SA moet ’n gemeenskaplike identiteit kry om die gevolge van polarisasie teen te werk
Deur prof William Gumede
Die onderstaande artikel het op 19 September 2021 in Business Day verskyn. Met vergunning van Prof Gumede en met erkenning aan Business Day plaas ons graag die Afrikaanse weergawe. (Soos vertaal deur die Afrikanerbond)
SA se nasiebouprojek het op die rotse beland, en baie mense reken blykbaar dat die land se diversiteit ’n hindernis vir ontwikkeling, groei en vrede is, dat die land kan vooruitgaan slegs as dit deur een groep gelei word, en dat sommige gemeenskappe hulle nie sterk genoeg met Afrika vereenselwig nie.
’n Belangrike hindernis vir die ontwikkeling van ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse identiteit is dat sommige mense verkeerdelik aandring op eng definisies van wie Afrikane of Suid-Afrikaners is, dikwels op grond van pigmentasie, etnisiteit van voorouers of vlak van lyding. Hoewel SA in die 1600’s deur Europese moondhede gekoloniseer is en deel van die "Nuwe Wêreld" geword het, het die land met verloop van tyd etnies, kultureel en wat pigmentasie betref, gemeng geraak. Selfs die inheemse gemeenskappe wat voor kolonialisering hier was, het op die een of ander vlak gemeng geraak.
SA identiteite is nie afgesperde gemeenskappe met vaste grense nie; hulle oorvleuel heel dikwels in aansienlike mate, afgesien van die terloopse gedeelde woord of waarde. Ons Afrika- en Suid-Afrikaanse identiteit is dus meervlakkig, meervoudig en inklusief, gegrond op aanvaarding van ons onderling gekoppelde verskille. Dit beteken dat ’n gemeenskaplike SA identiteit gebou sal moet word as ’n mosaïek van die beste elemente van ons uiteenlopende verlede en gedeelde hede, ons geskiedenisse en ons kulture.
Verwerping van SA se diversiteit en marginalisering van die samelewing volgens etnisiteit, kleur en politieke affiliasie ondermyn inklusiewe nasieskap. Hierdie voortgesette polarisering is een van die redes vir die lae groei, lae ontwikkeling en lae vlakke van vrede in die Suid-Afrikaanse samelewing ná apartheid. Ekonomiese groei, ontwikkeling en vrede in die samelewing sal nie ontstaan as een groep SA op alle vlakke beheer tot uitsluiting van andere wat anders as die dominante groep is nie.
Die gebrek aan diversiteit in onlangse aanstellings in leiersposisies in die regerende party, staatsdepartemente en staatsbeheerde entiteite is een rede vir hulle aanhoudend swak prestasie. Sommige Suid-Afrikaners sal hulle leiers, menings en die posisie van “hulle” etniese groep, kleur of politieke affiliasie hardnekkig ondersteun selfs al is laasgenoemde korrup en gewelddadig, en selfs al is dit strydig met hulle persoonlike, finansiële of toekomstige belange.
’n Gemeenskaplike Afrika- en Suid-Afrikaanse identiteit sal gebou moet word op SA se stigtingsmites, wat berus op politiek en viering van die feit dat die land op vreedsame wyse in die nasleep van gewelddadige verdelings ’n demokratiese bedeling saamgestel het en ’n nuwe demokratiese grondwet aangeneem het met ’n nuwe stel demokratiese waardes en reëls en ’n politieke kultuur wat in die land se etniese verskeidenheid geanker is.
Grondwet
SA se grondwet, demokrasie en die staat moet samesnoerende simbole van nasieskap wees. Ons selfidentiteite moet gewortel wees in ons grondwet, demokratiese instellings en demokratiese waardes.
Die beste pad vorentoe vir SA is nie Afrikaner- of Afrika-nasionalisme nie, maar wat die Kanadese skrywer en politikus Michael Ignatieff as “burgerlike nasionalisme” beskryf. In “burgerlike nasionalisme” is die gom wat gemeenskappe bymekaar hou, gelyke regte en ’n gedeelde demokratiese kultuur, waardes en instellings, eerder as etniese nasionalisme, hetsy dié van Zoeloes, Indiërs, Afrikaners of bruin mense.
Omdat Suid-Afrikaanse identiteit ’n politieke konstruk is, is daar natuurlik ’n paar slaggate, maar aangesien demokrasie en die nuwe grondwet aan die nuwe SA identiteit ten grondslag lê, sal die ondermyning daarvan noodwendig ook die aanvaarding van inklusiewe definisies van gemeenskaplike identiteite ondermyn.
Omdat ’n demokratiese staat so sentraal staan in die bou van ’n nuwe gemeenskaplike Suid-Afrikaanse identiteit, sal die legitimiteit van die staat daarvan afhang of die staat doen wat hy moet doen. Hierin lê ’n bedreiging vir nasiebou, wat op ’n doeltreffende, inklusiewe en sorgsame demokrasie berus. Soos dinge nou staan, is die land se grondwet, die staat en die demokrasie self omstrede, sukkelend of bedreig – wat die nasiebouprojek ernstig ondermyn.
Die verstommende mislukking van die ANC-regering om eerlik te regeer, besluite in belang van die grootste aantal Suid-Afrikaners te neem en openbare dienste van gehalte aan almal te lewer, dryf baie gemeenskappe na stamgebonde laers waar hulle veiligheid soek by diegene by wie hulle die gemaklikste voel en met wie hulle die meeste gemeen het.
Nasieboupogings word ondermyn deur ’n kombinasie van gebrek aan lewering, ’n skynbaar onverskillige demokratiese staat en persepsies dat slegs ’n paar swartes wat bande met die top-ANC-leierskorps het en wittes wat die voordeel van onderwys en beleide van voor 1994 het, ekonomies voordeel trek uit die demokrasie.
Baie lede en ondersteuners van die ANC plaas die party eerste, eerder as die land se grondwet, wette en hulle gewete. Hulle glo klaarblyklik dat die ANC bo die land se grondwet verhewe is, en dit ondermyn ook nasiebou. Met mededingende regeerstelsels kan SA nie floreer nie. Die tradisionele reg is direk strydig en in mededinging met SA se demokratiese grondwet, wette en waardes. Die tradisionele eg en tradisionele Afrika-hoofmanne, -leiers en -strukture moet afgeskaf word, of as dit behou word, moet dit ooreenkomstig grondwetlike demokratiese norme wees.
In sommige gevalle bedryf georganiseerde misdaadgroepe ook parallelle regeerstrukture, waar hulle hulle eie regspraak beoefen, “dienste” en werk verskaf en gewone burgers dwing om “belastings” aan hulle te betaal in hulle “jurisdiksies” in die townships en landelike gebiede wat hulle beheer. In hierdie gebiede is grondwetlike reëls, waardes en wette nie van toepassing nie.
SA se politieke leiers moet te alle tye vir elke Suid-Afrikaner regeer, nie een politieke party, faksie of etniese groep nie. As leiers nie die onderliggende waardes, inklusiewe nasieskap en vreedsame naasbestaan soos in die grondwet uiteengesit koester nie, ondermyn hulle dit. Deur die krag van sy eie persoonlikheid het oudpresident Nelson Mandela doelgerig probeer om ’n nuwe patriotisme te bevorder wat alle Suid-Afrikaners kan steun, ongeag hulle kleur, etnisiteit of politieke oortuiging. SA se huidige leiers moet insgelyks in die grootste openbare belang regeer, ooreenkomstig die waardes van die grondwet.
Om gemeenskaplikheid op grond van verskille te bou, bied ’n unieke uitdaging. In SA het die koloniale en apartheidsgeskiedenis meer maatskaplike, politieke en ekonomiese mag aan mense met ’n wit vel besorg. Ras, en die voortgesette nalatenskap van apartheidsongelykhede waar die meeste swartes arm en wittes beter daaraan toe is, is een van die breuklyne van die land se pogings om ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse identiteit te bou. Die bou van ’n gedeelde SA identiteit moet dus ekonomiese herstel, bekamping van rassisme en herbalansering van apartheidgeërfde magsverhoudinge behels.
In krisistye, ongeag of dit deur ekonomiese ineenstorting, korrupsie of staatsmislukking veroorsaak is, val burgers in lande met uiteenlopende wortels soos SA terug op historiese identiteite, groepe en verdelings, en dit maak die vorming van 'n gedeelde nuwe identiteit baie moeiliker maar terselfdertyd ook baie dringender.
’n Gemeenskaplike Afrika- en Suid-Afrikaanse identiteit moet gebou word op solidariteit vir die kwesbares ongeag etnisiteit, kleur en politieke oortuiging. Dit is uiters belangrik dat ekonomiese ontwikkelingsbeleide fokus op werklike opheffing van nie net die armes nie maar die grootste aantal mense op dieselfde tyd, ongeag hulle ras, kleur of politieke oortuiging, eerder as ’n klein elite, hetsy wit of swart.
• Gumede is ’n medeprofessor in die Universiteit van die Witwatersrand se Skool vir Regeerkunde. Die artikel is ’n geredigeerde uittreksel uit sy geleentheidsrede, ‘Fostering a Common South Africanness Based on Democracy, Diversity and Solidarity’ op die The State We’re in: Democracy’s Fractures, Fixes & Futures-konferensie aangebied deur die Sentrum vir die Bevordering van Nierassigheid en Demokrasie aan die Nelson Mandela Universiteit op 7–9 September 2021.
lees die oorspronklike Engelse weergawe
Adres