• 8 metropolitaanse munisipaliteite
• 44 distriksmunisipaliteite
• 205 plaaslike munisipaliteite
• Daar is 4 468 wyke regoor die land en die aantal raadslede in elke munisipaliteit word bepaal deur die aantal wyke en die proporsionele verteenwoordigingstelsel. (Die afbakeningsraad is tans nog besig met werk in die verband.)
Alhoewel die nasionale verkiesing op 29 Mei 2025 ʼn belangrike verkiesing was, is die 2026 plaaslike regeringsverkiesing ʼn waterskeiding. Prof Theo Neethling van die Universiteit van die Vrystaat skryf op 19 Januarie 2025 in The Conversation soos volg: “Openbare vertroue in staatsinstellings het sedert 1994 gekwyn, veral op munisipale vlak. Daar is deurlopende betogings teen die swak – of gebrek aan – lewering van basiese dienste, insluitend water en sanitasie. Al meer gewelddadige betogings weerspieël toenemende ontevredenheid.”
Voorts skets die Ouditeur-Generaal se 2022/23 verslag 'n ontstellende prentjie van plaaslike regerings se vermoë om openbare fondse doeltreffend te bestuur, met slegs 13% van munisipaliteite (34) wat skoon oudits ontvang het.
Afwenteling van mag en gesag
Deur ons Christen Demokrasie dokumente van 2017 en 2018 het ons die klem geplaas op die wenslike beginsel van subsidiariteit wat sterk deur federalisme ondersteun word. “In ʼn gedifferensieerde samelewing is ʼn kern ordeningsbeginsel dié van subsidiariteit. Dit beteken dat besluite altyd geneem moet word op die laagste moontlike vlak deur diegene wat daardeur geraak word. Niks moet deur ʼn hoër en meer komplekse organisasie gedoen word wat net sowel en beter gedoen kan word op ʼn meer eenvoudige en laer vlak nie.”
Subsidiariteit is belangrik ter voorkoming van sentralisasie en magsmisbruik. Dit bevorder ook groter burgerlike deelgenootskap aan die demokrasie op vele vlakke. Daar rus ʼn plig op die burgery om as waghond op te tree om te voorkom dat plaaslike aangeleenthede geëskaleer word tot hoër vlakke van besluitneming. Die konsep van federalisme vind hierby aansluiting en is in Suid-Afrika onder meer relevant vir besinning oor die magte van provinsies en stadsrade.”
Plaaslike regering is die regeringsfeer wat die naaste aan die mense is, en dit is noodsaaklik dat dit doeltreffend funksioneer. Ons kan gevolglik nie toelaat dat die voortgesette wanbestuur van plaaslike regering op soveel vlakke net maar voortgaan nie. Saam met ander organisasies pleit die Afrikanerbond en bevorder ons vir verbeterde bestuur en aanspreeklikheid op plaaslike vlak, om te verseker dat ons munisipaliteite die beste belange van hul gemeenskappe dien.
Wat kan ons doen?
Die 2026 plaaslike regeringsverkiesing in Suid-Afrika bied 'n uitstekende geleentheid vir Suid-Afrikaners om 'n positiewe impak te maak op hul gemeenskappe. Dit is nou die tyd om betrokke te raak en aktief deel te neem aan die soeke na oplossings vir die uitdagings wat ons plaaslike regerings in die gesig staar. Die verval van infrastruktuur, dienslewering en gemeenskapsbetrokkenheid kan daarom net omgekeer word as elkeen 'n rol speel.