Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Augustus 2021

Geen vrede in sig vir Israel, Palestyne in konflikgeteisterde Midde-Ooste

 

Op 21 Junie 2021 het Jaco Kleynhans, Hoof van Internasionale Skakeling van die Solidariteitsbeweging, ʼn byeenkoms, gereël deur die AB in die Noord-Kaap, toegespreek met die Israel en Palestina situasie as tema . Ons het hom gevra om vir ons ʼn artikel te skryf oor sy indrukke. 

_______________________________________

 Deur Jaco Kleynhans

Hoof van Internasionale Skakeling van die Solidariteitsbeweging


In die Bybel, in Joshua, word vertel hoe Israel die stad Jerigo in Kanaän in die jaar 1400 voor Christus verower het. Die Israeliete het vir ses dae lank, een keer per dag, met die Verbondsark om die mure van die stad geloop en nadat die priesters op die sewende dag op hul ramshorings geblaas het, het die mure van die stad omgeval en kon die Israeliete die stad uiteindelik verower. Oor die afgelope 3400 jaar het baie in dié gebied verander, maar een ding wat wel nie verander het nie is die voortdurende stryd om beheer van grondgebied.

 

Tydens die Israeliete se beleg van Jerigo het die Moslem-geloof natuurlik nog nie eers bestaan nie. Israel het iets anders beteken as die moderne Joodse staat wat in 1948 tot stand gekom het. Tog skep die lang geskiedenis van die gebied wes van die Jordaanrivier die basis van die Jode se historiese aansprake daarop.

 

Jerigo is vandag in die Palestynse Wesoewer geleë en meer as 3 400 jaar later duur die stryd om beheer van grond in die Wesoewer steeds voort. Die geskiedenis van die gebied wat vandag die Joodse staat Israel en die Palestynse gebiede in Gaza en die Wesoewer uitmaak, het natuurlik oor die afgelope 3 400 jaar voortdurend verander.

 

Die gebied het in 2000 v.C. uit verskeie Kanaänitiese stadstate bestaan. Daarna het die Koninkryke van Israel en Juda tot stand gekom wat weer in 800 v.C. deur die Assiriërs oorgeneem is en in 601 v.C. deur die Babiloniërs. In 539 v.C. het die Persiërs die gebied beset en tydens die 330’s v.C. het Alexander die Grote en sy Masedoniërs die gebied verower. Daarna het die onafhanklike Hasmonese Dinastie gevolg totdat die gebied in

63 v.C deel was van die Romeinse Ryk. Die Arabiere het vir die eerste keer in 636 v.C. die gebied beset. Daar is tydens verskeie kruistogte ook probeer om dele van die gebied, en spesifiek Jerusalem, te verower.

 

Daar was lang tye, selfs eeue, waartydens die gebied bykans totaal onbewoond was. Selfs so onlangs soos tydens die Ottomaanse Ryk se beheer oor die gebied was Jerusalem by tye ʼn stad met minder as 10 000 inwoners en was die meeste nedersettings in die gebied piepklein of grootliks onbewoon.

 

Die afgelope 100 jaar het die konflik om die beheer van wat eers in die laat 1800’s as die Palestynse gebiede bekend sou begin staan, egter ʼn nuwe dimensie gekry. Dit het soos in die geval van soveel ander konfliksituasies in die 19de eeu ʼn nasionalistiese stryd geword.

 

Dit is vanjaar 100 jaar sedert die eerste wesenlike konflik tussen die Jode en die Palestyne in 1921 uitgebreek het, ʼn konflik wat vir die volgende 100 jaar sou voortduur en vandag nog deel van die wese van die moderne staat Israel en die hedendaagse Palestynse gebiede is.

 

Volkere se reg op ʼn veilige en seker voortbestaan is gedurende die 19de en 20ste eeu toenemend deur die nasiestaat gekenmerk. Die val van eens magtige ryke ná die Eerste Wêreldoorlog het tot die geboorte van talle nasiestate aanleiding gegee.

 

ʼn Aanspraak op die reg op ʼn eie nasiestaat, gekoppel aan sterk historiese eise het aanleiding gegee tot die voortslepende geweld tussen die Palestyne en die Jode die afgelope 100 jaar. Die Palestyne en die Jode, wat hulle sedert die tweede helfte van die 19de eeu in die gebied begin vestig het, maak albei sedert die Ottomaanse Ryk ná die Eerste Wêreldoorlog tot ʼn val gekom het, aanspraak op die reg op ʼn nasiestaat in die betwiste gebied.

 

Wat die historiese aansprake aanbetref, is dit wel belangrik om die belangrikste merkers van die historiese besetting van die gebied te verstaan. Oor die eeue heen is die gebied waar die Palestyne en die Israeli’s vandag woon, deur Jode, Christene en later Moslems beset. Dit was egter vir die grootste deel van die geskiedenis ʼn ylbevolkte gebied. Selfs in 1922, toe die Britte ʼn sensus in die gebied onderneem het, het slegs 752 048 mense daar gewoon, waarvan 660 000 Arabiere (Moslems en Christene), 83 790 Jode en 7 617 van ander etniese groepe was.

 

Voordat Brittanje ná die Eerste Wêreldoorlog beheer oor die gebied gekry het, was dit deel van die Ottomaanse Ryk en is dit binne die Ottomaanse Ryk saam met die hedendaagse Sirië bestuur en beheer. In die geskiedenis was Jerusalem, hoewel ʼn belangrike stad vir Jode, Christene én Moslems, slegs twee keer die hoofstad van die gebied, en dit was in die Bybelse tye. Daarna het die Joodse diaspora begin en sou ʼn groot Joodse konsentrasie daar eers weer eeue later in die gebied voorkom.

 

Gedurende die tweede helfte van die 19de eeu het Jode uit veral Europa en Rusland hulle stelselmatig weer in die gebied begin vestig. Teen 1882 het slegs 21 000 mense in Jerusalem gewoon, waarvan breedweg 9 000 Jode, 7 000 Moslems en sowat 5 000 Christene was. Teen 1922, ten tye van die Britse sensus, was dit 34 000 Jode, 13 400 Moslems en 14 700 Christene.

 

Hoewel die Jode reeds sedert die 1800’s stelselmatig na die gebied, hul historiese tuiste, begin emigreer het, was dit veral die Balfour-verklaring in 1917 wat tot ʼn groot instroming van Jode in die gebied aanleiding gegee het. In die verklaring het die Britse minister van buitelandse sake, Arthur Balfour, die Britse regering verbind tot die ontwikkeling van ʼn Joodse tuiste in die Palestynse gebied. Gedurende die 1920’s en 1930’s het hierdie instroming van Jode voortgeduur, en die Tweede Wêreldoorlog en Joodse volksmoord in Europa het tot die dringendheid hiervan bygedra.

 

In 1921 het grootskaalse geweld vir die eerste keer tussen die Arabiere (Palestyne) en die Jode uitgebreek en dit sou lei tot verskeie oorloë voor en ná die totstandkoming van die Joodse staat, Israel.

 

Gedurende 1947 het die Verenigde Volke-Organisasie as oplossing vir die konflik voorgestel dat die gebied in twee aparte onafhanklike state verdeel moes word, naamlik ʼn Joodse Israel en ʼn Palestynse staat vir die Arabiere (Moslems en Christene) wat ook in die gebied gewoon het.

 

Die gebied wat in 1947 aan die Arabiere gegee sou word, is veel groter as die gebied wat die Palestyne vandag bewoon. Arabiese lande het egter negatief op die VVO se voorstel gereageer en het die gebied wat aan die Jode toegeken is uit Egipte, Jordanië en Sirië binnegeval. Die Jode het die oorlog gewen en die Israeliese staat is gebore.

 

Die probleem wat die Palestyne het, is dat die idee van ‘n Palestynse volk ‘n soort nuutskepping is. Die verwysing na Arabiere in die gebied as Palestyne het tydens die Ottomaanse era ontstaan, maar het nooit verwys na ʼn spesifieke kultuur en identiteit nie. Dit het eerder verwys na alle Arabiere wat in die gebied wes van die Jordaanrivier gewoon het.

 

Sedert die oorloë tussen Israel, die Palestyne en Arabiese lande in die 1960’s, was daar verskeie pogings om vrede tussen die twee groepe deur onderhandeling te bewerkstellig. Die belangrikste vordering is gemaak met die ondertekening van die Oslo-akkoord in 1993. Pres. Bill Clinton van die VSA het dit tydens sy twee termyne een van sy belangrikste prioriteite gemaak om deur onderhandeling ʼn tweestaatoplossing tussen Israel en die Palestyne te bewerkstellig. Uiteindelik sou dit kort voor sy vertrek uit die Withuis misluk toe Jasser Arafat en die Palestyne ʼn aanbod om die oprigting van ʼn Palestynse staat wat deur die VSA en talle ander lande ondersteun is, verwerp het.

 

Ná Clinton het Bush, Obama en Trump verskeie pogings aangewend om die tweestaatoplossing uit verskillende hoeke te probeer bevorder. Dit was sonder enige sukses.

 

Met die sluiting van vredesooreenkomste tussen Israel en verskeie Arabiese lande die afgelope ruk lyk dit toenemend onseker of enige Arabiese lande verder druk op Israel sal uitoefen om groot toegewings ten opsigte van ʼn toekomstige Palestynse staat te maak. Terwyl die internasionale konsensus steeds grootliks ten gunste is van ʼn tweestaatoplossing, waarvolgens die Palestyne dus ook ʼn eie staat kry, is daar min aptyt onder sowel Westerse as Arabiese lande om té veel tyd en aandag hieraan te wy.

 

Intussen duur die konflik voort met gereelde geweld wat tussen Israel se veiligheidsmagte en die Palestyne aan die Wesoewer en veral met die Hamas-beweging in die Gaza-strook uitbreek. Israel het sy beheer oor besette woongebiede aan die Wesoewer die afgelope tien jaar wesenlik uitgebrei en die Palestyne se woongebiede is steeds besig om te krimp.

 

As ʼn mens na die VVO se voorstel in 1947 en die Amerikaans-geleide voorstelle in 2000 gaan kyk, is die Palestyne nou in ʼn veel swakker posisie as wat hulle ingevolge hierdie voorgestelde ooreenkomste sou wees. Daar kan lank gedebatteer word oor die legitimiteit van hul redes om nie tot hierdie twee voorstelle en tot ander voorstelle vir ʼn eie staat in te stem nie.

 

Die werklikheid is egter dat die staat Israel ʼn gegewe is. In die 1950’s en 1960’s kon ʼn mens nog wonder oor die volhoubaarheid daarvan. Die reg om as ‘n staat voort te bestaan is egter met talle suksesvolle oorloë bevestig. Vandag twyfel byna niemand meer oor die volhoubaarheid van Israel as ʼn Joodse staat nie.

 

Die Midde-Ooste is ʼn streek ryk aan voorbeelde van historiese eise om grondgebied. Talle volkere soos die Koerde en die Assiriërs bewoon die gebied reeds duisende jare en is vandag sonder ʼn eie land waar hulle oor hul eie lot kan beskik. Terwyl die Christendom in die gebied tot stand gekom het, het die Christenbevolking die afgelope twee dekades in duie gestort en heers groot onsekerheid daaroor of daar oor ʼn paar jaar nog volhoubare Christengemeenskappe in die streek gaan wees.

 

Die konflik tussen die Jode en die Arabiere is deel van ʼn groter stryd in die Midde-Ooste om beheer van strategiese grondgebied, maar ook grondgebied waarop daar vanweë geloofs-, kulturele en ander redes ʼn sterk historiese aanspraak bestaan. Deur die eeue is die Midde-Oosterse kookpot deur verskillende ryke beheer en is opstande, eise vir onafhanklikheid en die groot sektariese en ander strydpunte met mag en mening onderdruk.

 

Ná die Eerste Wêreldoorlog het dit tot ʼn einde gekom en die uitdaging van nuwe landsgrense, hernude historiese aansprake en die ekonomiese mag wat die ontdekking van olie vir talle Arabiese lande gebring het, gepaardgaande met volgehoue Westerse betrokkenheid, die stryd om mag en invloed deur verskillende Arabiese en ander groepe in die streek en uiteindelik die opkoms van nuwe Islamitiese terreurgroepe het ons by ʼn punt gebring waar die Midde-Ooste tans al verder wegsink in wanorde en geweld.

 

Terwyl die Weste besig is om aan die Midde-Ooste te onttrek, enersyds weens die groeiende stryd teen China en andersyds weens die kwynende rol van olie in geopolitieke vraagstukke, besef die ryker Golflande dat hulle ekonomies moet diversifiseer en veral sterker bande met die VSA moet aanknoop om in die toekoms ekonomies suksesvol te bly, sou die rol van olie in die globale energiemark begin kwyn.

 

Dit maak dus sin dat ryker Arabiese lande om ekonomiese redes ook met Israel wil saamwerk. Israel is immers ʼn uitsonderlike ekonomiese suksesverhaal in die streek.

 

Vir die Palestyne lyk die toekoms dus onseker. Terwyl Libanon in groter chaos verval en Sirië en Irak deur oorloë en Islamitiese terreur verwoes is, het Turkye sy eie politieke en ekonomiese probleme. Ook Iran, wat naby aan die Palestyne staan, het groot ekonomiese skade weens Amerikaanse sanksies gely.

 

Die mees logiese uitkoms vir die konflik tussen Israel en die Palestyne, minstens oor die kort tot medium termyn, is dus voortslepende konflik en geweld, veral vanuit die Gazastrook. Dít, gepaardgaande met ʼn onstabiele streek, skep ruimte vir Israel om ter wille van sy eie beveiliging ook in lande soos Sirië en Libanon betrokke te raak.

 

Vredesonderhandelinge vir die oprigting van ʼn Palestynse staat is vir eers op die globale agtergrond. Die stabilisering van Irak, Sirië en Afganistan is nou prioriteite saam met die onderhandeling van ʼn ooreenkoms met Iran om dié land se kernaspirasies te temper.

 

Dit is altyd makliker om die verlede as die toekoms te probeer ontleed. Die les uit die verlede vir die toekoms van die Midde-Ooste is egter dat groot dinge sal moet gebeur om al die kleiner strydpunte in die streek by te lê. Sonder die mag van ʼn groot ryk of die invloed van ʼn imperialistiese mag of selfs net die gemene wil om uitkomste te vind, kan ʼn mens nie anders as om te voorspel dat die Midde-Ooste vir nog lank deur konflik gekenmerk sal word nie.


Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: