Eensgesind in Andersheid: In ooreenstemming met ons grondwet
Deur Dries Wiese
Voorsitter van die Nasionale Raad
Die onderstaande gedagtes is onlangs as ʼn groeteboodskap voorgehou by ʼn byeenkoms van die Besorgde Burgers Inisiatief.
Ek is 'n boer en sakeman van Kimberley. Ek is ook `n besorgde burger van Suid-Afrika.
Ek is een van die 72% wit JA-stemmers in die referendum wat SA van koers laat verander het, en is steeds oortuig dat SA nog nie sy volle potensiaal as nie-rassige samelewing, verenig as Suid-Afrikaners, bereik het nie.
Tydens 'n baie onlangse daglange konferensie wat deur meeste van die rassedenominasies bygewoon is, het die kern van die besprekings om ras en veiligheid gewentel.
Ek wil spesifiek na die besprekings oor ras verwys. Opsommenderwys:
Die onlangse Dischem-voorval het die akuutheid van ons rasse-wanbalanse bevestig.
Aanbeveling
Die enigste manier om Eensgesindheid in Andersheid te bewerkstellig, is om almal Trots Suid-Afrikaners te wees en heeltemal weg te doen met rasseklassifikasies.
Motivering
Ons is almal gelyk geskape deur GOD.
Dit was die kolonialiste wat rasseklassifikasies geskep het en geboorte gegee het aan identiteitspolitiek. Ons ken almal hierdie tragiese pad baie goed, maar kom ons eer DIE WOORD van GOD en leef dan daarvolgens.
Rasseklassifikasie vorm nie deel van ons hoog aangeskrewe en gewaardeerde Grondwet nie.
Alhoewel ons aanvaar dat daar steeds groot wesenlike materiële verskille is en dat daar bestaande wette soos BBSEB (Breë-Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging) is wat hierdie ongelykheid aanspreek, kan ons dieselfde resultate baie beter en vinniger deur nuwe nie-rassige wetgewing bereik.
Laat ons as Suid-Afrikaners die interseksie wees van talle gemeenskappe, byvoorbeeld groeperings volgens geloof, taal, sport en partypolitiek.
In ons skole en by die werkplek preek ons dat ons nie rasgeoriënteerd moet wees nie, maar sodra kinders die skool verlaat, word hulle deel van rassistiese samelewings en gemeenskappe. WAAROM?
Ek haal graag vir President Nelson Rolihlahla Mandela aan:
“Niemand haat by geboorte 'n ander persoon weens die kleur van sy vel, of sy agtergrond, of sy godsdiens nie. Mense moet leer om te haat, en as hulle kan leer om te haat, kan hulle geleer word om lief te hê, want liefde is meer natuurlik vir die menslike hart as die teenoorgestelde.”
Ons het 'n eens-in-'n-leeftyd kans om SA ten goede te verander. Soos die Russiese spreekwoord sê: “Meet twee keer en sny een keer!”
“Ons het dalk verskillende gelowe, verskillende tale, verskillende kleure, maar ons behoort almal aan een menslike ras. Ons deel almal dieselfde basiese waardes.” — Kofi Annan
Kom ons maak Suid-Afrika die beste land wat hy kan wees deur terug te keer na God as sy skepping … eweneens, kom ons streef daarna om in vrede as trotse Suid-Afrikaners saam te leef.
Ons kan Suid-Afrikaners wees en steeds deel wees van verskillende gemeenskappe, gebaseer op assosiasie en disassosiasie sonder rasseklassifikasie. Laat ons nie hierdie krisis verspeel nie!
“Eensgesindheid, nie eenvormigheid nie, moet ons doel wees. Eensgesindheid kan slegs deur andersheid bereik word. Verskille moet geïntegreer word, nie uitgewis word nie, nie geabsorbeer word nie.” – Mary Parker Follett (1918)
Laat ons die beste wees wat ons kan! Mag God met ons almal wees as Suid-Afrikaners, Verenig in Andersheid. Ek laat u met Psalm 133:1: “Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!”
Dankie vir u reaksie
Daar was 'n fout met die instuur van u boodskap
Adres