Paasfees oordenking: Identiteit: "Dit is Ek self"
Op versoek van die AB Nuusbrief het wyle dr Pieter Bingle van Kaapstad in 2012 vir ons die volgende boodskap vir Paasfees geskryf. Ons is van mening dat die boodskap net so relevant is in 2022
Onderweg van grafdeur na hemelpoort het die opgestane Here Jesus Christus daarop gewys: “Dit is tog Ek self” (Luk 24:39b). Dié uitspraak het enorme betekenis en hou verreikende gevolge in. Dit gaan hier oor identiteit – ’n skarnierwoord waarom baie dinge, ook wanverhoudinge, in die lewe draai.
Die geskiedenis van die politiek en die volkekunde toon dat identiteit dikwels ’n uitdagende slagspreuk en aansporing tot oorlog is. Op alle terreine en fronte van die lewe is die sterk neiging om te integreer en identiteit prys te gee deur alles gelyk te stel. Op rassegebied staan die identiteitskrisis in die branding.
Ons vind dit ook op kerklik-teologiese gebied – soos die godsdienswêreldparlement – waar alle godsdienste saamkom om ’n demonstrasie van integrasie en eenheid te lewer ongeag wat van die eenheid en geïntegreer-in-Christus word. Die sogenaamde integrasie-teologie word op die koninkryk van Christus toegepas. Die feit dat Christus werklik liggaamlik uit die dood opgestaan het, word ontken. Die gevolg hiervan is dat, vir hierdie standpunt, Christus se identiteit met sy dood vernietig is. Daar word gesê dat Jesus net in die hart, in die geloof van die eerste gemeente opgestaan het. Dit kom dus neer op net ’n geestelike en nie ’n liggaamlike opstanding nie.
As die opstanding van Jesus ’n versinsel is, is alles versin. Teenoor die miskenning van die liggaamlike opstanding en die ontkenning van die Here Jesus Christus se identiteit, leer die Skrif die behoud van identiteit. As Jesus ná sy opstanding aan sy apostels verskyn, gaan staan Hy in hulle midde (Joh 20:19), en sê dan: “Dit is tog Ek self” (Luk 24:39). Hy beklemtoon dit sterk. Hy sê letterlik: “Dit is tog Ek Self” (Grieks: ego eimi autos). Alle nadruk lê op “Ek Self”. Die identiteit van Jesus het nie met sy dood verlore gegaan nie. Deur sy opstanding red en bewaar die Here sy identiteit.
Dit is nie ’n skim wat voor die dissipels staan nie; hulle hallusineer nie; dis nie fantasie of fiksie nie. Dit is Jesus Self, die nimlike Hyself. Christus beklemtoon só die werklikheid van sy liggaamlike opstanding. Dit is dié anker, dié fondament van die Christelike evangelie. As daar een saak is waaroor die Bybel baie duidelik is, is dit dat die liggaamlike en historiese opstanding van Christus ewigheidsbetekenis gee – die gelowige se self, gees, siel en identiteit word gehandhaaf. Dit is die nut van die opstanding.
Dit is so ’n sterk identiteit dat dit in ’n sekere sin alle ander identiteite relativeer, in só ’n mate dat Paulus kon beklemtoon: Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één (Gal 3:28).
Ons ander identiteite word nie hierdeur opgehef nie. Dit word in die regte perspektief gestel. Die element van krampagtigheid en vreesagtigheid word daar uitgehaal. Christene gee dus nie hulle identiteit prys as Afrikaner, Duitser, Griek, Sotho, Xhosa of Zoeloe nie. ’n Mens hou nie op om Afrikaner of Jood, Duitser of Zoeloe te wees as jy ‘n Christen is nie. Jy word net ’n ander soort Afrikaner, Jood, Duitser of Zoeloe. Jy is ’n Christen-Afrikaner, ’n Christen-Jood, ensovoorts. Die Bybelfigure het nooit ontrou geword aan hulle identiteit as volk en nasionaliteit omdat hulle hoogste trou en lojaliteit onvoorwaardelik aan hulle God toegekom het nie.
Individue en groepe/volke se identiteit kom dikwels in ’n krisis. Dan kan sake nogal stormagtig verloop. Die beeld van ’n voël in vlug deur ’n loeiende storm beskryf dit treffend. As die vlerke verkeerd gespan is, sal die voël teen die kranse verpletter word. As die vlerke reg gespan is, sal die storm die voël bokant die kranse uitdra. My identiteit kan my teen die kranse verpletter, óf dit kan my op hoër vlugte neem.
God wil dat my identiteit deur sy Gees telkens nuut ingestel word. Ons het dus nie nuwe vlerke (identiteite) nodig nie. Dit is die instelling en verstelling van ons vlerke/identiteit wat saak maak. Jy kan nie jou identiteit verander nie, maar wel jou mentaliteit.
Dankie vir u reaksie
Daar was 'n fout met die instuur van u boodskap
Adres