Het ons kapasiteit vir meer ekonomiese skokke?
Prof. Jannie Rossouw
Wits Besigheidskool - Universiteit van die Witwatersrand
Suid-Afrikaners kry so baie slegte nuus dat ons die vermoë verloor om geskok te wees. Voorbeelde van hierdie skokke is só baie en só dikwels dat plek vir ‘n volledige lys ontbreek.
By wyse van opsomming het baie van die skokke te make met die omvang van staatskaping en korrupsie gedurende die bewindstydperk van die Zuma-administrasie, wat nou drupsgewys aan die lig kom. Suid-Afrika is gedurende hierdie tydperk kaal gesteel.
Om die bewind van mnr Jacob Zuma ‘n administrasie te noem, is natuurlik ‘n komplement. Dit was ‘n rowerbende was hulself as ‘n regering georganiseer het. Ongelukkig kring die gevolge van staatskaping en korrupsie wyd uit en is dit nie dadelik duidelik nie. Ekonomiese nadele weens swak politieke besluite word ook eers na verloop van tyd duidelik.
Suid-Afrika se ekonomiese groei het tot onder die bevolkingsgroeikoers gedaal, wat beteken dat die bruto binnelandse produk (BBP) per capita ook daal. Suid-Afrika beleef sedert Desember 2013 ‘n lang ekonomiese insinking, soos blyk uit die gebrek aan BBP-groei. As ons nie dinge anders doen nie, sal hierdie insinking voortduur.
Die jongste ekonomiese skok is die aankondiging van Suid-Afrika se werkloosheidskoers. Kragtens beide die beperkte en uitgebreide definisies is rekordvlakke van werkloosheid aangeteken. Die beperkte definisie (mense sonder werk wat aktief werk soek) plaas die werkloosheidskoers op 33,4 persent. Die implikasie is dat een uit elke drie mense wat wil werk en aktief werk soek, nie werk kry nie.
Die redes vir hoë en volgehoue werkloosheid word ad nauseam bespreek, maar kan opgesom word as beperkende arbeidswetgewing en ontwrigtende vakbondgedrag wat nie werkskepping en indiensneming ondersteun nie. Die Suid-Afrikaanse regering het nie die wil om noodsaaklike veranderings aan wetgewing te maak om hierdie probleme hok te slaan nie. Gevolglik is die regering besig met verskeie planne om werklose mense te probeer versorg, eerder as om op die voor-die-hand liggende oplossing na te streef, naamlik om indiensneming meer aantreklik te maak.
Die nuus dat die regering verskeie opsies vir ‘n uitbreiding van maatskaplike toelaes en ander sosiale bystand oorweeg, het as ‘n bykomende skok vir Suid-Afrikaners gekom. Mense kan net hul hande saamslaan en wonder waarmee die regering besig is. Sowat een-derde (meer as 18 miljoen) Suid-Afrikaners is reeds begunstigdes van maatskaplike toelaes. Die regering se plan om mense se nood te verlig, is deur ‘n uitbreiding van hierdie stelsel van toelaes, eerder as om werkskepping te ondersteun.
Dit is waar die knoop lê. Staatsuitgawes moet befonds word. Omdat die regering reeds die boperk van lenings bereik het, sal enige toename in maatskaplike toelaes of die betaling van bykomende toelaes deur hoër belastings befonds moet word.
In onlangse maande het verskeie navorsingsgroepe berekenings gedoen oor die koste van meer en groter toelaes en die identifisering van moontlike inkomstebronne om dit te befonds. Die debat in hierdie kringe is oor die vraagstuk of Suid-Afrika ‘n Basiese Inkomstetoelaag (Basic Income Grant, BIG) of ‘n Omvattende Basiese Inkomstetoelaag (Universal Basic Income Grant, U-BIG) moet oorweeg.
Die fokus op ‘n Basiese Inkomstetoelaag of ‘n Omvattende Basiese Inkomstetoelaag is ietwat misplaas. Die antwoord is eenvoudig: As die regering meer wil bestee, moet belastingbetalers meer opdok. Ons moet dus eers bepaal wat regtig bekostigbaar is.
Ontledings wat fokus op die koste van meer toelaes en wyses waarop meer belastinginkomste van Suid-Afrikaners gevorder kan word, is in ‘n paar opsigte gebrekkig.
Eerstens neem die aantal welvarende belastingbetalers af. Oor die laaste twee belastingjare het die aantal belastingbetalers wie se belasbare inkomste meer as R750 000 per jaar beloop, met sowat 9 000 afgeneem. Die verduideliking is eenvoudig dat welvarende belastingbetalers toenemend emigreer. Ons is besig om belastingsbetalers se vermoë om belasting te betaal, tot so ‘n mate uit te put dat emigrasie toenemend aantreklik word. Verdere belastings kan inderdaad die regering se totale inkomste verlaag, eerder as verhoog, weens ‘n toename in emigrasie met ‘n gevolglike afname in die aantal Suid-Afrikaanse belastingbetalers.
Tweedens is hoër belasting op sekere groepe nie bestedingsneutraal nie. Beide die verbruiksbesteding en die besparing van huishoudings wat meer belasting gaan betaal om meer en groter maatskaplike toelaes te befonds, sal afneem. Dit sal ekonomiese bedrywighede nadelig raak. Hoër belastings sal in hierdie geval lei tot ‘n afname in totale belasting, weens ‘n laer vlak van ekonomiese bedrywighede.
Die regering soek op die verkeerde plekke na oplossings vir Suid-Afrika se ekonomiese krisis. Suid-Afrika moet werk skep wat tot indiensneming lei, eerder as om meer toelae-afhanklikes te skep.
Terselfdertyd droom die regering ook oor die instelling van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Implementering van die NGV sal ‘n verdere reuse las op Suid-Afrikaanse belastingbetalers plaas. Daar is dus ‘n wesenlike gevaar van verdere ekonomiese skokke.
Wanneer ons op die toekoms fokus, moet ons onthou dat vertroue op alle vlakke verbreek is. Dit is die hoogste en finale prys as gevolg van ‘n dekade van staatskaping. Die regering vertrou nie arbeid, die burgerlike samelewing of die sake-sektor nie. Arbeid vertrou nie die burgerlike samelewing, die regering of die sake-sektor nie. Insgelyks is daar geen vertroue van die ander drie sektore by onderskeidelik die burgerlike samelewing of die sake-sektor nie.
Die slagspreuk Wit Monopoliekapitaal (White Monopoly Capital) het natuurlik bygedra tot die vernietiging van hierdie noodsaaklike vertroue. Hierdie slagspreuk moet tot haatspraak verklaar word, want dit maak geen bydrae tot die ekonomiese of sosiale herstel van Suid-Afrika nie.
Die enigste pad vorentoe vir Suid-Afrika is die aanvaarding van ‘n Regering van Nasionale Genesing (RNG). Só ‘n regering het verskeie elemente van ‘n Regering van Nasionale Eenheid, maar met ‘n fokus op die herstel van vertroue op alle vlakke. Die RNG moet op nasionale en provinsiale vlak geld.
Met ‘n RNG sal toesig oor die uitvoerende gesag herstel word, wat teleurstellend binne die parlementêre struktuur gefaal het. Die Suid-Afrikaanse Parlement het skouspelagtig in sy toesigrol oor die uitvoerende gesag gefaal.
‘n RNG sal nie net vertroue herstel nie, maar ook Suid-Afrikaners meer hoop vir die toekoms gee. As ons nie ons land op hierdie wyse kan verbeter nie, steek die gevaar van ‘n ander skok kop uit: Die moontlikheid van ‘n staatsgreep. Baie Afrikalande wat polities en ekonomies die kreeftegang soos Suid-Afrika gegaan het, het met ‘n militêre oplossing geëindig. Hierdie skok moet ons ten alle koste vermy.
Die antwoord op die vraag of ons die kapasiteit vir meer skokke het, is eenvoudig nee. Baie duidelik en onomwonde. Ons het ‘n nuwe demokratiese regeringsbestel nodig.
Adres