Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           November 2022

Dis-Chem se naïewe optrede binne die transformasie debat

Deelname aan 'n rasse syferspel terwyl die regering die spelreëls bepaal en terselfdertyd die regter en die jurie is -


Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

Dis-Chem en sy Uitvoerende Hoof, mnr Ivan Saltzman het in hulle naïewe poging om die regering se ras-ideologie gedienstig te wees in hulle eie slagysters getrap en hoe meer hulle daaruit probeer kom het hoe meer slagysters en landmyne is afgetrap. Dis-Chem is ongelukkig die maaksel van korporatiewe Suid-Afrika wat die regering slaafs navolg en nie standpunt inneem teen regulasies wat afgedwing word nie. Dis-Chem het verkies om saam te speel in ʼn wedstryd waarvan die spelreëls deur die ANC bepaal word terwyl hy terselfdertyd die skeidsregter is en terselfdertyd die doelpale skuif, soos en wanneer dit hom pas. 

 

Ongelukkig skep die regering se interpretasie van die grondwet en wetgewing soos die rasgebaseerde Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming  die ruimte vir nuwe en meer diskriminasie op grond van ras en word van werkgewers verwag om rasteikens te stel om boetes te vermy wat erge finansiële katastrofes en bankrotskappe tot gevolg kan hê. Die ANC se verknogtheid aan rasgedrewe beleidsraamwerk onder die dekmantel van transformasie word  geïnterpreteer en toegepas buite die letter en gees van die grondwet. Die ironie is dat die term transformasie nie een keer in die grondwet voorkom nie maar is dit waarskynlik die term wat die meeste gebruik word om ʼn bepaalde politieke agenda te pas en te dryf. Van werklike gelykheid, nie rassigheid en nie -diskriminasie is hier dus nie sprake nie.

 

In sy eenvoudige verstaan van die toepassing van transformasie is dat alles wat wit is met swart vervang moet word. Dit is die probleem met transformasie – dit word nie duidelik gedefinieer nie en is die toepassing ten alle koste - uiters problematies. Die huidige konteks waarin transformasie toegepas word, skep die teëlaarde vir groter ingelykheid middelmatigheid, nepotisme, kader-ontplooiing en gevolglike korrupsie en is dit die meeste mense se verstaan en ervaring van transformasie. 

 

As transformasie beteken dat die samelewing, of dit nou op sport, die ekonomie, arbeid of in watter verband ook al ten alle koste die demografie van die land moet verteenwoordig en dat dit van bo af gedryf moet word dan is dit gedoem tot mislukking. In die proses moet een persoon vir ʼn ander plek maak (die gevolge van regstellende aksie) en is die term ‘Gelyke Indiensneming’ ʼn ironiese wanvoorstelling van die werklikheid want hiervolgens kan daar slegs gelykheid wees as alles of byna alles swart is. Dit skep trouens ʼn groter ongelyke samelewing wat meriete afskeep of systap.  Dit skep ʼn ongelyke samelewing waarin besighede koppe tel op grond van ras en nie op grond van bewese kundigheid of ervaring nie.  

 

As transformasie se uitgangspunt van die begin af was dat ʼn samelewing geskep word waarin mense met talent en potensiaal opgelei en ontwikkel word, waarin talente erken en bevorder word en waarin meriete die norm is dan sou dit ondersteuning gekry het. Die ideaal was trouens dat ʼn poel van opgeleide en kundige mense in ʼn gelyke samelewing geskep word waaruit slegs die beste mense, wit of swart, die hoogste sport kan bereik. Dit geld vir alle lewensterreine of dit nou in die ekonomie, sport of die arbeidsektor is. Demografiese verteenwoordiging word nie deur rasseklassifikasie bereik nie en skep eerder ʼn giftige samelewing waarvan die skade onmeetbaar is.

 

Dus moet ons ʼn behoorlike verstaan hê van die term transformasie voordat dit onoordeelkundig gebruik word: 

Wat transformasie (soos toegepas deur die ANC regering) nie kan wees nie:

  • Transformasie kan daarom nie beteken dat rasgetalle op besigheide en in ander sfere van die samelewing afgedwing kan word nie.
  • Transformasie kan nie van bo af gedoen word as geleenthede eers van onder af geskep moet word nie.
  • Transformasie kan nie beteken dat iemand op grond van velkleur ingesluit of uitgesluit word nie – dit skep ʼn ongelyke samelewing.
  • Transformasie kan nie ʼn syferspel wees wat mense op grond van velkleur beoordeel nie.

 

In ‘n Business Day opiniestuk op 27 Januarie 2015 skryf prof George Devenish, emeritus professor in publiekreg aan die Universiteit van KwaZulu-Natal soos volg: “Werklike transformasie vereis doeltreffende en deursigtige regering. Korrupsie, werkreservering en rasgebaseerde regstellende aksie ondermyn die ekonomiese transformasie van ons samelewing. Wat meer as enigiets anders ook nodig is vir transformasie, is sterk en besielde politieke leierskap wat dinamiese en verbeeldingryke beleide van 'n sosiaal-demokratiese aard in die hand werk, soos dié in die Nasionale Ontwikkelingsplan eerder as in die African National Congress se Nasionale Demokratiese Revolusie. Eersgenoemde kan na raming 'n ekonomiese groeikoers van ten minste 5% voortbring.”

 

Ons moet daarom waarsku teen oordadige en blinde transformasie. Dit skep ʼn mynveld vir alle sfere van die samelewing soos wat tans by Dis-Chem uitgewys is Transformasie kon hoogstens ʼn tydelike aksie gewees het om voorheen benadeelde groeperinge van hulp te wees. Na 28 jaar kan daar nie meer sprake wees van tydelike maatreëls nie. Die toepassingskonteks van transformasie in 2022 naamlik ʼn rasgebaseerde syferspel is onregverdig en immoreel want  word dit het  ʼn teelaarde geskep vir vergrype en skep dit opnuut ʼn ongelyke samelewing.  Dis-Chem en korporatiewe Suid-Afrika speel saam in die regering se ideologie wat nuwe generasies gaan benadeel.

 

Terwyl die grondwet verwys na die ongeregtighede van die verlede is die regering, ondersteun deur Dis-Chem en ander maatskappye, besig om nuwe onreg in die hede te skep.  Die geskiedenis sal hard oordeel oor die aandadigheid van korporatiewe Suid-Afrika in ʼn bestel wat apartheid vervang het met nuwe onregte deur ras-manipulering en nuwe diskriminasie. Instede van aktiewe deelname in ʼn spel met ongelyke spelreëls en met ʼn ANC skeidsregter wat doelpale skuif moet korporatiewe Suid-Afrika saam met die burgerlike samelewing werk om die politieke speelveld te verander.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: