Woord deur die Voorsitter
In die laaste paar weke voor Kersfees en in die maand daarna het ons feitelik daagliks verneem van gesinne en families en breë vriendekringe wat die Koronavirus opgedoen het en ernstig siek geword het. Ongelukkig moes ons ook verneem van lede wat aan Covid-19 verwante komplikasies oorlede is, en ook lede wat dierbares in gesinsverband aan die dood moes afstaan. Ons dink elke dag aan hulle en ons bid vir vertroosting, maar ook vir herstel vir diegene wat nog siek is. Hiermee dus opnuut ʼn pleidooi aan ʼn ieder en elk om elke dag en elke oomblik nog steeds versigtig en veilig te wees.
Ongelukkig het die laaste paar weke ook diepgaande gebreke in ons regering en ons staatstrukture uitgewys. Die onderhandelinge rondom vaksines vir die bevolking en die sentralisering van die hele proses in die hantering van die Covid-19 pandemie het ernstige vrae laat ontstaan. Die skaal van korrupsie soos ontbloot by die Zondo-kommissie na staatskaping, beurtkrag en die inploffing van dienste by munisipaliteite oorheers feitelik elke gesprek. Die keiser is kaal – dit was lank vermoed maar soos elders in die nuusbrief gestel “Covid-19 het dit wat lank onder die oppervlak gesluimer het, op ʼn besondere onsimpatieke wyse ontbloot.” Daarom ook ons brief aan die president. Dit is tyd dat ons eerlik en reguit ons bekommernisse oordra. Ons is immers Afrikaners wat nog steeds wil bou aan die toekoms van Suid-Afrika.
Ons moet begin praat oor Post- Covid-19. Dinge moet weer normaliseer en sake moet weer stabiliseer. Ons sal ons hande weer moet uitsteek en werk en waar ons dit nie self kan doen nie, moet ons inisieer, beïnvloed en ambassadeurs wees vir die waardes wat die Afrikanerbond wil bevorder en uitleef. Daarom moet ons ingelig bly, deelneem aan besprekings oor aktuele sake en ingeligte standpunte kan stel. Dit kan ons doen in die direksies waar ons lede dien, in kerkrade en in beheerrade by skole, in wykskomitees of stadsrade, in beheerliggame by aftree-oorde, om die braaivleisvure of selfs net met u buurman kan die opregte saak van die Afrikanerbond gedien word.
Later die jaar is plaaslike verkiesings veronderstel om plaas te vind. Heelwat van ons lede dien in plaaslike rade of in burgermeesterkomitees. As u op ʼn manier ʼn verskil kan bly maak wil ons die lede graag aanmoedig om hulself weer beskikbaar te stel. As lede van die Afrikanerbond moet ons egter ook ‘n wesenlike verskil maak in ons eie omgewing. Dit is waar ons poog om ons lede te bemagtig met ons nuusbriewe en studiestukke. Deur betrokke te raak in ons omgewing by gemeenskapspolisiëringsforums, wykskomitees en selfs deur net standpunt in te neem in briewe aan koerante en inbelprogramme op die radio, kan u al ‘n verskil maak.
Ons moet aanvaar dat dit wat ons tans as negatief ervaar nie oornag gaan verander nie. Dit help ook nie ons staan net op ʼn kantlyn en kritiseer nie. Maar deur klein te begin en plaaslik ‘n verskil te begin maak sal dit uitkring in die onderskeie gemeenskappe. Kom ons maak 2021 ‘n jaar waarin ons ‘n verskil gaan maak in ons onderskeie gemeenskappe.
In die Post-Covid-19 fase sal ons egter ook anders moet dink en doen. Dit het ook implikasies vir ons as organisasie en hieroor is ons weer aan’t woel en werskaf. Ons kan net ʼn verskil maak as ons lede het en die strukture die lede kan dien. Dit is op die organisatoriese vlak ʼn prioriteit vir 2021. Wat ons strategiese aanbod aanbetref moet ons:
- Eerstens aanhou fokus op die feit dat Suid-Afrika ‘n land is met ‘n diverse veelheid van mense met ‘n diverse geskiedenis – waarvan nie almal ANC lede is nie. Ons het wit en bruin, Afrikaans en Engels en ander inheemse tale wat afgeskeep word.
- Tweedens moet ons aanhou werk deur interaksie en gesprekke om ons doelwit te laat slaag dat ons as Afrikaners wil help om die land suksesvol te maak werk, vir almal van ons. Daarom moet ons ook daaraan werk om ʼn politieke wil te vestig wat erken dat kaderontplooiing ons gelei het tot ons benarde situasie en dat daar baie kundigheid is, ook by Afrikaners wat ervaring het en wat nog steeds beskikbaar is om aan te wend. Dit is in elke sfeer van die samelewing van onderwyshoofde tot stadsklerke en stadsingenieurs, van denkers na doeners. Hiertoe bied die Afrikaner homself steeds aan.
- Derdens het ons nou ‘n nuwe moraliteit nodig. Hierdie nuwe moraliteit kan slegs bereik word deur die onderskraging en uitlewing van ‘n waardestelsel wat Suid-Afrikaners saambind. Ons kan met die beste wil in die wêreld nie dink dat ons samelewing gebou kan word op die waardes van staatskapers en korruptes, van politieke ideoloë en vanuit politieke partye se hoofkantore nie. Dit hoort immers op ʼn Christelike vlak om gemeenskaplike waardes te vestig en uit bou en dit is waarom ons organisasies se waarderaamwerk nog nooit verander het nie.
- Vierdens moet ons nie dink ons het al die oplossings nie. Daar is ook reeds ander mense wat sinvolle oplossings daargestel het en waarby ons kan aansluit en verder ontwikkel. Lees gerus ook die 8 oplossings wat mnr Moeletsi Mbeki op 20 Januarie 2021 tydens ons AB in Dialoog webinaar voorgestel het en luister gerus ook op 24 Februarie na Dr Corné Mulder se gedagtes oor Kaapse onafhanklikheid.
Soos Br Pieter Vorster, voormalige voorsitter dit so gereeld in vergaderings van die Nasionale Raad stel. “Soek net die waarheid” in alles wat ons doen Dit is my wens vir 2021 – kom ons soek net die waarheid deur ons optredes, deur ons gesprekke en die res sal vanself volg.
Suid-Afrika gaan beslis verander en die Afrikanerbond deur sy lede kan ‘n saakmakende rol daarin vervul.
Dries Wiese
Voorsitter van die Nasionale Raad
Februarie 2021
Adres