Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           September 2021

Erfenisdag - 24 September 2021 - Ons praat een ding maar doen iets anders?


Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

Aanvanklik is 24 September in KwaZulu-Natal herdenk as Shaka-dag, ter ere van die Zoeloe-koning Shaka Zulu. Toe die herdenking weggelaat is uit die voorgestelde wetsontwerp op openbare vakansiedae wat in 1995 voor die parlement gedien het, het die Inkatha Vryheidsparty beswaar aangeteken. In die gees van versoening is 'n kompromie aangegaan om 'n dag te skep waarop almal in die land die diversiteit in kulturele erfenis kan vier. Op 24 September 2021 vier Suid-Afrika Erfenisdag en sal dit dan ook reeds die 25e keer wees wat ons die betrokke herdenkingsdag het, maar in werklikheid moet worstel en stoei om ons erfenisse te bewaar. 

 

Op die regering se webwerf word daar verwys na 24 September 2021 se Erfenisdag en die betekenis daarvan. Volg skakel.  “Erfenisdag op 24 September erken en vier die kulturele rykdom van ons land. Suid -Afrikaners vier die dag deur die herinnering van die kulturele erfenis van die talle kulture wat die bevolking van Suid -Afrika uitmaak.”

 

Die webwerf gaan dan voort en sê: “ʼn Lewende erfenis is die grondslag van alle gemeenskappe en 'n noodsaaklike bron van identiteit en kontinuïteit. Aspekte van ʼn lewende erfenis sluit in: kulturele tradisie, mondelinge geskiedenis, optrede, rituele, populêre geheue, vaardighede en tegnieke, inheemse kennissisteme en die holistiese benadering tot die natuur, die samelewing en sosiale verhoudings. In Suid -Afrika word die term "onaantasbare kulturele erfenis" gebruik in samehang met die term "lewende erfenis".

 

Hierdie standpunt is debateerbaar want Afrikaners beleef nie dat hulle kultuur as onaantasbaar gesien word en gerespekteer word deur die ANC en regering nie.  Ons het dit tydens die gesprekke van die Afrikaner Afrika inisiatief in Kaapstad op 27 Februarie 2021 waar ʼn groep Afrikaners in gesprek was met senior lede van die Mbeki Stigting duidelik gestel dat Afrikaners geteikende vervreemding ervaar .

 

Ten spyte van die feit dat Afrikaners deur ons self te vernoem na die kontinent sterk identifiseer met Afrika en dat taal ook die naam dra van die kontinent is dit soms nie voldoende nie. As ons Suid-Afrikaners wil wees, word daar soms van openbare verhoë af vir ons gesê-

  • Ons is gronddiewe
  • Ons is kolonialiste van 'n spesiale soort
  • Ons is rassiste
  • Ons is deel van wit monopoliekapitaal
  • Ons is indringers – dit is soos die president op 16 Desember na ons verwys het.

 

Ons taal is daagliks onder druk, ons erfenisse wat straat- en dorpsname insluit is onder druk met geen of min ondersteuning van die regering nie. Dit dui op ʼn afwysende houding en siening teenoor sekere gemeenskappe in die bevolking. Ongelukkig het President Ramaphosa ook betrokke geraak met uitsprake gedurende Versoeningsdag wat deel raak van die tendens van die laaste paar jaar wat dui op ʼn eensydige geskiedenis wat slegs die ANC, sy leiers en helde vereer met ʼn minagtende houding teenoor die geskiedenis van feitlik alle minderhede. Die ANC deur sy aksies en uitsprake interpreteer die geskiedenis van Suid-Afrika soos wat dit hulle en omstandighede pas. 

 

Dit is die een kant van die munt wat ons erfenis aanbetref. Dit is baie duidelik dat ʼn Suid-Afrikaanse erfenis nog ʼn lang pad het om te loop Dalk is ons te vuisvoos na al die beskuldigings, korrupsie, rassisme, staatskaping en onbevoegdheid om ons te wil steur aan nasiebou en Suid-Afrikanerskap. Dit was die groot idee van 1994 en die reënboognasie wat sou ontstaan. Dit het egter nie gebeur nie. Inteendeel. Daar sal in die komende jare weer aktief gewerk moet word na ʼn nuwe ideaal of ʼn herverbeelding van die Suid-Afrika waaroor ons gedroom het. Dit sal moet insluit

  • bevordering van grondwetlike waardes en optrede.
  • die bevordering van ʼn demokratiese ideaal en waardestelsel. 
  • nuwe begrip en respek vir die verskillende Suid-Afrikaanse kulture en minderhede.
  • volhoubare dialoog tussen die verskille kultuur en taalgemeenskappe van Suid-Afrika. 
  • om gemeenskaplike, burgerlike en maatskaplike oplossings vir minderhede te ondersoek


Die ander kant van die munt in die viering van Erfenisdag is dat Afrikaners en ook ander taal-, kultuur-, en geloofsgemeenskappe in Suid-Afrika trots is op wie hulle is en dra hulle gemaklik ʼn veelheid van identiteite in hulle self. Dit is op die basis wat ons Erfenisdag tans vier.  Afrikaners leef hulself uit in kulturele verband, in die kreatiewe gebruik van Afrikaans, deur godsdiens beoefening, deur gesinswaardes en gebruike.

 

Daar is ʼn groot aantal organisasies wat werk in die Afrikanerbelang en ook in die breë Afrikaanse gemeenskap. Saam met andere moet ons die heeltyd waak oor ons trotse erfenis en kan ons nie op ons louere rus nie. Dit bly nodig dat Afrikaners ook heeltyd werk aan die aspekte wat vir ons van belang is waaronder:

  • die bevordering van Afrikaanse onderwys op alle vlakke
  • die beskerming en bevordering van Afrikaans as amptelike taal
  • die beskerming en bevordering van breë Afrikanerbelange.
  • die bewaring van ons erfenisse – Soos by die Afrikaner Erfenissentrum. 

 

Waar Suid-Afrika veronderstel is om nasionale eenheid en kulturele harmonie na te streef, word dit egter gedoen met ʼn breë Suid-Afrikaanse gemeenskap wat al hoe meer gepolariseerd van mekaar is, wat soms in konflik met mekaar staan. In hierdie proses is die ongelukkige gevolg dat Suid-Afrikaners die eie belang voorop stel en dat die gemeenskaplike belang van Suid-Afrikaners die tragiese slagoffer geword het. Suid-Afrikaners is dus nie meer in hart en siel verbind tot die land nie, omdat die regering, mense vervreem. Suid-Afrikaners moet dus nie verkwalik word as hulle liewers op die dag vernig rondom ander inisiatiewe nie – aangesien die erfenis wat Suid-Afrika vandag het, onaanvaarbaar geraak het.

 

Dr Jeanette de Klerk-Luttig, het in 2018 by die Afrikanerbond se Bondsraad in Paarl gepraat oor die behoefte aan ‘n waardegedrewe samelewing in Suid-Afrika en het sy beklemtoon dat navorsing toon dat die sukses van ‘n land nie van die ouderdom van die land, of van die natuurlike hulpbronne beskikbaar of van ras of velkleur van die mense afhang nie. Sy het gesê die navorsing bevestig dat die welsyn van ‘n samelewing afhang van beginsels/kernwaardes en ingestelheid van die mense wat oor tyd deur opvoeding in ‘n bepaalde kultuur gevorm word. Sy het toe voorgegaan en die beginsels of kernwaardes uitgelig wat suksesvolle en vooruitstrewende lande rig. Dit is beginsels of kernwaardes soos:

  • integriteit, etiese, korrupsievrye optrede,
  • respek vir reëls en regulasies en die regte van ander,
  • verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid en die wil om verantwoordelikheid vir jou toekoms te aanvaar,
  • ‘n kultuur van hardwerkendheid, werkstrots en spaarsamigheid; en,
  • gedissiplineerdheid/ selfdissipline en stiptelikheid.

 

As ons dan volgens die Suid-Afrikaanse grondwet “Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid” dan moet ons anders kyk na die waardes wat in die grondwet gelys word naamlik, menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede nie-rassigheid en nie-seksisme, die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg, bloot lippediens. Dalk moet ons met nuwe oë begin kyk na die kernwaardes wat suksesvolle en vooruitstrewende lande rig. Eers dan kan ons begin werk aan ʼn gemeenskaplike Suid-Afrikaanse tradisie en erfenis. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: