Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          November 2023

Terwyl ander soortgelyke state vooruitgegaan het, is SA armer as wat hy aan die einde van apartheid was

– Hou op om kolonialisme te blameer en begin om besigheid te bevorder


Deur Prof. William Gumede

 

Die onderstaande artikel het op 8 Oktober 2023 in die Sunday Times verskyn. Met die vergunning van Prof Gumede en met volle erkenning aan die Sunday Times plaas ons graag die artikel (Soos vertaal na Afrikaans deur die Afrikanerbond)

 

Die wêreld is besig om dramaties te verander. Eertydse arm ontwikkelende lande het die afgelope paar jaar skatryk geword en sodoende by die eksklusiewe klub van ontwikkelde nasies aangesluit. Die nuwe verheerlikte status van hierdie eertydse kolonies word weerspieël in hul paspoorte, wat nou vir hul burgers vrye toegang tot ander lande gee.

 

Na gelang hierdie nuwe wêreldmoondhede egter verrys het, het die meeste Afrika-lande, waaronder Suid-Afrika, almaar verder agteruitgegaan. Hulle blameer kolonialisme, imperialisme en apartheid vir hul ellende, terwyl hulle bakhand staan vir aalmoese van hul voormalige koloniseerders, geïndustrialiseerde nasies en ryk lande soos China.

 

Saoedi-Arabië, tans die grootste ekonomie in die Midde-Ooste, is een van 18 lande ter wêreld met 'n BBP van meer as $1 biljoen. Die VSA het die grootste BBP teen $23 biljoen, terwyl China tweede is met $17.5 biljoen en Japan derde met $4.9 biljoen. (Let wel biljoen in die geval is die Afrikaans vir die Engelse Trillion)

 

In 1965 was Singapoer se BBP per capita $500. Teen 2015 het dit egter tot $56 000 gestyg – wat die land op gelyke voet met Duitsland geplaas het.

 

Daarteenoor het bykans alle Afrikalande binne een generasie armer, meer korrup, meer etnies verdeeld en meer disfunksioneel geword as wat hulle ten tyde van onafhanklikheidwording was.

 

Suid-Korea het nou die wêreld se 13de grootste ekonomie ten bedrae van nagenoeg $2 biljoen. In die 1960's was hy egter minder welgesteld as Ghana, Kenia en Tanzanië, wat al drie nog steeds arm lande met lae vlakke van onderwys is en op infrastruktuur uit die koloniale era staatmaak.

 

Israel is tans die 19de rykste land ter wêreld. In 2010 was hy die 32ste rykste. Saoedi-Arabië se Aramco is sedert Augustus die mees winsgewende maatskappy ooit – en sal Walmart waarskynlik binnekort verbysteek wat inkomste betref.

 

Gemeet aan BBP per capita tel Katar onder die top 10 ekonomieë in die wêreld, en sy staatsbeheerde nuusnetwerk, Al Jazeera, is nou 'n toonaangewende uitsaaier van wêreldformaat.

 

Lande se status word deesdae gemeet aan hul ekonomiese mag, tegnologiese vaardigheid en vordering op die gebied van menslike ontwikkeling. Die nuwe opkomende state het almal ekonomiese groei, menslike ontwikkeling, opvoedkundige prestasie en industriële vooruitgang geprioritiseer om ontwikkelde lande te word.

 

Hulle het hul daarop toegespits om die geïndustrialiseerde nasies verby te steek deur enorme globale firmas te vestig, groot aandeelhoudings in Westerse multinasionale ondernemings te bekom en hul burgers van hoëgehalte Westerse tipe onderwys te voorsien.

 

Leerders in Singapoer vaar nou beter in wiskunde as dié in die VK, sy voormalige koloniseerder. Midde-Oosterse lande besit groot dele van Westerse banke. Saudi National Bank besit 9,9% van die Switserse kredietverskaffer Credit Suisse en is die bank se grootste aandeelhouer. Abu Dhabi Investment Authority het in 2007 `n belegging van $7,5 miljard in die Amerikaanse finansiële instelling Citi Bank gemaak. In 2008 het Abu Dhabi $5 miljard in die VK se Barclays belê.

 

Die voormalige kolonies het hul burgers met Westerse onderwys bemagtig, reuse-vervaardigingsmaatskappye gebou en meriete, entrepreneurskap en talent op alle gebiede beklemtoon. Daarteenoor maak Afrikalande, en Suid-Afrika in die besonder, steeds gewag van die verwerping van “Westers-gedomineerde” onderwys, dwarsboom private entrepreneurskap, staan meriete teë en dink kaders met slegs partypolitieke ervaring is bevoeg om komplekse private en staatsbeheerde maatskappye te bestuur.

 

Die regerende partye in die meeste Afrika-lande staan steeds Marxistiese ekonomiese beginsels voor, ten spyte daarvan dat dit jammerlik in Oos-Europa misluk het. Intussen het China rekordvlakke van groei behaal deur 'n vorm van staatskapitalisme toe te pas wat entrepreneurskap aanmoedig.

 

In Suid-Afrika word op neerhalende wyse na swart intellektueles verwys as “clever blacks”, wat 'n afwysende houding teenoor onderwys openbaar. Maar respek vir skoling lê aan die kern van suksesvolle lande wat goeie stories het om te vertel. In ons land is politiek steeds gebaseer op slagspreuke, ideologie en wensdenkery eerder as op bewyse en pragmatisme.

 

Suid-Afrika verheerlik sy politieke leiers, terwyl die snelgroeiende ekonomieë entrepreneurs koester wat maatskappye bou en grense verskuif met hul vernuwende idees.

 

Suid-Afrika is tans aansienlik armer as wat hy aan die einde van die apartheidsera was. Tensy daar `n totale nuwe vorm van regering met nuwe idees en talent kom - en die land sy denke verander en entrepreneurskap, kennis en meriete begin nastreef - sal die tempo van agteruitgang oor die volgende vyf jaar bly toeneem.

 

• William Gumede is 'n medeprofessor by Wits Universiteit se Bestuurskool en die skrywer van 'South Africa in BRICS' (Tafelberg). Prof Gumede was oop die voorsitter van die Veelparty Handves van Suid-Afrika wat in Augustus 2023 tot stande gekom het (Koalisie van politieke partye)

 

Lees die oorspronklike artikel

https://www.timeslive.co.za/sunday-times/opinion-and-analysis/opinion/2023-10-08-while-other-states-have-surged-ahead-sa-is-poorer-than-it-was-at-the-end-of-apartheid/ 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: