Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           April 2022

Gelukwense aan hoofregter Zondo

 

Die voorsitter van die Nasionale Raad van die Afrikanerbond, Dries Wiese, het hoofregter Raymond Zondo op 16 Maart 2022 geluk gewens met sy aanstelling as Hoofregter. Vanuit die skrywe wat aan Hoofregter Zondo gestuur is:  

 

Hierdie aanstelling was nog selde van groter belang, gegewe die voortdurende aanvalle op die regbank en die meedoënlose ondermyning van die oppergesag van die reg in ons grondwetlike demokrasie. Daar bestaan geen vertrouensverhouding meer tussen die verskillende sektore van die burgerlike samelewing en die regering, politici, staatsdiens, polisie en strafregstelsel nie: mense ervaar 'n diepgaande behoefte daaraan om weer te kan glo in die Grondwet en die stelsel waarbinne dit veronderstel is om te funksioneer. 

 

Ons is oortuig dat u oor die nodige vaardighede, agtergrond, wysheid en ervaring beskik om die onafhanklikheid van die regbank te herbevestig, in ooreenstemming met artikel 2 van die Grondwet wat die Grondwet as die hoogste reg van die Republiek bevestig. U uitstekende werk en verslagdoening tot dusver in die Staatskapingskommissie het reeds heelwat vertroue in die regbank herstel, en u aanstelling in hierdie kritieke pos sal dit verdiep teen die agtergrond van 'n ernstig geërodeerde stelsel.

 

Die Afrikanerbond is daarvan oortuig dat ons eie belange sowel as dié van ons mede-Afrikaners onlosmaaklik verbind is aan die belange van elke ander Suid-Afrikaner. Daarom sal ons ook waar nodig en toepaslik, saamwerk met Staatsinstellings op alle vlakke en met alle patriotiese organisasies in die burgerlike samelewing om gemeenskaplike doelwitte te bereik.

 

Ons bedank u vir die puik werk wat u tot dusver gedoen het en wens u sterkte toe met die taak wat voorlê. U het ons volle ondersteuning in die strewe om te verseker dat reg en geregtigheid seëvier.

 

Afgesien van die aanvanklike ontvangerkenning op 16 Maart 2022 het ons op 30 Maart 2022 ‘n skrywe ontvang waarin ons bedank word vir die gelukwense en dat die boodskap met waardering deur die hoofregter ontvang is.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: