook verseker word.
Dit was in die tydsgewrig wat een van die belangrikste, beleidsdokumente van die Afrikaner-Broederbond die lig gesien het. Die dokument, Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner, wat teen November 1986 aan afdelings gestuur is, het ongetwyfeld ʼn skeiding in denke oor die staatkundige rigting verteenwoordig. Hiermee het die Afrikaner-Broederbond die Rubikon oorgesteek.
In breë trekke het die Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner in die besonder vereistes gestel vir die voortbestaan van die Afrikaner, maar ook uitgangspunte vir ʼn moontlike staatkundige bedeling waarin dit bereik kan word. Kortliks kom die dokument op die volgende neer:
Die 2 Februarie 1990 aankondigings en versnelde momentum
Toe mnr. FW De Klerk in 1989 president van Suid-Afrika geword het, het Suid-Afrika reeds R30 miljard verloor in kapitaal wat die land verlaat het. Dit kom neer op sowat R2 miljard per jaar. Indirek en direk is bereken dat die toepassing van apartheid die land sowat R65 miljard gekos het.
As deel van ʼn pakket van staatkundige hervormings kondig pres. FW De Klerk op 2 Februarie 1990 ‘n aantal stappe aan om alle hindernisse vir onderhandelinge uit die weg te ruim.
Dit is duidelik uit notules van die Afrikaner-Broederbond se Uitvoerende Raad dat die aankondigings van 2 Februarie 1990 deur pres. FW De Klerk die Afrikaner-Broederbond onverhoeds betrap het. In aantekeninge vir ‘n gesprek met die Uitvoerende Raad en pres. De Klerk en andere wat op 10 Februarie 1990 sou plaasvind, is die volgende onderwerp aangeteken “Die oorweging van minderheidsregte, groepsregte en verwante sake ten opsigte van toekomstige staatkundige ontwikkeling.”
Uit die voorafgaande blyk dit duidelik dat die AB reeds direk na pres. De Klerk se aankondigings van 2 Februarie 1990, bepaalde voorbehoude gehad het. Van besondere belang was die wyse waarop Afrikaner-identiteit en -belange in die nuwe bedeling geakkommodeer sou word. Dit is opvallend dat die AB ook reeds besorg was oor die samestelling van die afvaardigings by die onderhandelinge. Die AB het reeds waarskynlik die vooruitsig en veronderstelling gehad dat hy as die NP se dinkskrum sou deelneem aan die staatkundige proses vorentoe. Dit het ongelukkig nie gerealiseer nie.
In verskeie gesprekke hierna is die kommer met die NP leierskap gedeel en het dit waarskynlik gelei tot pres. FW De Klerk se opmerking dat die AB hom eerder met die kultuurtaak moet bemoei.
Die vertrouensbreuk tussen die NP en die AB
Sake is op die spits gedryf met die aankondiging van die referendum van 17 Maart 1992. In ʼn notule van ʼn buitengewone vergadering van die Uitvoerende Raad van die AB op 25 Februarie 1992 is besin oor die referendum. Dit blyk ook dat die AB nie neutraal kon staan teenoor die referendum nie. Die siening is gebaseer op die realiteit dat die AB ʼn proses van ʼn onderhandelde skikking sedert 1986 begin bepleit het en daarvoor voorbrand gemaak het. Tydens die gesprek is daar nietemin bedenkinge uitgespreek oor hoe die proses in die regering sedertdien verloop het en hoe onderhandelinge gevoer sou word.
Die verhouding tussen die AB en die NP word opgesom deur Prof Pieter de Lange, toe AB voorsitter: in die verwysing na: ”die vertrouensbreuk tussen regering en kieser, die regerende party en die organisasie”(Die Afrikaner-Broederbond) Daar was dus op die tydstip reeds geweldige spanning tussen die Nasionale Party en die Afrikaner-Broederbond. Die AB het wel met ʼn kwalifiserende voorwaarde ʼn Ja –Stem by sy lede aanbeveel, maar is dit gedoen op die veronderstelling dat nog ʼn wit referendum gehou sou word om die finale grondwet goed te keur.
Die 17 Maart 1992 referendum was ʼn oorweldigende sukses en triomf vir pres. De Klerk en die Nasionale Party. Tydens ʼn Bondsraad (Nasionale kongres) later die jaar in 1992 is die standpunt gehuldig dat die Afrikaner nie net politieke en ekonomiese mag gaan afstaan nie, maar ook sy kulturele identiteit kan verloor. Dit moes tot elke prys verhoed word.
Evaluerende perspektiewe
Met die bostaande agtergrond en vanuit die amptelike dokumentasie van die Afrikaner-Broederbond is dit moontlik om die volgende evaluerende perspektiewe oor die tydperk te maak:
Deur die voorafgaande blyk dit duidelik dat die Afrikaner-Broederbond nie ʼn rolspeler in die skikking was nie en gevolglik nie verantwoordelik gehou kan word vir die finale uitkoms van die skikking nie.
In 1986 het die Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner die volgende drie voorwaardes gestel:
Met die wetenskap van terugskoue oor die afloop van die onderhandelingsproses is die bedoeling nie om vandag ʼn oordeel uit te spreek nie. Dit is moontlik om in 2023 elkeen van die drie voorwaardes te evalueer binne die realiteite wat Afrikaners nou ervaar. Die aanvaarbaarheid van die nuwe bestel kan nie meer verander word nie, maar die vraag bly of die grondwetlike bedeling wat onderhandel is, vandag voldoen aan die basiese staatkundige voorwaardes vir die voortbestaan van die Afrikaner? Die politieke mag is afgestaan en deur diskriminerende wetgewing word die ekonomiese mag ook ingeperk. Die groot uitdaging gaan wees om nie ook ons kulturele identiteit te verloor nie.
Dankie vir u reaksie
Daar was 'n fout met die instuur van u boodskap
Adres