Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Februarie 2021

Hoe word besluite geneem oor Covid-19? 


Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

Prof Shabir Mahdi, entstofkundige van Wits skryf onlangs in The Conversation en wat ook in Netwerk24 gepubliseer is dat die Suid-Afrikaanse regering vanjaar nog “...47% van die Suid-Afrikaanse bevolking, sowat 40 miljoen mense, wil inent. Kundiges se beraming is dat Suid-Afrika ’n bevolking het van tussen 57 miljoen na 60 miljoen mense. Interessant is dat Statistiek Suid-Afrika beplan het om hierdie jaar weer ‘n sensus te laat doen ten einde ʼn meer betroubare beraming van die bevolking te kry. Of die sensus nog sal plaasvind midde in die Covid-19 epidemie is ʼn ander vraag. Ons is gevolglik aangewese op aangepaste 2011 Sensussyfers. Die regering self werk tans met die beraming van ʼn bevolking van 58,78 miljoen mense. 

 

Prof Mahdi skryf dan om “die kudde-immuniteit teen Covid-19 te bereik het die regering onlangs die ambisieuse mikpunt gestel om 67% van die bevolking in te ent – sowat 40 miljoen mense. Luidens hul plan wil hulle dit nog hierdie jaar doen.” Ten einde dan twee derdes van die bevolking in te ent, (± 40 miljoen mense) is ʼn dubbele dosering nodig en het Suid-Afrika dus 80 miljoen dosisse nodig wat nog nie naastenby bestel of onderhandel is nie.

 

Dan sê prof Mahdi “Ons betaal tans $12 (R179) tot $13 (R194) per dosis deur ons deelname aan die Covax program. "Dit is meer as drie keer soveel as wat dit sou kos om die entstof direk van Astra Zeneca (of die Serum Instituut van Indië) te koop teen die huidige prys van $3 per dosis."

 

In ʼn onlangse voorlegging het nasionale tesourie die oordeel uitgespreek dat nagenoeg R20 miljard nodig sou wees om dan op die minimum te voldoen aan die selfgestelde teikens wat meeste waarnemers reken totaal onuitvoerbaar en waarskynlik naïef is want daar is nog geen idee van die uitrol van die entstofprogram vir Suid-Afrikaners nie. Selfs al sou Suid-Afrika daarin kon slaag om entstowwe te onderhandel teen die verlaagde tarief is bekostigbaarheid nog steeds ʼn faktor wat verreken moet word. Op die konserwatiewe syfer van R179 per dosis, en met ʼn dubbele vaksinering wat nodig is sal daar dan ten minste 80 miljoen dosisse ingevoer moet word wat op sy minimum dan ongeveer R14,3 miljard gaan kos.

 

Business Day berig op 18 Januarie 2021 dat Suid-Afrika se behoeftes waarskynlik soos volg aangespreek gaan word “In dié stadium sal Suid-Afrika 9 miljoen dosisse van Johnson & Johnson se entstof kry, 1,5 miljoen van die AstraZeneca-entstof, 12 miljoen deur Covax en 12,25 miljoen van die African Vaccine Acquisition Task Team.” Wat die uiteindelike koste sal wees is onseker.

 

Dit is alles goed en wel maar farmaseutiese maatskappye moet nog steeds betaal word vir die lewering van die entstowwe. Dit is waar die kinkel in die kabel is want die Suid-Afrikaanse fiskus het doodeenvoudig nie meer die vermoë om dit te kan doen nie. Met Staatsondersteunde bates soos Eskom (noodsaaklik) en SAA (wat tans ʼn ydelheidsprojek is) en die SABC (wat lankal enige nut verloor het) en wat voortdurend aan die deur klop vir reddingsfondse ten einde hulle bestaan te regverdig, is alle moontlike vermoëns aan beskikbare fondse uitgeput.

 

Dit wil in elk geval volgens alle beskikbare inligting blyk asof die regering sy voete gesleep het met die bestelling van beskikbare entstofprogramme en nou agter in die tou staan terwyl ander lande met wie Suid-Afrika meeding, alreeds begin het met die toediening van die entstof. Dit is opperste nalatigheid wat uiteindelik weer tot onnodige lewensverliese gaan ly. Politieke wetenskaplikes in die VSA beskryf dit as “Democide” en word omskryf as “Die dood van ʼn land se burgerlike bevolking as gevolg van ‘n regering se beleid, onder meer deur direkte optrede, onverskilligheid en nalatigheid.” Dit is ʼn definisie wat net so toegepas kan word op die huidige Suid-Afrikaanse regering se nalatige en onverskillige optrede om entstowwe tydig te bekom, te befonds en ʼn behoorlike uitrolplan in plek te sit.

 

Politici, veral in die regerende party lek hulle lippe af vir moontlike foto-geleenthede wat mag opduik waarin hulle die entstof ontvang. Pas is berig dat die premier van Limpopo reeds aangedui het dat hy van die eerstes sal wees om die entstof te ontvang en word aangevoer dat dit andere sal motiveer en aanspoor om entstof te ontvang. Politici en senior staatsamptenare moet egter van die laaste ontvangers van die entstof wees juis om hulle aan te spoor om soveel as moontlik entstof te bekom en suksesvol uit te rol, sonder enige addisionele korrupsie. 

 

As ons regering sy prioriteite in plek gehad kon befondsing al lankal in plek gewees het en beskikbaar gewees het mits:

  • Staatsondersteunde entiteite lankal deur privatisering gespeen gewees het van die belastingbetaler
  • Daar erns was met die grootskaalse korrupsie en slegs gesteelde en verkwiste geld weer teruggeplaas is in die staatskas.
  • Die groot salarisrekening van die staat lankal besnoei is. Hoe onhanteerbaar dit geëskaleer is, is die Nasionale Tesourie se eie berekening dat meer as 95% van staatsamptenare meer verdien as die onderste 50% van geregistreerde belastingbetalers. Staatsdienssalarisse, maatskaplike toelaes en rente op staatskuld word  volgens prof Jannie Rossouw - wat op 3 Junie 2020 ’n AB webinaar toegespreek het - befonds uit sowat 75% van belastinginkomste ten tye van Februarie 2020 se begroting
  • ʼn Verdere besparing kan verkry word as politici ophou dink aan hulle eie beveiliging en die meer as R1,7 miljard wat jaarliks aan baie belangrike persone se beskermingsdienste betaal word, anders aangewend word. 

 

Aangesien daar ʼn groot huiwering en onwilligheid by die regering is om iets aan die bogenoemde te doen is die maklike uitweg die nasionale tesourie se voorstel van ʼn eenmalige solidariteitsbelasting ten einde ʼn reeds swaar belaste salaristrekker nog verder uit te put. In ʼn moontlike verkiesingsjaar sou dit ʼn riskante skuif wees deur ʼn reeds ongewilde regering. Dit verg egter nou kragtige en ongewilde besluite ten einde suksesvol met Covid-19 te handel. Ons wankelende ekonomie steier tans reeds onder ʼn regering wat skynbaar nie ongewilde besluite wil neem nie maar eerder fokus op maklike sigbare teikens. 

 

Afgesien van die nodige ongewilde besluite wat politieke risiko inhou sou dit verder beteken dat die regering kreatief moet dink om die verkryging en uitrol van die entstofprogram te befonds sonder om belasting te oorweeg. In die verband sou ʼn moontlike voorstel kon wees om dan ʼn Covid-19 bonusobligasieprogram te begin.

 

Hier kan ʼn les uit die verlede geleer word. Verdedigingsbonusobligasies is verkoop (van 1977 tot 1984) om fondse in te samel vir Suid-Afrika se al groter wordende verdedigingsdoeleindes en behoeftes. Die Bonusobligasies is ingevolge wet 66 van 1975 ingestel en hierdeur kon lede van die publiek die obligasies in R5 eenhede by die poskantoor koop. Hierdeur is die bonusobligasiehouer gewaarborg dat rente van 5% per jaar verdien kon word, vry van inkomstebelasting. Hierdie obligasies kon dan eers na ten minste ʼn jaar nadat dit uitgereik is, weer afgelos word, maar het broodnodige inkomste aan die staat voorsien vir verdediging. Bo en behalwe die langer termyn effek kon houers van bonusobligasies deelneem aan 'n maandelikse loting vir kontantpryse. Met ons nasionale lotery ook deesdae onder verdenking sou ʼn addisionele stelsel wat terselfdertyd beloon deur belastingvrye rente en ook moontlike wengelde dalk ʼn aansporing kon wees vir ʼn onwillige vuisvoos publiek.

 

In 2019 het die Social Progress Imperative (SPI) — ’n groep van die Harvard Universiteit in Cambridge, Massachusetts — bevind dat die gebrek aan maatskaplike vordering in Suid-Afrika nie toegeskryf word aan armoede nie, maar eerder aan die onvermoë om sy relatiewe rykdom in vooruitgang te omskep. Dít was voor Covid-19 en toe reeds ’n groot aanklag teen die regering en die bestuur van die land en al sy hulpbronne. Die Covid-19 pandemie het nie ons land se swak plekke blootgelê nie dit het slegs dit wat lank onder die oppervlak gesluimer het op ʼn besondere onsimpatieke wyse ontbloot. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: