Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           September 2021

Grondwet wysigings – Artikel 25  - Die groter gevaar is die nuwe rasfokus

Afrikanerbond standpunt


Ons het kennis geneem van verdere radikale veranderinge aan ʼn reeds onaanvaarbare 18e wysigingswetsontwerp om Art 25 van die grondwet te verander ten einde onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Ons het in ons aanvanklike kommentaar wat op 11 Augustus 2021 ingedien is as deel van die openbare kommentaar proses opnuut beklemtoon dat ʼn oplossing vir die grondkwessie belangrik is “maar die proses moet eerlik, opreg en openlik geskied. Die proses moet sover moontlik buite die politieke sfeer geskied en nooit vir politieke doeleindes nie.” 


Ons het dit ook weer duidelik gestel dat ons in beginsel “standpunt inneem teen die voorgestelde grondwetwysiging omdat dit ʼn fundamentele reg afwater. Daarom kan ons nie voorstelle maak ter verbetering van die konsep wetgewing nie, aangesien ons nie deel kan wees van ʼn hoofsaaklik ideologiese proses wat die grondwet ten alle koste wil wysig verskraal of ons demokrasie ondermyn nie.”

 

Dit word egter ook toenemend duidelik dat die politieke proses geensins van enige goedbedoelde kommentare of advies wat die proses kon regstel wou gebruik maak nie. Die ANC beheer oor die parlementêre komitee het op Vrydag 27 Augustus 2020 nog voorstelle ingebring wat reeds wyd veroordeel is deur politieke partye en ook hoofstroom media.


Die nuwe voorstelle is ʼn absolute en finale bevestiging van die ANC se wanhopige desperaatheid om die proses deurgevoer te kry. Die interne spanninge en wrywing tussen faksies is reeds onomkeerbaar. Onteiening sonder vergoeding en die wysiging van die grondwet om dit moontlik te maak het sy direkte oorsprong in die ANC se faksiegevegte en  Die oppervlakkige versekeringe wat President Ramaphosa aanvanklik gegee het “dat die ekonomie nie geskaad moet word nie”, is ook nou nie meer ‘n oorweging nie. Die realiteit is dat die ekonomie steeds steier onder tekortkominge en beleidsonsekerhede. 


‘n Afrika gesegde lui dat “as die olifante beklei kry die gras seer.” In die geval is dit ongelukkig die grondwet en demokratiese parlementere prosesse wat ly onder ʼn ANC wat beheer verloor het.


Om die datum van 1913 terug te skuif na 1 Januarie 1800 en om gemeenskaplike gronde wat tradisionele gemeenskappe uit te sluit dui ongelukkig aan dat die ANC nou na die pype van die EFF gedans het. Onteiening van grond word gevolglik ʼn proses waarin ras die kriteria gaan word vir onteiening. Die ANC het die marionette geword van die EFF marionetmeester.

 

 Te midde van verslegtende ekonomiese omstandighede, armoede en werkloosheidsyfers, volhard die ANC regering in sy najaag van skadelike en gevaarlike beleid wat geen oplossings bied vir die sosio-ekonomiese kwessies wat Suid-Afrika in die gesig staar nie. Inteendeel, beleide soos onteiening sonder vergoeding ondermyn fundamentele ekonomiese beginsels en is ʼn enorme bedreiging vir ekonomiese en meegaande sosiale vooruitgang.


Dit is die regering se primêre verantwoordelikheid om orde, stabiliteit en veiligheid aan die land se inwoners te voorsien, en ook om 'n klimaat te skep waarbinne beleggers veilig voel om hul kapitaal te belê. In beide hierdie opsigte faal die ANC-regering Suid-Afrika heeltemal. Die staat word al meer disfunksioneel met infrastruktuur en dienslewering wat in duie stort. Dit is in die toksiese omgewing wat die ANC geskep het waarbinne Suid-Afrikaners worstel om te oorleef.


Staatskaping, korrupsie en gebrekkige dienslewering dra alles by tot die persepsie dat die regering nie ernstig is oor ʼn suksesvolle en volhoubare ekonomiese model nie. Onteiening sonder vergoeding met die gepaardgaande raskriteria wat nou ingesluit word bring Suid-Afrika ongelukkig nader aan mislukking.


Die beskerming van eiendomsreg is die enigste volhoubare metode waarop geleenthede vir almal in die land geskep kan word. Die ontneming van die reg is internasionaal onaanvaarbaar en druis absoluut in teen alles wat hierdie grondwetlike bedeling moes bereik.


Hierdie voorstelle is blote ongrondwetlike gekkigheid, maar vervreem die regering hom al meer van gematigde Suid-Afrikaners, wat die kern van die burgery in Suid-Afrika is. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: