Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           November 2021

Die AHI - Die kaalkopwaarheid

AHI – Die Afrikaanse Handelsinstituut - Die kaalkop waarheid oor 75 jaar van hoogte- en laagtepunte.

 

Afrikanerbesighede gaan in die land oorleef en sal steeds in die toekoms ʼn faktor wees om mee rekening te hou. Dit is die mening van Tom Moodie wat onlangs ʼn boek geskryf het oor die Afrikaanse Handelsinstituut, ( AHI ), ʼn sakeorganisasie wat in 2017 sy deure moes sluit. Tom Moodie het ʼn verbindenis van langer as 40 jaar met die AHI gehad het.

 

Op sy hoogtepunt het die AHI 9 000 Afrikaanse sake-ondernemings verteenwoordig.  In die boek vertel die skrywer, sonder om doekies om te draai, kaalkop die waarheid oor wat agter die skerms gebeur het. Daar word verwys na die hoogtepunte en laagtepunte van  gebeure en omstandighede wat daartoe gelei het dat die  AHI, soos die organisasie algemeen bekend gestaan het, sy deure in 2017 moes sluit. Die boek bied in sy bylaes waardevolle inligting oor wie in die AHI was, wie waar gedien het en wie toekennings ontvang het. Dit maak die boek ʼn belangrike verwysingsbron vir toekomstige naslaandoeleindes.

 

In die boek oor die AHI slaag die skrywer daarin om die ekonomiese geskiedenis van die Afrikaner vanaf die Volkskongres in 1939, interessant, logies en sinvol te dokumenteer, aangesien die geskiedenis van die Afrikaanse Handelsinstituut  tot ʼn groot mate ook die ekonomiese geskiedenis van die Afrikaner verteenwoordig en vergestalt. Die boek handel oor die worstelingjare van ekonomiese knegskap en onderdanigheid van pionier Afrikaner sake-eienaars wat tot ekonomiese volwassenheid gegroei het met sakeleiers op vele terreine van die Suid Afrikaanse volkshuishouding.

 

Die skrywer bespreek die rol wat die AHI as bakenfiguur vir talle Afrikaner besighede in die 75 jaar van sy bestaan gespeel en beteken het. Nie alleen handel die boek oor die emansipasieproses oor die 75 jaar wat tot ekonomiese volwasseheid gelei het  nie, maar ook die sakemodel en die invloedsfeer wat die AHI oor die periode uitgeoefen het. Vir ʼn driekwarteeu het die AHI nie alleen werknemers in diens van sy lede bemagtig nie, maar ook ʼn onuitwisbare bydrae gelewer om infrastruktuur in die vorm van behuising te voorsien, winkels te open, fabrieke te begin, hotelle te bestuur, myne te ontgin – banke, bouverenigings, versekeringsmaatskappy en ander aktiwiteite daar te stel wat vir die duur van sy bestaan vir meer welvaart en voorspoed in die land gesorg het.

 

Die boek, netjies versorg deur die uitgewer, Malan Media, is in ʼn gemaklike Afrikaanse idioom geskryf. Die feit dat die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ʼn finansiële bydrae gelewer het tot die skryf van die boek spreek boekdele vir die belangrikheid, maar ook noodsaaklikheid dat ʼn boek oor die eens prestige Afrikaner sake - organisasie geskryf is. Dit is onwaarskynlik dat daar weer ʼn boek oor die deel van die Afrikaner se ekonomiese geskiedenis geskryf sal word. Dit maak die boek reeds ‘toekomstige Afrikana.

 

Moodie slaag daarin om op ʼn eerlike, onbevange manier die suksesse maar ook teleurstellings en wat die AHI vir sy lede beteken het, te beskryf en te boekstaaf. Op die wyse slaag die skrywer uitmuntend daarin  om die oorsaak maar ook gevolg van gebeure oor die sewe dekades by die AHI raak te kon sien, te beskryf, oor te vertel, maar ook te verduidelik. Dit is onvermydelik dat op sommige prominente sakeleiers se tone getrap word en of oor die vingers getik sal word. Die verhewe beginsel oor al die jare was om juis nie die Afrikaanse taal te versaak nie.

 

In die boek argumenteer die skrywer dat ʼn nuwe entrepreneursgeslag onder Afrikaanssprekendes in die land  besig is om te gedy. Dit vorm deel van ʼn nuwe Afrikaner oorlewingstrategie. Die politieke bestel in die land wat ʼn beleid van regstellende aksie voorstaan, forseer Afrikaanssprekendes om hulle eie besighede te begin om op die wyse werksgeleenthede vir hulle kinders en die se kinders te skep. Moodie sê dat hoewel tersiêre onderrig altyd belangrik sal wees, tegniese opleiding en vaardighede en die besigheidsgeleenthede wat daaruit ontsluit en voorspruit, die nukleus gaan vorm vir sakegeleenthede en proposisies vir toekomstige Afrikaanse  sake-eienaars. Familie besighede onder Afrikaanssprekendes gaan in die toekoms, aldus die skrywer, hand oor rug in die land toeneem.

 

Die boek beskryf die dryf om die voortbestaan van die Handelsinstituut so ooglopend en doelbewus op te skort en beskryf hoe dit gebeur het dat die AHI, sy lede, die Afrikaanssprekende sakeman – en by implikasie die Afrikanervolk, so vinnig binne die bestek van ʼn kwarteeu weer teruggesak en teruggeval het om net maar weer verswelg te raak in die kolkstroom van ongeletterheid en armoede. ʼn Toestand waar onderdrukking, agteruitgang en verswakking van sy ‘menswees’ om in die eerste instansie Afrikaner te wees, hom weer afhanklik gemaak het van die aalmoese  van ‘vreemdelinge’ wat hom eintlik alles misken en misgun, maar wat self oornag ‘groot,’ ryk en belangrik geword het.

 

In die boek peins die skrywer oor die waarskynlikheid dat daar ʼn onsigbare dryf agter die bestaanserkenning van die organisasie was en wat daardeur die ondergang van die Handelsinstituut bewerkstellig het.   Die kulturele, sosiale, maar ook politieke  dienstigheid van ʼn sake-organisaie, soos wat die AHI was, word taktvol in die boek behandel.

 

Die boek beskryf hoe die ‘spelreëls’ na  demokrasie in 1994, verander het en geleidelike verengelsing by die Afrikaanse Handelsinstituut  ingetree het totdat die onvermydelike in 2017 gebeur het dat sy deure gesluit moes word. Die boek bespreek onder andere die debakel op die 1965 ‘baklei’- kongres in Durban, die AHI wat  voor die Waarheid en Versoeningskommissie om verskoning vra vir ongeregtighede van die verlede, die kwessie rondom ‘wegbreek sakekamers’, die eerste swart AHI president, die SA Raad vir sakevroue, die spektakel wat die spesiale jaarvergadering in 2017 opgelewer het en vele meer

.

 AHI – Die Kaalkop Waarheid waarvan Dawie Roodt, die bekende ekonoom, die voorwoord geskryf het, is ʼn moet lees boek vir almal  wat in hulle lewe raakpunte met die Handelsinstituut gehad het en  ʼn belangstelling toon in die gebeure en prestasies van Afrikanerbesighede en sakeaktiwiteite die afgelope 75 jaar.

 

Die boek is beskikbaar teen R 280 plus R 70 koerier fooi. Bestellings kan gerig word aan TOM MOODIE by : bestel@tommoodie.co.za of  tom@voxfire.co.za

  of telefoon 072 237 3190. Sien ook die web werf : www.tommoodie.co.za asook ander boeke wat die outeur geskryf het.

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: