Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Februarie 2021

Die verval in stede – is munisipale krisisse en bankrotskappe ons voorland 

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond


Met die pas afgelope kersvakansie was ons gesin bevoorreg gewees om vir ʼn paar dae in die Suid-Kaap te kon wees. Die Suid-Kaapse dorpe is een na die ander ʼn vertoonstuk van goeie en ordelike regering en vertel ʼn storie van harde werk, vooruitgang en trots en bowenal politieke sukses waar daar in belang van almal regeer word.

 

Die eerste kilometer vanaf die N1 afrit terug in Randburg vertel weer ʼn ander storie, die verhaal van verval. Dit is die storie van soveel stede, veral in Gauteng en kleiner dorpe regoor die land, waarin politieke meesters alle belang verloor het in die regeerfunksies en waar dienste daagliks ineenstort. Ons terugkeer na ons tuisdorp, Randburg, na ʼn paar dae in die Suid-Kaap was opnuut ontnugterend. Verkeersligte op besige roetes wat vir weke aaneen nie werk nie, slaggate wat moedig opgevul word deur inwoners, maar na elke reën weer oopspoel en dan veral die sypaadjies waarvan randstene nie meer herstel word nie, gesteelde mangate en verkeerstekens wat nie vervang word nie, openbare munisipale asblikke wat verberg word deur sakke rommel, oopgekrap deur trollieherwinnaars wat verstrooid die wêreld inwaai.       

 

Ons stedelike gebiede het stadigaan die vertoonvenster geword van munisipale verval wat die norm geraak het. Dit is asof dit maar eenvoudig gelate aanvaar word. Ons voorstede in Gauteng vertel, saam met die kleiner plattelandse dorpe die verhaal van jarelange verval en instandhouding word feitelik nie meer gedoen nie.

 

Maar daar is ook ʼn ander storie wat ontbloot word. Een van wanbestuur en onbevoegdheid op ʼn ongekende skaal. Dit saam met korrupsie is die hoofoorsake van landelike en stedelike verval. ʼn Eenvoudige voorbeeld van wanbestuur is onlangs in Johannesburg ontbloot maar het nie eers naastenby wenkbroue laat lig nie.

 

Die Daily Maverick het in November 2020 berig dat daar in die maand meer as 90 000 slaggate in die stad Johannesburg was. Die herstel en instandhouding van paaie in die stad is die verantwoordelikheid van die Johannesburgse Padagentskap (JRA), 'n instansie wat onder die beheer en bestuur van die Johannesburg Stadsraad ressorteer. Johannesburg is immers een van Afrika se grootste stede en is verantwoordelik vir ongeveer 30% van die nasionale Bruto Binnelandse Produk (BBP) wat ʼn betroubare padvervoernetwerk noodsaaklik maak. Net soos soveel ander sulke instansies onder munisipale beheer het die Johannesburg Padagentskap ook ʼn stortingsterrein geword vir ontplooide kaders. Die nuutste kader in beheer as raadsvoorsitter van die padagentskap is ʼn oud Direkteur-generaal van Binnelandse Sake wat afgedank is onder andere omdat ʼn sportspan uit sy kantoor bedryf is. Hy het deur politieke manipulering sy weg gevind na die Johannesburg Padagentskap wat van een mislukking na die ander steier. ʼn Ander kader wat twee keer reeds misluk het as munisipale bestuurder, is die hoof uitvoerende beampte van die padagentskap.

 

Nou die tragiese aspek van die verhaal. Die Daily Maverick het benewens die bestuursprobleme onthul dat aangesien Johannesburg se paaie soveel verkeer dra en so noodsaaklik is vir die ekonomie van die streek en land, die stad meer as ʼn dekade gelede 'n asfaltaanleg vir die produksie van teer begin het. Dit sou seker in normale omstandighede die regte besluit gewees het. “Die aanleg het egter in onbruik verval want die aanleg is uit Spanje ingevoer en daar is eerstens nie genoeg vaardige ambagsmanne wat die aanleg operasioneel kan hou nie en tweedens is die instruksies in Spaans” aldus ʼn fluitjieblaser met wie Daily Maverick gesels het. Dit is die groot tragedie van Suid-Afrika se politieke beheer. Die absolute koorsagtige ingesteldheid om politieke beheer in elke moontlike sfeer van ons samelewing te behou al is dit ten koste van dienslewering en instandhouding en al was dit slegs om instruksies uit Spaans te vertaal. Die kaders wat suksesvol ontplooi is, is egter onsuksesvol in hulle bestuurstaak omdat hulle doodeenvoudig nie die kundigheid, kennis en ervaring nie, maar verdien astronomiese salarisse omdat hulle aan Luthuli-Huis rapporteer.   

 

Suid-Afrika se stede en plattelandse dorpe beleef nou die gevolge van politieke inmenging en beheer, gebrekkige dissipline, beplanning en instandhouding. Hierdie jaar het ons weer verkiesings vir plaaslike regerings. Kiesers hou die sleutel in hulle hande want drastiese ingryping is nodig. So kan ons keer dat ons megastede die pad loop van Detroit die eens suksesvolle stad wat in Julie 2013 gesorg het vir die grootste munisipale bankrotverklaring in die VSA. Die ontrekking van groot motoraanlegte aan Detroit en die wit bevolking wat uit die stadskern getrek het word as algemene redes aangevoer vir Detroit se verval maar Michael LaFaive, van die Mackinac Sentrum vir Openbare Beleid word in Forbes aangehaal wat Detroit se probleme in vier kernfaktore omskryf - belastings, oorregulering, swak dienste en korrupsie. Dit lei tot 'slegte openbare administrasie' en verhoed en ontmoedig beleggings in Detroit. Terwyl ANC raadslede hulself versadig voer aan die trog van belastingbetalers se swaar verdiende dienstegelde, verval dienslewering en infrastruktuur teen ʼn verbysterende tempo. Is ons groot stede op dieselfde weg as Detroit? Die tekens is daar, maar tyd sal leer.

 

Dit noop inwoners van munisipaliteite om self in te gryp. In Koster het ʼn hofaansoek gevolg nadat inwoners vir baie lank nie die plaaslike munisipale amptenare en rade kon oortuig om hulle werk te doen nie. Daar was lewensverlies in die verlede as gevolg van gebrekkige of selfs gebrek aan enige diensste. Die hof het beslis ten gunste van die inwoners en het hulle die reg verkry om self sekere dienste te lewer. Die plaaslike munisipale bestuurder is selfs tronkstraf opgelê maar of dit amptenare sal laat wakkerskrik uit die diep slaap waarin kaderontplooiing en transformasie die land geplaas het is te betwyfel. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: